Drie dood, een beseer toe vliegtuig by Emalahleni neerstort

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Drie mense is dood en een ernstig beseer toe ʼn ligte vliegtuig Sondagmiddag in Emalahleni in Mpumalanga neergestort het.

Die noodlottige ongeluk het naby die plaaslike vliegveld aan die buitewyke van die dorp gebeur.

Gavin Cooper, woordvoerder van Legacy- mediese nooddienste, sê die oproep vir bystand het omstreeks 15:45 gekom.

Die wrak van die ligte vliegtuig was by paramedici se aankoms in vlamme gehul. Werknemers van ʼn nabygeleë myn het paramedici te hulp gesnel en die vlamme geblus.

ʼn Volwasse man, vermoedelik 40 jaar oud, het veelvuldige brandwonde en ander beserings opgedoen. Hy is op die toneel behandel voordat hy na die Witbank-provinsiale hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Die man het aangedui dat daar nog drie insittendes, onder wie die vlieënier, in die vliegtuig was toe dit neergestort het. Die drie mense het onherkenbaar verbrand, sê Cooper.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onduidelik.

Maroela Media het ʼn navraag aan die Burgerlugvaartowerheid (BLO) gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeubekkie ·

Watter dorp is Emalahleni? Ken nie die naam nie. Sterkte aan geliefdes met die tragedie.

Cherokee ·

Dit is onwaarskynlik dat BLO sal kan lig werp op die oorsaak van die ongeluk. Die passasier wat oorleef het, sal meer kan vertel oor wat tydens die oomblikke voor die ongeluk gebeur het.
En soos jy sê Leeubekkie, ek het eers gedink dit is Randfontein, maar toe sien ek dit is in Oos-Transvaal.

Martie ·

Die meeste dorpe se name is net letters wat nie sin maak nie. Die mense wat hulle gestig het word mos misken. Dis darem onrusbarend hoeveel ligte vliegtuie en helikopters deesdae neerstort. Opleiding, instandhouding?

Danie ·

Ek het onlangs gesels met mense van n oorsese groep wat gereeld SA besoek het vir vakansies.
Hulle is heeltemal verward oor die onbekende name wat oral opduik en sê dat dit te veel beslommernis is om te probeer uitvind watter plek is waar so hulle en hul mede toerders gee sulke plekke n mis.
Weereens n verloor vir SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.