Droogte: Boere maak planne om hoop te behou

Die droogte ontsien niemand niks en niemand nie, maar Noord-Kaapse boere doen wat hulle kan om die wa deur die drif te probeer kry. (Foto: Elaine Krige)

Ondanks erge droogte en finansiële uitdagings wat boere van die Noord-Kaap op hul knieë dwing, is daar steeds stories van hoop en boere wat planne maak om die droogte te oorwin.

“Aardverwarming is deel van ons wese en ons moet besef dit sal altyd deel wees van die Noord-Kaap. Daarom moet ons boere leer om meer doeltreffend te boer,” sê Nicol Jansen, president van AgriSA in die Noord-Kaap.

Hy sê boere moet maniere vind om dieselfde produksie te lewer met verminderde kuddes. Een van dié maniere is om te verseker dat ooie doeltreffende voeding ontvang kort voor konsepsie en die lam so gou moontlik speen ná geboorte. Boere kom ook nou in die gewoonte om ʼn gedeelte van hul grond te “laat rus” voor daar weer geplant word. “Ons bestudeer ook die voedingswaarde van verskeie kosse in detail en kyk wat ons kan toevoeg om optimale voeding vir diere te verseker,” sê Jansen.

Johnny Visser, ʼn boer van Vanwyksvlei, ʼn boeregemeenskap net duskant Prieska, sê hulle het ʼn plan gemaak om turksvybome aan diere te voer. “Die bome het begin vrek en ons het besef dat die dorings fyngemaal en vir die diere gevoer kan word. Dié dorings is ryk aan vesel en die plante in die veld bied nie meer die vesel wat diere nodig het om te oorleef nie,” verduidelik Visser.

Boere maak allerhande planne om kop bo water te hou terwyl die droogte voortduur. (Foto: Elaine Krige)

Die Noord-Kaap gaan die afgelope vyf jaar gebuk onder ʼn droogte wat sommige boere beskryf as “die ergste in menseheugenis”. Verskeie boere het reeds alles verloor en ander het alles verkoop en hul plase verlaat weens die las van die droogte.

Die oorblywende boere is egter vasberade om die wa deur die drif te trek. “Ons is nie sonder hoop nie. Die Here voorsien nog elke keer en ons glo die Here sal ons hierdeur ook dra,” sê Deon Oberholzer, voorsitter van die boerevereniging in Vanwyksvlei. Hy glo vas die reën gaan kom.

Intussen maak Suid-Afrikaners hul harte en beursies oop vir die boere. “Die gesindheid van mense oor die hele land wat inspring om ons boere te help, is vir ons ʼn riem onder die hart,” sê Joe Scholtz, ʼn boer van Griekwastad.

Vrydagaand is 1 360 sakke voer ter waarde van R300 000 in Vanwyksvlei afgelaai. Allan Harrison, ʼn senior handelaar van die internasionale graanhandelaar Seaboard in Durban, het die Noord-Kaap in Oktober besoek. Hy was só aangegryp deur die boere se nood dat hy sy base in die VSA oortuig het om die geld te skenk vir voer.

(Foto: Elaine Krige)

Boere maak ook planne met verskillende soorte geldinsamelings. Só het die gemeenskap van Prieska besluit om volgende jaar ʼn volstruis teen ʼn skaap te laat resies hardloop en weddenskappe te neem op watter dier sal wen. Dié geld sal dan gebruik word om boere in die gebied te ondersteun.

Johannes Jordaan van die landbouvereniging in Volop, tussen Griekwastad en Prieska, sê hy hou moed deur te konsentreer op dít wat hy kán beheer, eerder as die dinge wat hy nié kan nie, soos die weer. “Dit is ook belangrik om jouself te omring met positiewe mense wat positiewe stories vertel,” sê Jordaan. “ʼn Boer maak ʼn plan en ons sal aanhou nuwe planne maak vir elke nuwe uitdaging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Bess ·

Wat uiters nodig is om meer damme te bou.kan dieboere dit. Ie raaksien nie…carel boshoff het planne opgwstwl vir meer damme in die oranje..maar nou bou julle kerke wat nutteloos is..

an ·

Boer maak ‘n plan! … om skaap boerdery te staak in die Noordkaap WOESTYN!

