Drie skuldig bevind wat vlug MH17 afskiet

Die wrak van die Maleisiese passasierstraler, MH 17. Foto (AP Photo/Dmitry Lovetsky, File)

ʼn Hof in Nederland het Donderdag drie mans skuldig bevind en een persoon vrygespreek ná Malaysia Airlines vlug MH17 in 2014 oor Oekraïne afgeskiet is.

Russe Igor Girkin en Sergei Dubinsky en Oekraïense burger Leonid Kharchenko “is skuldig bevind aan moord en dat hulle doelbewus ʼn vliegtuigongeluk veroorsaak het”, het hoofregter Hendrik Steenhuis gesê. Rusland se Oleg Pulatof is nie skuldig bevind nie.

Die drie is in absentia lewenslange tronkstraf opgelê.

Nie een van die verdagtes was in Nederland by die hof vir die uitspraak nie, terwyl dosyne families van reg oor die wêreld gereis het om die uitspraak te hoor ná ʼn twee en ʼn halwe jaar lange hofsaak.

Al 298 passasiers aan boord die Boeing 777 van Amsterdam na Kuala Lumpur is dood toe ʼn missiel die vliegtuig getref het. Regters het gesê dit is deur Russies-beheerde separatiste afgevuur toe die vliegtuig oor oostelike Oekraïne gevlieg het.

Staatsaanklaers het lewenslange tronkstraf geëis vir die verdagtes.

Pieg Ploeg, voorsitter van die MH17-stigting, wat sy broer, skoonsuster en broerskind verloor het, het buite die hof aan AFP gesê hy hoop die uitspraak sal families help om aan te beweeg. “Ek glo nie in berusting nie – vra maar vir enigiemand wat al kinders aan die dood afgestaan het. Mens kry nooit berusting nie. Maar ek hoop regtig dat hierdie dag vir families die ruimte sal gee om met hul lewens voort te gaan.”

Een van die grootste wrakstukke wat opgespoor is Foto: Phil Black, CNN

Regters het bevind Girkin, Dubinsky en Kharchenko kan almal verantwoordelik gehou word vir die vervoer van die BUK-missiel van ʼn weermagbasis in Rusland en om dit na die lanseertoneel te ontplooi, selfs al het hulle nie die sneller getrek nie. Daar is nie genoeg bewyse dat Pulatof, die enigste verdagte met regsverteenwoordiging, betrokke was nie.

Die hof het gesê daar is “genoeg bewyse” dat die vliegtuig deur die missiel afgeskiet is en dat dit van ʼn veld in oostelike Oekraïne afgevuur is in ʼn gebied wat deur die pro-Moskou Donetsk-volksrepubliek beheer word, wat teen Kiëf baklei het. Die bewyse sluit in ʼn foto van ʼn rookspoor, getuienis, satellietfoto’s, telefoongesprekke wat onderskep is, videomateriaal en skrapnel.

Die hof het “alternatiewe scenario’s” wat deur die verdediging voorgehou is, insluitend Rusland se aanvanklike bewering dat ʼn Oekraïense vegvliegtuig verantwoordelik is, verwerp.

Rusland het alle betrokkenheid by die voorval ontken en geweier om enige van die verdagtes uit te lewer, omdat dit onwettig is kragtens Russiese wetgewing.

Die uitspraak verteenwoordig die einde van ʼn lang soektog na geregtigheid vir die slagoffers van MH17 wat van 10 lande gekom het, insluitend 196 van Nederland, 43 van Maleisië en 38 van Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Rusland weier om hulle uit te lewer om tereg te staan. Dit is my afleiding uit die artikel.

Kerrie ·

Daai wrakstukke was daar geplaas….nerens is n liggaam of een van die 250 blou stoele te sien nie…en die stoele se 500 blou kussings kan dryf….fake.

annie ·

Watter geluk vir Zelensky dat die uitspraak nou juis gelewer word met hom as die waarheidsprekendste-orakel der tye: ‘Dit wassie ons nie. Dit was Rusland’. Oppas ook tog om nie agter die soldate van Oekraïene te loop wanneer hul bewapen is of nie. Hulle backfire maklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.