Doodsondersoek na Enyobeni-tragedie op eerste dag uitgestel

Ondersoekers op die toneel by die Enyobeni-taverne. (Foto: AFP)

Die geregtelike doodsondersoek na verlede jaar se Enyobeni-taverne-tragedie het Donderdag in die streekhof in Oos-Londen begin, maar is kort daarna tot later vandeesmaand uitgestel.

Die geregtelike doodsondersoek is tot 11 September uitgestel sodat die staat die dossierinhoud aan die hof en die regsverteenwoordigers van die partye kan verskaf, het Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê. Dit is ook na die Mdantsane-streekhof geskuif omdat daar nie genoeg plek in die streekhof is nie.

Barry Madolo, Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolgings, het in April besluit dat ’n geregtelike doodsondersoek deur ’n streekhoflanddros gehou moet word om vas te stel of iemand strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die 21 minderjariges se dood in die taverne.

“In hierdie stadium is dit onduidelik wat die voorval veroorsaak het en daarom het die staat geweier om te vervolg. Tydens die geregtelike doodsondersoek sal daar van getuies, onder andere kundiges, ooggetuies en die eienaars van die Enyobeni-taverne, verwag word om getuienis af te lê.”

Intussen het die staat sy saak teen Vuyokazi en Siyakhangela Ndevu, die egpaar wat die taverne besit, in Augustus gesluit en hulle moet weer in Oktober in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle drank verskaf het. Die egpaar het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

Altesaam 17 tieners is in die Enyobeni-taverne dood en nog vier op pad na hospitale nadat hulle simptome soos ʼn toegetrekte bors, braking en kopseer begin ondervind het. Die kinders was almal tussen 13 en 17 jaar oud.

Maroela Media het vroeër berig dat die kinders glo versmoor het omdat die taverne oorvol was. Dit is deur die Oos-Kaapse departement van gesondheid aan die kinders se ouers meegedeel. Hulle is egter toegang tot die toksikologieverslag geweier.

Die owerhede het vroeër gesê daar was klaarblyklik metanol en alkohol in die oorledenes se bloedstroom ten tyde van hul dood. Daar is bygevoeg dat daar nog nie afdoende bewyse oor die presiese oorsaak van die tieners se dood is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Nog ‘n saak wat meer as ‘n dekade sal aandrentel. Is is die betrokke regsgeleerdes se manier om groot geld te maak?

KB ·

Als word “uitgestel”, “oorsake is onduidelik”…dis ʼn siekte van die tyd in SA. Net om later te hoor “die getuienis was onvoldoende”.
In watse land woon ons? Is dit slegs die regsstelsel (SAPD ingesluit) wat verrot, of is dit swak joernalistiek/onbetrokkenheid van die publiek?
Wat ʼn land, wat ʼn gemors.

Juanita ·

Daar moet vasgestel word of iemand strafregtelik aanspreeklik gehou moet word? Is dit nie reeds ‘n wetsoortreding dat die kinders daar toegelaat is en drank bedien is nie? Hulle moes nooit daar gewees het nie. Hoe kan ouers die toksologieverslag geweier word? As iemand toegang tot dit moet hê is dit die ouers! Ek sal nooit die land se regstelsel verstaan nie.

Alet ·

Ek wil net weet wat soek ‘n 13 jarige in ‘n taverne? Ongelukkig het die verval van die jeug net so vinnig soos die verval van die land gebeur omdat kulturele verskille en waardes nie dieselfde is nie.

Sê maar net ·

Baie vreemd dat sake deesdae altyd so vreeslik lank uitgestel word…..
In die ou dae het mens nooit van so-iets gehoor nie. Slegs as die polisie nog na leidrade gesoek het.
Nou word sake uitgestel as ‘n regsverteenwoordiger ‘n hoofpyn het.
Afrika-tyd is ‘n pyn in die alie. Sake sloer jare lank en kostes word met honderde- duisende Rande opgejaag. Ten koste van belastingbetalers….Onaanvaarbaar!

Dromer ·

Staat het geweier om te vervolg….. Dis n grap. Ek sou dink die staat moet juis vervolg omdat 13-17 jariges in die hool was. Hulle moes dadelik uitgejaag geword het. En die kinders moes vir hul ouers se nommers gevra geword het. Maar n R 10 wat hulle maak in daai hole is R10 nader aan net nogggg n lewe waf verwoes word. Net nog n aanranding of mishandeling wat gepleeg kan word agv drank. Nog n verkragting wat wag om te gebeur. Dis pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.