Dringende ingryping by maatskaplike ontwikkeling geëis

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu. (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

Die vakbond Solidariteit wil die parlement nader om dringend by die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) in te gryp nadat ʼn verdoemende verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wesenlike gebreke by dié departement blootgelê het.

Die verslag bevat navorsing wat deur die SNI onderneem is om kwessies en probleme wat maatskaplike werkers in hul beroepe ervaar, te ondersoek en ook om vas te stel of hulle genoeg ondersteuning en hulp van die departement ontvang.

Hiervolgens is die meeste maatskaplike werkers moedeloos met die departement se gebrek aan ondersteuning, onbekwame dienslewering en swak verhouding met maatskaplike werkers. ʼn Driekwart is boonop van mening dat die departement in baie gevalle nie eties optree nie.

ʼn Elektroniese vraelys is gedurende April vanjaar deur middel van Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk se kommunikasiekanale na soveel as moontlik respondente versprei en eindelik deur 147 maatskaplike werkers ingevul.

“Die huidige toestand waarin die DMO verkeer, is rampspoedig en heeltemal onvolhoubaar,” het Bianca Smit, koördineerder van die maatskaplikewerkersnetwerk, gesê.

“Hoe kan enige departement na behore funksioneer wanneer 77,5% van die diegene in die bedryf aandui dat daar gevalle is waar die departement nie in die beste belang van die kliënt opgetree het nie? Daarmee saam sien ons in die verslag dat 74% van die respondente sê dat hulle selfs bewus is van gevalle waar die DMO oneties opgetree het.”

Die uitslae dui verder aan dat 69% van respondente geen samewerking en ondersteuning van die departement ontvang nie, swak dienslewering ondervind en voel dat daar ʼn swak verhouding tussen die departement en maatskaplike werkers bestaan.

Probleme wat maatskaplike werkers met die DMO ondervind
Geen samewerking en ondersteuning nie, swak dienslewering en swak verhouding met maatskaplike werkers 69%
Kommunikasie is swak, kry departement nie in die hande nie 28%
Subsidies en salarisse is te min 12,6%

 

   Gevalle waar die DMO nie eties korrek opgetree het nie (74%)
Plasing van kinders 32,6%
Sake word nie deurgevoer of opgevolg nie 23,5%
Onbekwaamheid 21,4%
Tree in eie belang op of het politieke agendas 10,2%

Volgens Solidariteit het die vakbond al vroeër vanjaar ʼn skrywe namens sy lede aan die DMO gerig, maar dié departement het geen aandag aan die kwessies wat geopper is, gegee nie. Solidariteit wys daarop dat die DMO nie sonder drastiese eksterne ingrepe kan hervorm nie, wat uiteindelik tot die ineenstorting van maatskaplike dienste in Suid-Afrika kan lei.

“Ons is genoodsaak om tot hierdie stappe oor te gaan en dringende optrede deur die parlement te eis. Die DMO ignoreer sy mandaat en die mees kwesbares in ons samelewing. Diegene wat hul lewe daaraan wy om die menswaardigheid van dié mense te bewaar, moet tans die spit afbyt vir hierdie versuim.”

Smit sê die uitkomste van hierdie studie dui op ʼn departement wat gewetenloos en onverskillig optree.

“Daar word van die departement verwag om rigting aan te dui, ondersteuning en selfs opleiding te bied. Tog slaag die departement tans nie eers daarin om selfs net die mees basiese dienste te lewer nie.”

Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk sê dit is onmoontlik om doeltreffend na kinders en ander slagoffers om te sien as die departement nie ʼn ondersteunende raamwerk bied nie. Die netwerk voer ook aan dat die departement se apatie teenoor maatskaplike werkers persone uit die beroep wegdryf waaraan hulle hul hele professionele lewe gewy het.

Tekort aan noodsaaklike hulpbronne
Finansies 23,3%
Algemene hulpbronne en infrastruktuur 18%
Alternatiewe plekke van veiligheid en beter beskerming vir kinders 17%
Sisteme wat werk 13,5%
Ondersteuning van die departement 13,5%
Opleiding 10,5%
Menslike hulpbronne (maatskaplike werkers en vrywilligers) 9%

“Die verslag dui ook daarop dat maatskaplike werkers en NRO’s nie eers oor die basiese hulpbronne beskik nie, maar steeds skarrel om seker te maak hul werk word gedoen.

“Dit is verder skreiend dat bykans ʼn derde van respondente sê hulle veral probleme wat betref die departement se plasing van kinders beleef – die skreiendste is gevalle waar kinders gedwing word om terug gaan na die einste huishoudings waar hulle mishandeling ervaar het. Sulke onbevoegdheid kan nie verder geduld word nie.”

