Dreigende krisis weens besnoeiing van maatskaplike toelaes

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Andrew Moca/Unsplash)

Nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat op maatskaplike ontwikkeling gefokus is, is bekommerd oor die pad vorentoe nadat hulle diensvlakooreenkomste van die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) ontvang het, wat stipuleer dat ʼn groot deel van hul toelae besnoei word.

Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, het in ʼn brief aan Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, sy kommer oor die situasie te kenne gegee. Hy sê die organisasie sal nie skroom om regstappe teen die departement “vir hierdie eensydige besluit” te doen nie.

“Solidariteit Helpende Hand werk onafhanklik van die staat, maar ons weet die staat het ʼn bepaalde verantwoordelikheid en plig teenoor NRO’s wat die rol van die staat vervul.”

Die departement het vroeër vandeesmaand bekend gemaak dat hy die finansiering vir NRO’s wat op maatskaplike ontwikkeling gefokus is, besnoei. Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk het reeds gesê die besnoeiings van begrotings gaan verreikende gevolge hê.

Noëth sê daar is onlangs ʼn informele vergadering gehou in ʼn poging om ʼn oplossing vir die dreigende krisis te vind. Helpende Hand en verskeie ander NRO’s het die vergadering bygewoon.

Die meeste van die organisasies sê dat hul subsidies met tussen 50% en 60% besnoei is. In sommige gevalle daal die subsidie vir maatskaplike werkers se salarisse boonop ook met sowat R5 000 per pos.

“Hoewel die subsidie gesny word, word die werkslading nie minder nie en daar mag boonop nie minder personeel gebruik word om die werk te verrig nie,” sê Noëth.

Die departement het glo die diensvlakooreenkomste stuksgewys vir organisasies gestuur en hulle slegs twee dae gegee om dit te onderteken. Sommige organisasies sê dat hulle baie druk van die departement ontvang het om dit te onderteken, al stem hulle nie saam daarmee nie.

Een van die organisasies sê amptenare van die departement het by sy kantore opgedaag en geëis dat hulle die ooreenkoms onderteken, terwyl ander organisasies nog nie eens ʼn diensvlakooreenkoms ontvang het nie.

“NRO’s is bekommerd dat hulle nie genoeg tyd het om die gevolge van die besnoeiings op die begrotings te bereken, of selfs regsadvies daaroor in te win nie,” sê Noëth.

“Die ander bekommernis is dat hulle alle subsidies gaan verloor indien hulle nie die diensvlakooreenkoms onderteken nie. Dit sal beteken hulle kan nie salarisse betaal nie.”

Die besnoeiings veroorsaak dat NRO’s niks het om op terug te val nie, en daarom die gevaar loop om hul deure permanent te sluit.

Helpende Hand is bekommerd dat, sou té veel NRO’s genoop word om te sluit, dit ʼn geweldige uitwerking gaan hê op die dienste wat sulke organisasies tans lewer.

“Daar is nie werklik vertroue dat die regering hierdie dienste sal kan oorneem as die NRO’s nie meer bestaan nie.”

Helpende Hand dring in sy brief aan dat die besluit om toelaes te verminder heroorweeg word en dat daar saam met organisasies gewerk word om ʼn volhoubare oplossing te vind “wat verseker dat die regte van alle Suid-Afrikaners beskerm word”.

“Ek is teleurgesteld in die departement se besluit wat geneem is sonder behoorlike raadpleging en oorweging van die uitwerking daarvan op mense wat op hierdie organisasies staatmaak vir ondersteuning,” sê Noëth in sy brief aan die minister.

Solidariteit Helpende Hand sal ander instellings raadpleeg oor die moontlikheid van litigasie indien die staat voortgaan met hierdie eensydige besluit.”

Die betrokke NRO’s het reeds ʼn komitee op die been gebring wat hul belange by die departement verteenwoordig. Regstappe word nie uitgesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mariana ·

Snaaks dat daar altyd geld is vir allerhande goed behalwe vir wat belangrik is.

Anel ·

Nou wat wil hulle met die geld maak as dit nie gaan wasrvoor dit bedoel is nie? Hulle wil mos vir elkeen wat ‘n kleintjie kry ‘n toelaag gee, vir die wat sit en niks doen ook geld gee. Skep werk vir die werkloses dan sal daar minder maatskaplike probleme wees. Hou ook op om vir kinders wat kinders kry toelaes te gee. Stel ‘n ouderdoms bepwrking in. Dalk dink die kinders 2 keer voor hulle hulle met grootmens dinge besig hou en konsentreer om ‘n behoorlike opvoeding en werk te kry.

Republikein in die Wes Kaap ·

R47 miljard vir jonges om te studeer. Sommer R5 miljard word gegee aan studente wat nie eers kwalifiseer nie.

melaney ·

Baie NRO’s ontvang al lankal nie toelaes nie. So, enige besnoeiing sal hulle nie raak nie. Maar vorentoe sal Jan Publiek net armer word.

Koos 100 ·

Die R350 vir die wat nie wil of kan werk nie, grootliks ook te danke aan ons huidige regering en hulle korupsie en onosele beleide, moet iewers van gesubsudieer word.
Daar is mos al lankal gesê dat geen regering enige iets aan iemand kan gee sonder om iets van ‘n ander te neem nie!

domheks ·

Kyk hoe lyk ons land. Nou wil hulle nog NRO’s se geld gebruik om ‘druggies’ te rehabiliteer! Waar kry die ‘druggies’ geld vir die dwelms? Nou moet kinders en gestremdes daaronder lei.

Pinoccio ·

Biljoene word uitbetaal aan nie-kwalifiserende studente maar aan organisasies wat noodsaaklike dienste verrig moet krummels kry!

skurweberg ·

Indien hierdie saak gaan slaag, behoort dit ‘n wekroep te wees vir almal wat meer verdien as wat hulle nodig het om van te leef.

skurweberg ·

Baie hard om hier beginsel toe te pas. Om self en jou medems te laat oorleef is ‘n element van rentmeesterskap omdat niks aan ons behoort nie.

Lillian ·

Subsidies vir noodsaaklike dienste word gesny, maar die 2 privaat tronke se biljoen rand ‘n maand word stiptelik betaal, elke maand aan G4S en GCS.

skurweberg ·

Die tyd om te begin praat oor kinders van 10 tot 18 jaar oud is en wat kinders in die wêreld bring is nou. Onbeplande bevolkingsgroei, terwille van geld is erger as die gevaar wat Atmosferiese en huidige Maatskaplike besoedeling vir ons oorlewing inhou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.