Drie beseer toe wildreservaat brand

Só lyk die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary nadat ‘n veldbrand vandeesweek na die reservaat versprei het. (Foto: Kevin Richardson Wildlife Sanctuary/Facebook)

Twee personeellede van die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary in die Dinokeng-natuurreservaat het vandeesweek ernstige brandwonde opgedoen toe ’n veldbrand na die reservaat versprei het.

Die beseerde personeellede het hand bygesit om die vlamme te probeer blus terwyl ander personeellede inderhaas gespook het om al die reservaat se diere na veiligheid te bring voordat verskeie kampe deur die vlamme vernietig is.

’n Halfgeboude lodge het in die voorval tot op die grond afgebrand terwyl skade aan heinings en ander toerusting aangerig is.

Die Kevin Richardson-bewaringstigting bestempel die brand as die ergste nóg in sy afgelope nege jaar op die eiendom.

Die stigting sê in ’n verklaring ’n veldbrand het Dinsdag van ’n buurplaas na die reservaat versprei. Dit is nie presies duidelik hoe die brand ontstaan het nie hoewel die vlamme weens ’n sterk wind vinnig na die reservaat se eiendom beweeg het.

Só lyk die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary nadat ‘n veldbrand vandeesweek na die reservaat versprei het. (Foto: Kevin Richardson Wildlife Sanctuary/Facebook)

Die stigting sê die hele plaas was in ’n stadium in vlamme gehul en die brand het in drie verskillende rigtings versprei.

Die reservaat se diere, waaronder jagluiperdwelpies, is almal net betyds in hul nag-en-voerkwartiere van sement toegemaak voordat die wind van rigting verander het en die vlamme sewe kampe verswelg het.

Drie mense het brandwonde opgedoen toe die wind van rigting verander en hulle onkant betrap het. Hulle was genoodsaak om deur die vlamme na veiligheid te hardloop.

Johann Swart – paramedikus operasionele bestuurder by APA EMS, het aan Maroela Media gesê een van die pasiënte het ernstige brandwonde aan sy arms, gesig, nek, maag en bene opgedoen en is per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem vir mediese behandeling.

Só lyk die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary nadat ‘n veldbrand vandeesweek na die reservaat versprei het. (Foto: Kevin Richardson Wildlife Sanctuary/Facebook)

’n Tweede pasiënt het brandwonde aan albei arms opgedoen en is per ambulans na die Montana-hospitaal vervoer terwyl ’n derde pasiënt se wonde op die toneel behandel kon word.

Dié pasiënt – ʼn kontrakteur wat aan heinings by die reservaat werk – was glo later weer in staat om die vlamme te help blus.

Personeel van die Dinokeng-natuurreservaat en Working on Fire het intussen voorbrande gemaak om te verhoed dat die brand na ander plase en ander dele van die eiendom versprei.

Die brand kon eindelik ná vier uur se gespook onder beheer gebring word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Baardman ·

Dit is presies duidelik hoe die brand ontstaan het. Brandstigting met die doel om te verwoes. Hier is iets groter aan die gang in die land as wat ons dink. Hulle planne is reeds gemaak.

Rooikoos ·

Nog ‘n brand. Daar is basies elke dag ‘n brand erens in Suid Afrika. Iets is besig om te broei…

Sarel ·

Net soos met ander brande sal ons seker nooit weet hoe
Ontstaan het nie…dit bly egter vraag of Bestuur
Voorsorg teen Brande getref het.

Swerwer ·

Ai, so bly die diere kon gered word. Wanneer gaan hierdie ooit eendag stop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.