Dubbele moorde: Beskuldigde hoor sy lot

Stephen Lekoro in die beskuldigdebank nadat die hof verdaag het.

Stephen Lekoro was die aanhitser en het die moord op wyle Tewie Human koelbloedig beplan en roekeloos en metodies uitgevoer. Daarna het hy Eurika Human op gewelddadige wyse doodgemaak.

Met hierdie woorde het regter Mark Sher vandag vir Lekoro in die rondgaande hof in Mosselbaai skuldig bevind op twee aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede.

Die Human-egpaar is op 14 Junie 2016 in hul huis in Groot-Brakrivier vermoor. Mev. Human het gesterf as gevolg van verskeie steekwonde wat met ʼn handgemaakte mes toegedien is, terwyl mnr. Human met ʼn panga oor sy kop gekap is. Hy is ook met dieselfde mes as sy vrou gesteek, het die regter bevind.

Die getuienis van Lekoro se vriend, Thamsanqa Sishuba wat reeds twee lewenslange vonnisse vir die moorde uitdien en wat vir die staat teen Lekoro getuig het, is deur regter Sher as skrikwekkend beskryf, juis omdat Sishuba so koel en gemaklik daaroor was. “Daar moet dus met groot versigtigheid na sy getuienis gekyk word omdat hy ʼn selferkende krimineel is.”

Sishuba het onder meer getuig dat Lekoro die aanval beplan het. Hy het erken dat hy mnr. Human met die panga gekap het en gesê hy het daarna van die toneel weggehardloop. Later dieselfde dag het Lekoro hom vertel dat hy met mnr. Human “klaargespeel het” en dat mev. Human gepleit het dat hy haar nie moes doodmaak nie.

“Op die oog af was Sishuba se weergawe egter geloofwaardig en dit is ook deur ander getuies gestaaf,” het regter Sher gesê. “Ek kan aan geen rede dink waarom Sishuba sou lieg nie. Hy kon dit nie opgemaak het nie.”

Ds. Gerhard Pietersen troos sy vrou, Amor, na die uitspraak. Sy is die Humans se dogter en het vandag die hofverrigtinge vir die eerste keer bygewoon. Die Pietersens is vandag deur familie en vriende by die hof ondersteun, maar wou nie met die media praat nie.

Lekoro se weergawe dat dit Sishuba was wat agtergebly het en die Humans vermoor en die geld na ʼn Lesotho-bankrekening oorgeplaas het, is deur die regter as belaglik en fundamenteel onwaarskynlik beskryf. “Die beskuldigde se weergawe kan nie waar wees nie; dit is baie duidelik dat hy vir die hof gelieg het.”

Regter Sher het bevind dat Lekoro mnr. Human na die motorhuis gelok het, hom laat buk het om na iets te kyk en hom so in ʼn perfekte posisie vir die aanval met die panga gekry het.

Mev. Human is daarna wakker gemaak en was reeds beseer toe sy die R14 000 na die Lesotho-rekening van Lekoro se vriend oorgeplaas het. “Daar was reeds bloed aan die dagboek waarin die bankrekeningnommer geskryf was,” het die regter bevind.

“Daar is ʼn oorvloed bewyse dat die moorde beplan en metodies uitgevoer is.”

Lekoro word Maandag gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Ek hoop regter Sher gee sy vonnisoplegging so dat hierdie moordenaar NOOIT op parool vrygelaat mag word nie, al kry President Rhamaposa hom jammer en gelas dat hy vrygelaat moet word. Ontneem hom ook van alle vorm van menseregte soos familie besoeke, om verder te studeer, leesstof en TV in die tronk asoo kgesondheidsbehandeling. Hy is nie geregtig op menseregte nie want hy het nie die Humans se mensregte respekteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.