Drankhandelaars verwerp tabakwetsontwerp

Argieffoto (Foto: Markus Spiske / Pixabay)

Die Gautengse drankhandelaarsvereniging (GLTA), ʼn organisasie wat meer as 35 000 drankhandelaars in die provinsie verteenwoordig, versoek dat die wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese afleweringstelsels (Tabakwet) verwerp moet word, aangesien dit onuitvoerbaar is in die township-ekonomie, groot skade aan klein ondernemings sal aanrig, en dat betrokke partye nie behoorlik gekonsulteer is nie.

Dit volg op die onlangse openbare verhore van die parlement in Gauteng, waar die meerderheid van diegene wat dit bygewoon het, die wetsontwerp verwerp het.

GLTA, wat die verhore bygewoon het, sê hulle is teleurgesteld dat die parlement die datums vir die openbare verhore aan die einde van die maand geskeduleer het – die besigste tyd vir taverne-eienaars – wat die ergste deur die wetsontwerp geraak sal word. Die organisasie sê ook dat baie van diegene wat moeite gedoen het om dit by te woon, weggestuur is omdat die lokaal te klein was, en dit beteken dat baie bekommernisse nie aangehoor is nie.

Thabo Thlobelo, uitvoerende komiteelid van GLTA, sê die parlement het ‘n verantwoordelikheid om die sienings van die publiek in ag te neem, veral dié wat die ergste deur voorgestelde wetgewing geraak sal word.

“Baie mense is verlede naweek óf deur sekuriteitswagte of polisie weggestuur, óf is nie die geleentheid gegee om gehoor te word nie. Eers ná ‘n paar protesaksies is ‘n handjievol mense toegelaat om na die lokaal toe te gaan en hul sê te sê, maar teen daardie stadium het baie al vertrek. Die komitee het ook die verhore aansienlik verkort, wat baie kommerwekkend is. Dit is onaanvaarbaar in ‘n demokrasie.”

GLTA glo die Tabakwet is onuitvoerbaar in Suid-Afrikaanse townships en sal skade aanrig aan klein besigheidseienaars wat hard werk om besig te bly en genoeg geld te maak om hul gesinne te voed.

Hul bekommernisse sluit in dat die wetsontwerp ‘n totale verbod op die vertoning van alle tabakprodukte, ʼn verbod op snoepgoed-outomate en ʼn verbod op die verkoop van los sigarette voorstel.

“Miljoene mense in ons land verkoop los sigarette om te help om kos op die tafel te sit,” voeg Thlobelo by. “Wanneer mense kroeë besoek, koop hulle ‘n drankie en ‘n sigaret. Hulle wil nie, of kan nie ‘n pakkie van 20 bekostig nie, en dit is verrassend dat die departement van gesondheid daarvoor sou pleit, gegewe dat dit beter is vir mense om minder te rook, nie meer nie.”

Volgens Thlobelo beteken die verbod dat taverne-eienaars tien jaar tronkstraf opgelê kan word indien hulle ‘n pakkie of selfs ‘n enkele sigaret op die toonbank laat lê, wat ook baie onbillik is. “Mense wat kroeë besit, is verantwoordelike besigheidseienaars, snoepgoed-outomate word sorgvuldig gemonitor, en ons verkoop nie sigarette aan diegene onder die ouderdomsgrens nie.”

GLTA is ook bekommerd dat die wetsontwerp ‘n reeds massiewe onwettige mark sal bevorder.

Jongikhaya Kraai, woordvoerder vir GLTA, sê die Covid-19-tabakverbod het die mark vir sluikhandel in ons voorstede en townships oopgemaak. “Die verskeie verbiedings in die wetsontwerp, insluitend die voorstel dat alle pakkies sigarette presies dieselfde verpakking moet hê, met die enigste verskil die klein naam van die handelsmerk, alles in dieselfde lettertipe, gaan dit baie maklik maak vir onwettige produkte om hul markaandeel te vergroot. Hierdie soort beperkings mag dalk werk in ander, meer ontwikkelde lande, maar dit werk nie hier waar die gevolge van swak wetgewing enorm is nie.”

