Drie in hof oor ‘aanval’ op Kinnear se huis

Die drie verdagtes in die hof. Foto: Eunice Stoltz

Drie beskuldigdes het in die Parow-streekhof verskyn nadat hulle glo einde verlede jaar wyle lt.kol. Charl Kinnear se huis in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte geteiken het.

Faeez Smith (27) is in November verlede jaar in hegtenis geneem nadat hy glo buite Kinnear, wat aan verskeie hoëprofielsake gewerk het, se huis met ʼn handgranaat in sy besit betrap is. Amaal Jantjies, wat glo as tussenganger opgetree het, is kort daarna ook in hegtenis geneem. Verdere ondersoek na die voorval het ʼn derde verdagte, Janick Adonis, betrek wat na bewering reeds in aanhouding was.

Die drie beskuldigdes het Donderdag op bykomende aanklagte in ʼn leë streekhof verskyn. Die aanklagte sluit onder meer in sameswering tot moord, die besit van plofstof, sameswering om plofstof te bekom en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

Kinnear se huis.

Smith en Adonis word albei ook aangekla ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (oftewel die Poca-wet). Luidens die klagstaat is Smith en Adonis lede van die Junky Funky Kids-bendegroep (JFK’s).

Adv. Blaine Lazarus, staatsaanklaer, voer aan dat al drie beskuldigdes voor en tydens November 2019 by gebeure betrokke was wat ten doel gehad het om ʼn patroon van misdadige bendeaktiwiteite te veroorsaak, te bewerkstellig, te bevorder of daartoe by te dra.

Dit blyk dat Jantjies en Smith met verskeie rolspelers saamgewerk het om die beweerde aanval op Kinnear in 2019 uit te voer. In die jongste klagstaat voer die staat aan dat Jantjies op 17 en 18 November 2019 met talle individue saamgesweer het om Kinnear te laat vermoor.

Nicolette Kinnear en haar seuns. (Foto: Verskaf)

Smith en Adonis het glo op 22 November onwettige plofstof in Macassar op die Kaapse Vlakte bekom, slegs ʼn dag voordat Smith glo met ʼn handgranaat buite die Kinnear-woning betrap is. Die huis was in dié tyd onder 24 uur lange polisiebewaking.

Adv. Theresa Ruiters, regsverteenwoordiger vir Adonis en Jantjies, het die hof daarop gewys dat sy sedert Januarie nog geen kans gegun is om ʼn borgtogaansoek vir Jantjies voor te berei nie.

“Die staat weet sedert Julie dat hy my kliënte ingevolge die Poca-wet wil aankla. Ons is nie voorbereid om vandag te kan voortgaan met die borgtogaansoek nie. Dit is die tweede keer dat hy [adv. Lazarus] ʼn gewysigde klagstaat aan ons verskaf.”

Ruiters beskuldig die staat daarvan dat hy die saak laat sloer. “Sou hy [adv. Lazarus] wou hê dat ons moes voortgaan, dan sou hy die klagstaat al einde Julie aan ons gegee het sodat ons vandag gereed kon wees.”

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Adv. Lazarus het in reaksie gesê sy bedoeling is nie om die saak te vertraag nie. Die saak is hierna tot 20 November uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig die Kinnear-gesin het sedert die voorval verlede jaar in vrees geleef nadat die 24 uur lange polisiebewaking kort daarna en sonder waarskuwing opgeskort is.

Dié vrees het ʼn werklikheid geword toe Kinnear twee weke gelede op 18 September buite sy huis in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet is.

Kinnear se vrou, Nicky, en hul seuns ontvang weer sedert die aand ná die moord op haar man 24 uur lange polisiebewaking. Die ondersoek oor waarom sekuriteit vir Kinnear opgeskort is, duur ook voort.

Volgens Nicky het die ondersoekspan hulle hierdie week besoek.

Intussen sal Zane Kilian, wat in verband met die moord op Kinnear in hegtenis geneem is, weer op 5 Oktober in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

lollapot ·

Dit is kommerwekkend dat hulle NA 2 weke nog nie weet wie die polisiebewaking opgeskort het nie, of is ek oorhaastig?

Casper ·

Ek dog dan die man met die goed wou weet wie die beskerming opgeskort het en dat daar gaan koppe rol.Die bevelvoerder van die polisiestasie moes tog die opdrag gekry het van iemand af of het hy of sy self die besluit geneem.Die vedediging kerm nou oor borg.Sy is net so gewetenloos soos haar klieënte.Geen borg asseblief.Kinnear se familie sal geteiken word.

AlWeerSo ·

So word die gewone, wetsgehoorsame, ordentlike, pragtige reënboog nasie deur gemors, skelms, diewe, gewetenloses uitgemoor en vertrap en ons gewone mense kan niks doen nie, want ons regering verteenwoordig / is deel van die vrot in ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.