Drie slagoffers van mensehandel gered

(Argieffoto: Hans Braxmeier/pixabay)

Drie slagoffers van mensehandel, onderskeidelik 18, 29 en 33 jaar oud, is Donderdag uit ʼn bordeel in Benoni gered. Die bordeel is onder die voorwendsel van ʼn gastehuis bedryf.

“Die 18-jarige meisie het by familielede in Vanderbijlpark gekuier toe iemand, wat sy onlangs op ʼn afspraak-webwerf ontmoet het, haar na Benoni gelok het. Sy het deur sosiale media met die persoon kontak behou,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Haar familie het haar op 26 Desember vir die laaste keer gesien en hulle kon nie kontak maak met haar nie. Sy het later haar niggie gekontak en vir haar gesê haar selfoon is by haar afgeneem en dat sy teen haar wil aangehou word en in ʼn lewe van seksuele uitbuiting ingedwing word.

Die polisie se taakspan, onder leiding van die Valke se eenheid in Vaalrand wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, het met Sedibeng se honde-eenheid, die Vanderbijlpark-taakspan en ʼn koördineerder vir vermiste persone saamgewerk. Hulle het op die gastehuis toegeslaan waar die 18-jarige slagoffer gevind is.

“Nog twee slagoffers, onderskeidelik van Sebokeng en KwaZulu-Natal, is saam met die 18-jarige meisie gered. Hulle is na ʼn plek van veiligheid geneem.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 39 jaar oud, is in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Maandag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.

Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in Gauteng, het meisies gewaarsku om baie versigtig te wees wanneer hulle iemand op sosiale media ontmoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.