Dringende vergadering met minister versoek oor Taalmonument

(Foto: Verskaf)

Daar heers groot kommer onder rolspelers in die Afrikaanse gemeenskap oor minister Nathi Mthethwa se skynbare planne om die “Afrikaanse” uit die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) se naam te verwyder.

AfriForum het ’n dringende afspraak met Mthethwa, minister van kuns en kultuur, versoek. Die Afrikanerbond benadruk intussen dat dié monument in die Paarl op simboliese wyse juis erkenning gee vir die bydrae van Europese, Indonesiese en Afrika-tale tot die ontwikkeling van Afrikaans.

Dié organisasie is verbysterd oor Mthethwa se verdoemende plan met die monument en dít “in die naam van sosiale kohesie”.

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, sê dit het nagenoeg R 760 000 gekos waarvan ongeveer R300 000 deur die staat bygedra is toe die ATM in die sestiger en sewentiger jare deur hoofsaaklik Afrikaanse kapitaal, denke, tyd en energie opgerig is.

“Die ‘opdrag of dekreet’ van die minister bevestig opnuut dat daar geen begrip of respek in regeringsgeledere vir die Suid-Afrikaanse – en dan in die verband – spesifiek vir die Afrikaanse taalgemeenskap is nie,” sê Bosman.

“Dit is veral duidelik dat die minister van kuns, kultuur en sport geen snars verstaan van kuns, kultuur of sport nie en net nog ʼn kader is vir wie plek op die soustrein gekry moes word.”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, glo op haar beurt die verandering van die ATM se naam gaan gemeenskappe in die land net verder polariseer. “Afrikaners en Afrikaanssprekendes het die reg, soos enige ander gemeenskap in die wêreld, op die gebruik van hulle taal en op erfenisbakens wat hulle bydrae tot die geskiedenis van die land herdenk. Dit is ’n reg wat ook in die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word.”

Ook Bailey sê die ATM is een van die mees inklusiewe instellings in die land wat al dekades lank brûe na alle gemeenskappe bou.

“Mthethwa en ander regeringslui se herhaaldelike aanslae teen Afrikaanse erfenisbakens en die taal self skep ongelukkig die indruk dat inklusiwiteit of nasiebou nie deel van die agenda is nie, maar slegs weerwraak teen een spesifieke gemeenskap.”

Volgens Bosman is Mthethwa ʼn hoogs verdelende figuur in die Suid-Afrikaanse politieke landskap.

“As hy nie besig is met dorpe se naamsveranderinge nie droom hy van temaparke vir apartheid- en koloniale standbeelde en ʼn vlagpaal van 120 meter teen ʼn koste van R22 miljoen as toeristebestemming. Dit alles in die naam van sosiale kohesie.”

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die minister het by ’n vergadering na bewering onomwonde gesê dat die ATM sy naam moet verander. Die verandering is “ononderhandelbaar” omdat die naam tans ander taalsprekers uitsluit.

AfriForum het intussen ’n peiling onder sy sowat 301 700 lede én ander lede van die publiek begin om hul standpunt oor die beplande naamsverandering aan Mthethwa oor te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Janice ·

Al wat hierdie minister doen is om ons belasting geld te gebruik om sy eie politieke loopbaan te bevorder. Hy weet so min van die kunste as ‘n kat van saffraan.

Sokrates ·

Daar word doelbewus en by herhaling op die Afrikaner, sy taal en sy kultuurinstellings geürineer…….

Marius ·

Breek die monument af eers is hul bang vir ‘n ou vlag en nou vir ou beton strukture. Wat is volgende ?

melaney ·

Al hoe hierdie tipe skoor sal ophou is wanneer ons dit self stopsit. Solank ons stil bly gaan hulle aanhou en aanhou.

Julius ·

Die ATM raad het dan ingestem met die verandering. Is hulle nie afrikaners nie?

MakersMark ·

“Die massiewe vlagpaal dra by tot die staal industrie”….hemele behoed one, dis dieselfde snert met die taalmonument. Maar as ‘n nar in die paleis intrek neem word die nar nie ‘n koning nie die paleis word ‘n sirkus. Enige ooglopende ooreenkomste ?

casper ·

As enige blanke afrikaans sprekende persoon nog nie kan sien waarop ons afstuur in die land nie moet jy ‘n bril kry !!!

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Ek eis vir die onmiddellike bedanking van hierdie verskoning van ñ minister!!!!!!!!!!!!

Dup ·

Ou Natie se politieke opdrag is om van alles Afrikaans ontslae te raak.Punt.

Willem ·

Dit is sommer nonsens! Die minister wys hy het nie n idee of die nodige respek vir taal, kuns en kultuur nie.

Nellene ·

Afrikaners is baie individualisties van aard en hierdie stelling van Mthethwa, wat gesigloosheid voorstaan,sal nooit aanvaar word nie.

Nicky ·

Genoeg vergader staan op, julle is ons leiers solarideit, Afriform en nog meer se net wat ons moet doen, genoeg gepraat is genoeg, doen iets wat julle weet sal slaag

Nicky ·

Julle weet lankal jy kan nie met n kommunis onderhandel nie

Di ·

Hierdie ANC Kader het GEEN idee wat hy besig is om te doen nie! Hy krap waar dit nie jeuk nie! Wat is volgende? Die Voortrekker Monument?

Leon ·

Kan ons asb vergeet van monumente en vlae?Ons het elke sent nodig om the land te red en die ANC te vernietig。As jy tyd het om oor name en monumente te dink dan weet jy daardie afdeling van die regering kan tydelik gesluit word om die geld eerder op ander plekke te spandeer。Die DP is net so pateties soos die res。Ons het n party en regering nodig wat soos n besigheid funksioneer!As SA nie olie vind nie is dit klaar te laat。Die geld is in elk geval klaar。Gee SAA,PRASA en ESKOM vir die Sjinese of julle van hulle hou of nie en raak onslae van die ZEP!CHARITY STARTS AT HOME!

Piet ·

Nathi was en is nog altyd teen alles wat blank en Afrikaans is. Hierdie streek van hom kom al langpad, en hy maak van alles ‘n gemors gemaak. Dink net aan die SAPD.

Swerwer ·

Mthethwa en Lesufi moet maar hul eie Taalmonument oprig en ons Afrikaanse Taalmonument uitlos. Omdat ons Taalmonument in die Apartheidsera opgerig/gebou is, is hul fisier nou gemik daarop om dit van ons wegteneem en te vernietig. Ons taal sal hul nie vernietig kry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.