Drie sterf toe voertuie in digte mis bots

(Foto: Mweli Deejay Masilela/ Shongoane Samuel Malema/ Facebook)

Drie mense is dood toe verskeie voertuie Donderdagoggend op die N12-snelweg tussen Emalahleni en Ogies in Mpumalanga in botsings betrokke was.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, kan die ongeluk hoofsaaklik toegeskryf word aan die digte mis wat motoriste se sig op die pad belemmer het.

(Foto: Mweli Deejay Masilela/ Shongoane Samuel Malema/ Facebook)

“Daar moet daar nog vasgestel word hoeveel voertuie in die ongeluk betrokke was. Ons kan wel sê daar was vragmotors, waaronder ’n brandstoftenkwa, sedans en ligte afleweringsvoertuie, betrokke,” sê Mmusi.

Die drie oorledenes was insittendes van een van die motors.

Die polisie en noodpersoneel is steeds op die toneel. Die pad is vir verkeer gesluit en motoriste word versoek om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

“Motoriste moet hul spoed verminder, ’n veilige volgafstand handhaaf en die kopligte aanskakel wanneer hulle in mistige toestande ry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan Tredoux ·

Dit slaan my stom dat iemand vinnig wil ry sonder sig. Maar tóg kry mens só baie sulke mense op ons pad.

Johan Tredoux ·

Die grootste probleem op ons paaie is nie die mis of reën en ys nie, maar die mens.

SwartBees ·

Die NUWE AARTO wet gaan n stop sit op dit alles ( en ek sê dit met sarkasme)

Marthinus W ·

Dit is nie die digte mis wat die oorsaak van die ongeluk was nie; dit was roekelose bestuurders. Ek het al n paar keer saam met my swaer op daardie pad deur digte mis gery, en elke keer was ek geskok oor die absolute gebrek aan gesonde verstand deur sommige motoriste. Hulle verminder nie spoed nie; party sit nie eens hul hoofligte aan nie.

Janice ·

Ek was jare gelede op die pad in die gietende reen. Mens kon letterlik nie 1 meter voor jou sien nie. Dit was soos ‘n waterval. Dit was vreesaanjaend hoe die karre by my verbygejaag en vir my getoet het om pad te gee.

OU SAAR ·

Selfde hier.
Was ñ jaar terug MP toe vir my sussie se troue. Dit het op ñ stadium so erg gereen dat ons van die pad afgetrek het en gewag het dat dit bedaar. Ek het my verstom aan die mense se onverskilligheid. Dankie tog, hier in die NK ry die mense darm nog redelik soos mense, hier en daar ñ uitsondering van iemand se kop wat uithaak, maar oor die algemeen het ons nog respek vir mekaar op die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.