#Dorplitiek: Sterk gemeenskap hou Oos-Vrystaat staande

Frankfort, Oos-Vrystaat, sonkragplaas, sonkrag, Eskom, Nersa, elektrisiteit, Vrystaat, Mafube-munisipaliteit

Die Mafube-munisipaliteit in Frankfort. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

In die Mafube-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat gaan dit beroerd. Die ANC-regering het skynbaar dorpe soos Villiers, Tweeling en Frankfort tot in die grond in bestuur en kommer heers oor onwettige storting, besoedeling van waterbronne en ʼn tekort aan krag.

Daarom het inwoners nou self ingespring om te red wat daar te redde is en onafhanklik van die staat te funksioneer.

Die Mafube-munisipaliteit is in Junie 2022 onder administrasie geplaas, maar weinig vordering met dienslewering is skynbaar gemaak. Maroela Media het Frankfort in die aanloop tot die nasionale verkiesing in Mei vanjaar besoek.

Hier sal inwoners vinnig vir jou sê hoe hulle voel oor die regering op plaaslike sowel as nasionale vlak.

Woorde soos “nutteloos” en “onbevoeg” word gereeld gehoor as daar van die Mafube-munisipaliteit gepraat word.

Vrystaat, dorp, Frankfort, dienslewering, dorpletiek, stortingsterrein

Motoriste moet stadig oor die slegte paaie in Frankfort. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Mafube se sakeforum het in April 2022, saam met AfriForum, ʼn bevel van die hof gekry wat die Vrystaatse premier sou dwing om dié munisipaliteit onder administrasie te plaas en dringend ʼn finansiële herstelplan in te stel. Daar moes ook dringend by die rioolinfrastruktuur ingegryp word om besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier stop te sit. Hoewel die munisipaliteit toe wel ʼn paar maande later onder administrasie geplaas is, het min van die ander maatreëls gekom.

Hans Pretorius, voorsitter van Mafube First, ʼn gemeenskapsorganisasie wat geregistreer is om aan plaaslike verkiesings deel te neem, sê die munisipaliteit is bankrot en stuur jare lank al nie meer enige rekeninge aan sy inwoners nie. “Hoe kan hulle verwag dat hul geldsake moet klop?” wil hy weet.

Tydens Maroela Media se besoek was tekens van dié wanbestuur oral sigbaar.

Vrystaat, dorp, Frankfort, dienslewering, dorpletiek, stortingsterrein

‘n Onwettige stortingsterrein het by die plaaslike golfklub ontstaan. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Asblikke in die dorp se sakekern het oorgeloop en motoriste en voetgangers het gestoei vir plek op die sypaadjie. Slaggate was orals te sien, selfs in die stiller strate in woonbuurte.

ʼn Groot seeroog is die hope en hope vullis wat onwettig agter die plaaslike gholfklub gestort word.

Volgens Erika Lessing, voorsitter van Mafube Toerisme, het inwoners reeds AfriForum genader om in te gryp. Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake, het bevestig daar is kommer dat dié stortingsterrein die Wilgerivier, wat deur Frankfort loop, besoedel.

“Ons is besig om al die nodige inligting in te samel sodat die Groen Skerpioene genader kan word. Want al is dit ʼn informele stortingsterrein het die plaaslike munisipaliteit steeds ʼn verantwoordelikheid om dit in stand te hou,” sê De Klerk.

Strewe na onafhanklikheid

Inwoners weet hulle kan nie meer staatmaak op die regering om verandering te bring nie.

“As jy ʼn verskil in jou gemeenskap wil sien, dan moet jy dit self doen,” sê Pretorius.

Hy is een van die aandeelhouers van ʼn sonkragplaas by Frankfort wat dié dorp van krag voorsien, in ʼn poging om die uitwerking van beurtkrag en ander kragonderbrekings hok te slaan.

Danksy dié projek deur Rural Free State, sal Villiers, Tweeling en Frankfort binnekort glad nie meer deur beurtkrag geraak word nie. Heidi du Plooy, jare lange inwoner en eienaar van Von Krotz Kennels in Frankfort, sê as dit nie vir sonkrag was nie, het Frankfort dalk nie vandag meer bestaan nie.

RFS het ook planne om ʼn agri-dorp te begin en die sonkragplase so uit te brei dat dit nuwe beleggings en ontwikkeling na die streek sal lok. “Ons plan is om ʼn hidroponiese plaas te bou wat kos aan die dorp kan verskaf. Ons wil uiteindelik heeltemal onafhanklik van die staat funksioneer.”

Pretorius sê die dorp is in ʼn bevoorregte posisie omdat die streek baie water het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.