Ao. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes is Dinsdagaand in Boksburg aan die Oos-Rand in hegtenis geneem.
Die liggaam is Vrydag op die agtersitplek van ʼn brandende motor gevind. “Die voorval het omstreeks 03:00 plaasgevind. Mense het die motor sien brand en die polisie ontbied,” het Makhubela vroeër gesê.
“Ons ondersoek het bevind dat die verdagtes juweliersware van ʼn juwelierswinkel bestel en dat die vrou dit by hulle huis in Boksburg kom aflewer het. Hulle het met die vrou na Lenasia gery waar hulle haar vermoor en die motor aan die brand gesteek het,” het hy bygevoeg.
Makhubela sê die vrou is as vermis aangemeld en later geïdentifiseer. Hy sê die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.