Droewige 0,6%-groei ‘direkte gevolg van ANC-beleid’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie meen die ‘droewige 0,6%-groei in die bruto binnelandse produk (BBP) oor die tweede kwartaal van 2023 is ʼn direkte gevolg van ʼn mislukte ANC-beleid.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika se ekonomie het met 0,6% in die tweede kwartaal van die jaar gegroei. Dit volg op die 0,4%-styging in BBP wat in die eerste kwartaal aangeteken is. Luidens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste syfers het ses bedryfsektore aan verskaffingskant in die tweede kwartaal gegroei – met vervaardiging en finansies wat veral vir opwaartse momentum gesorg het.

Dion George, die DA se skaduminister oor finansies, sê die nasionale tesourie het in Februarie 2023 ʼn groeikoers van 0,9% beraam, maar dit is ʼn teiken wat, selfs al was dit laag en nie inspirerend nie, klaarblyklik ooroptimisties was.

“Trouens, ons ekonomie sal nie teen die geprojekteerde 1,4% oor die medium termyn groei nie, gegewe die voortgesette kragkrisis – wat deur die regering veroorsaak is. Dit beteken dat inkomste oorbeklemtoon is in die begroting en minder geld sal beskikbaar wees vir noodsaaklike uitgawes vir dienslewering en maatskaplike ondersteuning.”

George sê die land se ekonomie het oor die afgelope 15 jaar onderpresteer, met ʼn gemiddelde jaarlikse BBP-groeikoers van 1,2% sedert 2008. “BBP per capita het boonop met ongeveer R3 000 afgeneem tydens dié periode. Die slakkepas-groei het gemanifesteer in toeneemde staatskuld, ʼn kleiner fiskale ruimte, indiensnemingsgeleenthede wat verdwyn en ʼn groter ontnugtering onder die publiek.”

George voeg by die land se insluiting in Februarie op die sogenaamde gryslys vir finansiële stelsels, rekord beurtkrag, pro-Russiese buitelandse beleid en ʼn gebrek aan ʼn fiskale reaksie op die kos- en brandstofinflasie wat lewenskoste opjaag, verhinder verder ekonomiese herstel.

“In plaas daarvan om genadelose groei-gefokusde hervormings aan te neem, hou die regering steeds vas aan vernietigende beleid soos onteiening sonder vergoeding en versterkte BBBEE. Hierdie beleidsfoute het ‘n impak op kwesbare Suid-Afrikaanse huishoudings wat direk deur ‘n lewenskostekrisis – wat deur die regering veroorsaak is – geraak word.”

George meen die boodskap van vandag se syfers behoort te wees dat Suid-Afrika se privaat sektor veerkragtig gebly het, ten spyte van die regering se onwilligheid om die nodige groeivriendelike hervormings te implementeer, ‘n getuienis van wat met bekwame bestuur bereik kan word.”

‘Welkome nuus’

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê egter die beter-as-verwagte BBP-groei van 0,6% is nuus wat verwelkom word.

“Dit toon ʼn veerkragtigheid in die ekonomie. Dit is hoofsaaklik weens meer gematigde beurtkrag-toepassing in Junie in vergelyking met April en Mei asook verligtende faktore wat beter syfers tot gevolg gehad het.”

Parsons sê daar is egter steeds ʼn hoë graad van onstuimigheid in die groeidinamika.

“Dit is duidelik in die uiteenlopende menings oor groeivooruitsigte vir die tweede kwartaal van 2023 wat strek van 0,1% tot 0,7%. Dit is ʼn weerspieëling – nie net van die probleme om die grootste hindernisse in die ekonomie te kwantifiseer nie, maar ook ʼn beduidende bron van onsekerheid in groeiverwagtinge.”

Parsons voeg by die ekonomie sukkel steeds om voldoende momentum te verkry om ‘n hoër tempo van werkryke groei vol te hou. “ʼn Groei-vooruitsig van minder as 1,0% vir 2023 as ʼn geheel – met nie veel beter koerse wat vir 2024 verwag word nie – het onmiddellik negatiewe implikasies vir fiskale volhoubaarheid, aangesien belastinginkomste tekortskiet aan projeksies en regeringsuitgawes die beplande begrotingsvlakke oorskry.”

‘BBP-groei nie goed genoeg nie’

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, sê daar is niks om te vier nie. “Dit is verwoestende nuus vir Suid-Afrikaners. Vir konteks, só ʼn ekonomiese groeikoers is baie laer as die 5,4% jaarlikse ekonomiese groeikoers wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan as die minimum groeivereiste genoem word om werkloosheid en armoede op ‘n betekenisvolle wyse te verminder. Die land het nooit naby aan hierdie teiken gekom nie, wat beteken dat ‘n baie hoër groeikoers nodig is om dieselfde te bereik.”

Zibi sê die aanhoudende swak ekonomiese groeikoers beteken ook dat die regering nie sy belastinginsamelingsdoelwitte hierdie jaar sal haal nie. “Die Nasionale Tesourie sukkel ook om bykomende fondse deur lenings aan te trek as gevolg van ‘n lae beleggersvertroue. Sonder idees en opsies het die regering nou vir begrotingsbesnoeiings gevra. Lae ekonomiese groei is nie ‘n tegniese abstraksie nie. Dit het verwoestende gevolge vir die land en sy mense.”

Zibi voeg by Suid-Afrika het dringend ʼn ekonomiese en fiskale omkeerplan nodig, waarvan Eskom, Transnet en die stryd teen misdaad en korrupsie in die middelpunt moet wees.

“ʼn Doeltreffende parlement sou ʼn fiskale herprioritiseringsplan van die minister van finansies eis om die armes teen besnoeiingsmaatreëls te beskerm. Ongelukkig verwag ons nie dat enige van hierdie dinge sal gebeur nie, want die regering gee nie om nie of weet genoeg om iets betekenisvol te doen nie. Die enigste manier om hierdie huidige somber ekonomiese projeksie te verander, is om op te staan, te registreer en te stem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

My opinie is sou die ANC volgende jaar die verkiesing wen sal Suid-Afrika totaal verval en sal ongekende elende ons voorland wees.

Mnr De Beer ·

Ek stem saam. Dit was ook gewaarsku aan die publiek voor 1994.

annie ·

Die DA: Het hulle en hul droewige voorvaders ooit enige krediet gegee aan die flukse Nasionale Party. Nee. As apartheid destyds nooit gebeur het nie was hier nog niks en skaars iets nes bo in Afrika. Maar nou kry die DA krediet vir die mooie Kaap wat Afrikaner-voorsate opgebou het: Skielik is dit John en trawante. En nou sal die Afrikaners maar gaan buig voor diegene wat ons so gegysel het vir ‘n paar eeue. Waarom kla. Dit is wat gekom het van dieselfdes wat so graag verandering ‘na beter’ wou hê.

Di ·

Dink ons almal weet dat hierdie land VERVAL het in ROMMEL status vandat die korrupte spul die land oorgeneem het! Weet nie hoe slaap die klomp skelms in die nag na hulle die land indie afgrond in gedryf het nie

Gert ·

Klein besigheids kringe moet mekaar saam werk om met crypto te begin handel dryf onder mekaar. Sodoende kan jul n eie micro ekonomie stig wat die lang fingers van die regering bemoeilik om dit by te kom. Selfs die gekaapte deel van SARS sal nie maklik die regering se weeldige leefstyle meer daaruit kan befonds nie. Dit kan lei daarna dat staats beheerde organissasies hul bak hande vir meer geld eerder moet gebruik om hul sokkies op te trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.