Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het Dinsdagmiddag by ‘n fabriek by die R59- en Boy Louwweg-kruising plaasgevind. Met paramedici se aankoms het die drie mans buite kantore op die perseel gelê terwyl personeel noodhulp op hulle toegepas het.
“Die drie pasiënte het ernstige brandwonde oor die grootste dele van hul liggame opgedoen en was in ʼn kritieke toestand,” het Meiring gesê. Nadat die pasiënte gestabiliseer is, is twee met mediese helikopters na hospitale geneem, terwyl die derde per ambulans vervoer is.
“Die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie, maar sal deur die plaaslike owerheid ondersoek word,” het Meiring gesê.