Volgens Kraai het die SAPD voor die pandemie gereeld township-ondernemings besoek om te kyk of hulle egte of onwettige produkte verkoop. “Hierdie wetstoepassing het heeltemal opgehou. Ons moet terugkeer na die tekentafel om doeltreffende maniere te vind om die onwettige handel te bestuur sonder om verantwoordelike, hardwerkende handelaars te straf.”

Die wetsontwerp bepaal ook dat die minister, deur regulasies, oor die afstand van ʼn deur of venster waar ʼn persoon mag rook, sal besluit. Die vorige minister van gesondheid het gesê hierdie afstand sou 10 meter wees.

“Daar is eenvoudig geen 5, 10 of selfs 15 meter ruimte vir rook in ons oorbevolkte townships nie. Weereens mag dit dalk werk in die blomryke voorstede van Sandton of Kaapstad, maar dit kan nie in enige township in ons land werk nie, waar deure en vensters ‘n paar meter van mekaar af is. As kroeg-eienaars moet ons altyd die veiligheid van ons klante in ag neem, en dit is baie onveilig om hulle te vra om vir lang afstande te loop om ‘n wettige plek te kry om te rook. As hierdie voorstel nie uit die wetsontwerp verwyder word nie, moet minstens elke township daarvan uitgesluit word.”

Argieffoto (Foto: Lindsay Fox / Pixabay)

Taverne-eienaars is ook bekommerd dat die departement van gesondheid en die parlement nie die punt van skadevermindering raakgesien het nie deur e-sigarette en ander nuwe produkte in dieselfde kategorie as sigarette te reguleer. “Die hele wêreld beweeg weg van sigarette na produkte wat minder skade veroorsaak omdat dit nie brand nie. Dit is betreurenswaardig dat die regering nie produkte aanmoedig wat duidelik beter vir jou is as sigarette nie. Ons pleidooi is dat die regering eerder daarop moet fokus om te verseker dat hierdie produkte binne bereik is vir arm gemeenskappe, soos dié wat in ons townships woon. Daar moet geen rede wees waarom ons mense agtergelaat word nie,” voeg Kraai by.

“As burgers verwag ons van die parlement en ons regering om wetgewing te ontwikkel wat ons baie unieke omstandighede in ag neem, beide as ʼn land en as mense wat in townships woon. Dit was baie duidelik dat die groot meerderheid van diegene wat die afgelope naweek na die openbare verhore gekom het, die wetsontwerp verwerp het. Dit sal wys wees as amptenare na hul mense se stemme luister,” sluit Thlobelo af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jannie ·

wens die regering wil soveel passie aan die dag lê met die uitroei van korrupsie

Anel ·

Hoeveel werkloosheid wil hulle nog veroorsaak? Los die mense dat hulle hul sigarette verkoop soos hulle wil. Die handelaars lewer ‘n diens en sorg vir kos op die tafel. Of verkies die regering onwettige handel waar hulle ‘n vinger in die “pie” het. Sekeres van hulle het lekker geskep tydens die onwettige pandemie! En moennie die onwettige pakistanies vergeet wat te lekker onwettige sigarette verkoop nie! En ek haat rook, maar as mense wettig probeer bestaan, los hulle. Pleks bemoei dit regeting hom om ware korupsie te beveg, om die ligte aan te hou, en nog meer.

Johann ·

Snaaks dat die ANC díe een deurdruk? The people gaan niks daarvan hou nie.

Highlander ·

Daar is wereldwyd n heksejag teen rook. En ek begin te verstaan hoekom. Ek was 15 toe ek my eerste sigaret gerook het. Skelm natuurlik. Vanaf 15 tot 24, het ek nie eenmaal verkoue of griep gekry nie. Toe doen ek wat die kerk versoek en hou op rook. Die volgende jaar kry ek n brongitis uit die hel uit. En toe ten minste eenmaal per jaar verkoue / griep. Nege jaar gelede besluit ek bogger alles en begin weer rook. En sedertdien nie n snotneus nie. Nie eersin lockdown.

Martie ·

Daar is hopeloos te veel wette in SA. Miskien as daar minder is sal die wat daar is gehoorsaam word.

SjN ·

Belaglik, hou hul op met twak, daar is veel erger wetgewing wat moet aandag kry.

Brombeer80 ·

Plaas ruk die regering die land se infrastruktuur en staatsdienste soos die polisie en hospitale reg en los onnodige wetsveranderinge wat net belastingbetalers se geld mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.