Druk op kleinhandelaars al groter

(Argieffoto: Pixabay)x

Die kleinhandelbedryf kom onder al hoe meer druk terwyl verbruikers hul sente omdraai en twee keer dink oor die items waarop hulle geld bestee.

Neigings in die kleinhandel-, groothandel- en motorverkopebedryf is dikwels ʼn aanduiding van die vraag na goedere en indien hierdie sektore begin duik, wys dit dikwels op beperkings op huishoudelike besteding, verhoogde besteding op ander dienste soos dié van restaurante, vervoer of eiendom – óf groter besparings weens vrese van ʼn meer riskante finansiële omgewing, soos destyds tydens die Covid-19-pandemie gesien is.

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) se handelspeiling vir die eerste kwartaal wys ʼn sektor wat onder al hoe meer druk is en swak verbruikersaanvraag ondervind.

Respondente in die kleinhandelsektor het tans veel minder vertroue as wat hulle gemiddeld sedert 2009 gehad het.

Vertroue het van 42% in die vorige kwartaal tot 34% in die eerste kwartaal van vanjaar getuimel wat kleinhandelvertroue op 6% minder as die langtermyngemiddeld te staan bring.

Dit is algemeen om in die eerste kwartaal swakker verkope te ondervind – wanneer dit met die feestyd vergelyk word – maar kleinhandelaars verwag ook laer verkope in die eerste kwartaal as in dieselfde tyd verlede jaar, het die BER se opname bevind.

Statistieke SA het reeds bekend gemaak dat kleinhandelverkope in Januarie 0,8% laer was as dié tyd verlede jaar.

“Verskeie faktore veroorsaak hierdie neigings. Verbruikers word geknyp deur hoër inflasie, veral kospryse wat die verkope van nie-duursame goedere pootjie en ʼn hoër rentekoers wat ʼn uitwerking op die verkope van duursame goedere het,” lui die verslag.

Verbruikersvertroue is nou boonop op vlakke wat laas tydens die Covid-19-pandemie en tydens verlede jaar se verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal gesien is. Die uitwerking van Rusland se inval van Oekraïne het in daardie stadium ook eers begin blyk.

“Kleinhandelaars probeer boonop die uitwerking van beurtkrag verminder deur swaarverdiende inkomste op rugsteunkragoplossings te bestee.”

Dit lyk ook of meer welgestelde verbruikers eerder in rugsteunkrag belê wat dan hul besteebare inkomste verminder.

Kosprysinflasie bly hardnekkig hoog, maar die BER sê op ʼn positiewe noot kan die prysvlakke van ander kleinhandelitems mettertyd stadiger toeneem..

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.