Drie vas ná mans by Zandspruit brand

Argieffoto: SAPD, Facebook

Drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met Woensdagoggend se brandvoorval by Zandspruit in Gauteng wat aanvanklik vier mense dood en vyf ernstig beseer gelaat het.

Volgens die provinsiale portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid het nog twee van die slagoffers intussen aan hul beserings beswyk.

Die voorval het nou altesaam ses lewens geëis. Die drie oorlewendes verkeer in ’n kritieke toestand en word in die hospitaal behandel.

Die voorval was vermoedelik die gevolg van gepeupelgeregtigheid.

Die komitee het die inhegtenisnemings verwelkom en ’n beroep op die publiek gedoen om nie die gereg in eie hande te neem nie.

“Die omvang van gemeenskapslede se woede en frustrasie kan nie regverdig dat hulle hulself die reg  toe-eien om die lewens van die vermeende misdadigers te neem nie,” sê Alphina Ndlovana, voorsitter van die Gautengse portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid.

“’n Kriminele daad bly onwettig en moet te alle tye veroordeel word, ongeag teen wie dit gepleeg word.”

Maroela Media het vroeër berig daar is Woensdag omstreeks 02:00 aangemeld dat sowat 200 mense ’n soektog na ’n groep seuns, wat glo mense in die Zandspruit-gemeenskap beroof het, op tou gesit het.

Nooddienswerkers het later nege mans in die middel van ’n veld naby ’n smeulende rubberband gevind. Die mans was vasgebind en het ernstige brandwonde opgedoen. ’n Groot groep mense uit die gemeenskap het om die gebied saamgedrom.

Die drie aangekeerde verdagtes word aangekla van moord en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Ongelukkig is dit wat gebeur as die polisie nie hulle werk doen nie! Mense is keelvol om die polisie te bel, want daar’s altyd verskonings of hulle daag nie op nie. My sekuriteit maatskappy beteken meer as polisie

Frikkels ·

Die wetsgehoorsame landsburgers in suid afrika het minder regte as kriminele. Die sap bied nie ñ behoorlike diens aan wetsgehoorsame burgers nie, wat uiteraard dus sal veroorsaak dat wetsgehoorsame burgers wat moeg word vir ons onregverdige politieke regstelsel, die reg in eie hande sal neem. L.W. Die bybel sê, ñ oog vir ñ oog en ñ tand vir ñ tand. Ons regstelsel vaal ons totaal!
Hy sê ook, wie oordeel is reeds veroordeel.
Aan watter kant van die veroordelers of veroordeeldes moet mens nou eintlik staan?

Gert ·

Een ding vir seker die oorlewende kriminele sal dit nie gou weer doen nie.

Anoniem ·

Nee Gert, ek stem nie saam nie. Hul laat nie sommer hul streke staan nie.

E ·

Ek dink die oorblywende kriminele het geemigreer vandaar af. Gaan maak liewer moeilikheid in ‘n ander plek.

Anton ·

Blykbaar was SAP op die toneel maar het nie ingegryp nie. Burgerlike organisasies moet oorweeg om die familie in staat te stel om ‘n hofaksie teen SAP te bring. Ons kan nie meer stilbly nie. Vat hulle hof toe!

Anoniem ·

Sal graag wil weet wat met die wat toegesluit is gaan gebeur. Die polisie is darem vinnig om op te tree met die soort gevalle maar wanneer onskuldige mense aangeval of vermoor word neem hul hul tyd en kom die skuldiges lig daarvan af, indien hul gestraf sou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.