Son en windkrag opwekking …. JA!

Die NOODKAAP kan SA se ESKOM probleem oplos!

Waar’s die geldskieters wat die “vleisprodusente” gaan verander in ELEKTRISITEIT PRODUSENTE?

Attie ·

Hoeveel het die ANC-kaders en hul meesters bygedra…?? Hul tafels kreun weer hierdié Kersfees met kos en drank.

Piet Pille ·

Sal definitief nie van die plase wat onder die droogte gebuk gaan, onteien nie, nee voortuitstrewende plase sal ge-teiken word om na ‘n jaar of so bankrot te wees.

Sic? ·

Moet ons nie die God van die Bybel eerder die eer gee nie en ons sonde belei nie

jaco ·

samel geld in, koop voer, maak planne. en oor 2 jaar word ALLES sonder vergoeding onteien. as ek daar geboer het, het ek net opgegee en weggegaan. laat die ANC die eienaarskap van die grond uitsorteer.
julle gaan nog lang trane huil omdat al julle hulp en geldinsameling van nou, uiteindelik as onnodig uitgewys sal word na onteiening sonder vergoeding.

helena ·

Jaco my vriend, waarheen sou jy gegaan het? Wat sou jy gedoen het om jou gesin te versorg? Sou jy daardie honger diere aan hul eie genade oorgelaat het? Indien jy dalk die diere sou wou verkoop, wie sal swak, uitgeteerde diere wil koop? Wie wil grond koop waarop jy ne eens kan boer nie. Hier is talle plase in die mark en op veilings kry hulle nie eens ‘n bod nie. Dit is baie maklik om op die kantlyn te staan en voorstelle te maak terwyl jy nie regtig ‘n begrip het van die omstandighede nie. Ons hulp is van die Here. Hy sorg vir ons deur al hierdie wonderlike mense wat skenkings gee. Hierdie droogte bring ons nader aan God en nader aan ons medemens.

Kobus N ·

Positiewe denke het ons nog altyd gered, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Die Weskaap gaan ook gebuk onder geweldige droogte en boere hier begin noustrop trek. Navorsing het getoon dat fluitjiesriet dieselfde protiën waarde as lusern het. Verlede Donderdag 5 Desember het die AfriForum Mosselbaai tak met behulp van weldoeners fluitiesriet in ‘n driffie in die industriële gebied gesny en aan melkboere gelewer. Eerskomende Donderdag word fluitjiesriet weer in Grootbrakrivier gesny om nog melkboere te help. Hierdie fluitjiesriet word elke 6 weke gesny as ‘n Munisipale funksie, dus is die riete lekker jonk. Die Mosselbaai munisipaliteit stel dit gratis aan ons beskikbaar. AfriForum Mosselbaai en ander rolspelers beplan om hierdie sny van riete te herhaal so lank dit nodig mag wees.

Moppie ·

Sjoe dis baie intressant di fluitjiesriet asook dat dit erlke 6 weke gesny kan word glo dis mos nou n nuwe rinting om inte gaan vir di Boere klink werklik baie goed

Karlahari ·

Ons het vir jare die beeste op ons Kalahari plaas deurgetrek deur die turksvye te kerf en soutbos en turksvye aangeplant.
Toe kom die scotchseneil wurm en vreet die turksvye bome tot in die stamme. Was ingebring om indringer plante te beheer. Party keer is ons te slim vir ons self.

Pampoen ·

Ai tog en as dit so lekker rëen by ons bid ek so dat dit daar ook so kan rëen. Sterkte vir daardie boere wat so sterk staan deur alles.

Hansie slim ·

Ek kan nie glo aan al die inisiatief om te oorleef nie!!! Wonderlik!!
Julle is ongelooflik… gemaak van die beste stoffasie!! Planne maak hulle planne!!

Gert Retire@Midstream ·

Ons beleef nou uiterstes. Droog en geope3nde hemele waarvoor ons dbaie dankbaar is.. Die een uiterste wat geen simpatie nodig het nie is die vermorsing van geld en hulpbronne. Prasa vandag!!!! Tall order to manage.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.