Solidariteit het tydens ’n konferensie Woensdag ʼn beroep op die parlement gedoen om so spoedig en daadwerklik moontlik op te tree om die geweldige skadelike impak van die wanfunksionele departement te verlig.

Die vakbond meen indien dit nie gebeur nie, sal hy nie skroom om regstappe in hierdie verband te oorweeg nie.

“Dit is verstommend wat maatskaplike werkers in hierdie stadium uitgerig kry –  lankal nie meer te danke aan nie, maar eerder ten spyte van die DMO.

Wat die DMO kan verbeter
Effektiwiteit22,5%
Werksetiek22%
Dienslewering16%
Kommunikasie13,5%
Houding en ingesteldheid12%
Meer kundige werkers9%

Dr. Elsha Hermann, Solidariteit Helpende Hand se hoof van navorsing, programme en opleiding, sê Helpende Hand is verheug dat Solidariteit hierdie kwessie aanpak en ondersteun hul optrede.

“Die feit is dat die departement etlike jare al hul plig en verantwoordelikhede teenoor kwesbares in die gemeenskappe versuim en die regering laat net toe dat hierdie kwessies ongesiens verbygaan,” sê sy.

“Solidariteit Helpende Hand wil tog ʼn beroep op gemeenskappe doen om ten spyte van die departement se ondoeltreffendheid, maatskaplike kwessies self binne hul regte en verantwoordelikhede te hanteer. Ons kan nie van ʼn ondoeltreffende staat verwag om doeltreffende dienste te lewer nie. Ons moet voortgaan om self oplossings te vind, te midde van ʼn vervallende departement.”

Sy sê die gemeenskap is verder verantwoordelik om die voortbestaan van doeltreffende organisasies te verseker deur hulle finansieel by te staan omdat hierdie dienste duur, maar baie noodsaaklik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

En daar skrik ek my al weer boeglam, toe ek Maroela nuus verfris en DAAR is sy!

Anel ·

Ons sien die onbevoegdheid in die hoeveelheid babas wat vermoir word en daar geen vervolging is nie. Ons hoor van kinderhuise wat sukkel want die dept betaal nie hulle gelde oor nie! En nog soveel meer. Maar wys ons een staats departement wat ten minste 90%doeltreffend werk!! En dis die mees kwesbaarstes van die kwesbares wat swaar kry. Maar daar is miljiene om vir Kuba te gee, om vlagpale op te rig, om dorpe en strate te hernoem, wst klaar name het, en so kan ek aangaan. Wat ‘n klap is dit nie in die burgers van hierdie land se gesigte nie!!! Laat ek maar eerder niks verder sê nie!!!

Jack ·

Ja Lindiwe is nogal skrikwekend op enige dag.Maar daar is niks om te leer van die kader nie.Sy is maar net nog een die kaders wat geen bevoegdheid het om in enige bestuurspos te funksioneer nie.Nog nooit het mense wat so min weet so baie geld verdien vir so min doen nie.Niks skok ons meer van die kaders nie.Hulle het nie ‘n benul van wat in hulle departemente aangaan nie.

koos ·

Beste leser, het jy al dit ervaar dat die bedelaar verby sy eie “our people” loop om sy bakhand na jou uit te steek? Hoeveel Afrikaanssprekende straatkinders het jy al gesien, in vergelyking met die meerderheid straatkinders? Hoekom dan verbaas wees oor die huidige regime se maatskaplike gemors? Dit is in hulle gene ingebore om so selfsugtig op te tree. Hulle eerste, ons land laaste. Cry the beloved country.

Marius ·

Die tendens van bedrog, diefstal, moorde, swak dienslewering en onvoldoende of geen ondersteuning is die ANC regering se staande beleid.

Dup ·

Swak diens en algemene verval is aanvaarbaar vir vele en ook die norm by baie staatsdepartemente.Daarom die skokkende bevindinge by party “staats”hospitale.Die vraag wat dan opkom is : wie is aan die stuur van sake en het hulle nog nooit agtergekom dat daar fout is nie? Lang toue,stelsels wat van lyn is en algemene onbeholpenheid is ñ alledaagse gebeurtenis.Alles in die naam van TRANSFORMASIE.

Mariana ·

Dis ‘n skreiende skande en baie hartseer dat dit die kinders is wat die meeste skade ly. Daai minister is ook net daar, groot vet salaris en het nog nooit enige bydrae tot die samelewing gebring nie. Hulle het geen skaamte nie, wys een minister wat regtig omgee vir die land en sy mense. Hulle bestaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.