ʼn Noodlottige ongeluk waarby drie vragmotors betrokke was op die N14 in Centurion, het Vrydagmiddag erge verkeersopeenhopings tot gevolg gehad.
Die N14-Noord moes vanmiddag heeltemal gesluit en verkeer herlei word ná die ongeluk naby Jeanlaan.
Charles Mabaso, waarnemende hoof van die Tshwane-nooddienste, het gesê die ongeluk het net voor 13:00 gebeur. Owerhede op die toneel het gesê dit sal ure neem om die toneel op te ruim en die vloei van verkeer te herstel.
Volgens Mabaso het die een vragmotor ʼn ander vragmotor gesleep toe die kabel tussen die twee vragmotors gebreek het. Die vragmotor het stilgehou en twee mans het probeer om die agterste vragmotor weer vasgehaak te kry. Op daardie oomblik het ʼn derde vragmotor van agter teen die tweede vragmotor gebots.
“Die twee mans wat probeer het om die kabel te herstel, is op slag dood. Die bestuurder van die derde vragmotor het aan sy beserings beswyk terwyl die reddingsdienste besig was om hom uit die wrak van die voertuig te sny,” het Mabaso gesê.
Hy sê nog twee mense is beseer, waarvan een glo in ʼn kritieke toestand was, en hulle is na die Unitas-hospitaal gehaas.
Luidens inligting op sosiale media het die ongeluk veroorsaak dat verkeer op die N14 erg opeenhoop, aangesien motoriste vanaf die Brakfontein-wisselaar nie op die snelweg kan kom nie en van alternatiewe roetes gebruik moet maak.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
8 Kommentare
Jy mag nie sommer net sleep soos jy wil nie veral op snelwee. Maar daar is n deel van ons bevolking wat dink daardie regulasies is nie vir hulle nie. Wat vandag gebeur het is die gevolg daarvan. Dit is net jammer dat ander mense ook moet lei agv hierdie domastrante houding.
Geen maar GEEN wet en orde op die paaie.
Net oor iemand stupid ry en verongeluk, moet ons almal anders ure op die pad sit en in traffic, petrol mors, tyd mors. Haat dit.
So die 3de vragmotor bestuurder kon nie sien daar staan ‘n vragmotor stil nie. Het seker te vinnig gery?
Robert, daar is ‘n draai en dis op ‘n helse afdraende.