Dubbele vreugde vir Kirby van der Merwe se ‘Eugene’

Kirby van der Merwe, skrywer van ‘Eugene’. (Foto: Brenda Veldtman)

Kirby van der Merwe, ʼn skrywer, vertaler, visuele kunstenaar en joernalis, is Saterdag met twee kykNET-Rapport-boekpryse vereer vir sy lang verwagte roman, Eugene. Dié boek is vroeër vanjaar ook met die Eugène Marais-prys bekroon.

Van der Merwe is tydens ʼn spogfunksie by die Mount Nelson-hotel in Kaapstad as vanjaar se wenner van sowel die kykNET-Rapportprys vir fiksie as die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke aangewys.

Die keurders van die fiksieprys het Eugene, ʼn roman oor “ʼn gentleman-skollie wat sy helder verstand op die smokkeljaarts, langstoepe en in die vuilhoeke van die killing fields gekry het”, as ʼn waagmoedige werk uitgesonder.

“Dit is veral Van der Merwe se uitsonderlike slag met woorde wat die leser bybly: die vlugvoetigheid waarmee hy sy register na gelang van tyd en omstandigheid afwissel; hoe hy soms skaamteloos met digterlike beskrywings en helder beelde flikflooi; hoe hy ʼn mens met sy humor ontwapen en verlei; net om nou en dan – wanneer jy dit die minste verwag – met ʼn verpletterende uitklophou te verras.”

Naas verskeie vertalings die afgelope paar jaar, is Eugene Van der Merwe se eerste boek sedert die verskyning van sy hoog aangeskrewe debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, wat in 1999 verskyn het.

Ander boeke op die kortlys vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau) en Cas Wepener se Roman (Protea Boekhuis).

Ook benoem vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke was Dianne Du Toit Albertze vir bottelnek breek bek (Human & Rousseau) en Ruan Kemp vir Wit leuen (Tafelberg).

Die kykNET-Rapportpryse gee jaarliks erkenning aan uitnemende Afrikaanse boeke en resensies wat die vorige kalenderjaar verskyn het.

Eunice Visser, skrywer van ‘Die Kaapse slawe 1652-1838’. (Foto: Verskaf)

Benewens die kykNET-Rapportprys vir fiksie en Jan Rabie-Rapportprys is die KykNET-Rapportprys vir niefiksie, die kykNET-Rapport Herman Binge-prys vir ʼn fiksie- of niefiksiewerk met filmpotensiaal, en twee pryse vir resensies van Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik oorhandig.

Die niefiksieprys is aan Eunice Visser toegeken vir Die Kaapse slawe 1652-1838, wat by Protea Boekhuis verskyn het, en wat vanjaar ook met die LW Hiemstra-prys en die ATKV-prys vir niefiksie bekroon is.

“Dit is ʼn inklusiewe komvandaanstorie van die groter ons in Suid-Afrika, met al sy uiteenlopende, maar tog saamvloeiende kwaste en greine. Deur die prisma van haar besonder vars kulturele invalshoek belig sy die lewenswêreld van die slawe met seminale pitkos oor wat ons in Kaaps bedoel met die gesegde ‘alles-en-wat-wat’.

“Dit beteken dat sy nie lukraak veralgemeen en versamel het nie, maar forensies tot op die hibriede substraat van die slawewêreld gedelf het. Om te leen van ons slawevoorouers: boenting met vars insigte vir die sekolah van die toekoms,” meen die keurders van die niefiksieprys.

Ander boeke op die niefiksiekortlys was Wieg deur Joan Kruger (Litera) en Retoervloot deur Dan Sleigh (Tafelberg).

Chris Karsten het die filmprys vir Op pad na Moormansgat gewen. Karsten is pas ook as die wenner van vanjaar se ATKV-prosaprys vir dié roman aangewys.

“Filmgoud,” is hoe die filmkeurders Karsten se verhaal van Billy Foster en Koos de la Rey beskryf.

“ʼn Verhaal wat reeds al die bestanddele vir ʼn spanningsvolle boek én rolprent bied, is nie genoeg vir Karsten nie. Soos die kraai vlieg, trek Op pad na Moormansgat ons oor tyd en plek om ʼn reliëfbeeld van ʼn uiters plofbare tyd in Suid-Afrika uit te beeld.

“In swiep en omvang het ons hier te make met oorlog, politiek, misdaad en selfs groter sosiologiese onderstrominge. Karsten is egter nie ʼn kraai wat vlieg nie, maar ʼn jagter, wat sy karakters se spore oor berge en dale bekruip en van naderby bestudeer in ʼn veerkragtige verhaal met ʼn geheelbeeld van ʼn universele tema: ons verweefdheid as mense.”

As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela) en Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen-Wessels (Penguin), was ook op die kortlys vir dié prys.

Die Jakes Gerwel Stigting en sy vennote het tydens die geleentheid erkenning ontvang vir hulle reusebydrae in verryking en verruiming van die Afrikaanse letterkunde, onder meer met skrywersresidensies, mentorskapsprogramme en drama- en kortverhaalprojekte.

Sedert 2019 het 48 Afrikaanse skrywers, baie van hulle jonk en opkomend, tyd by die Stigting se skrywershuis in Somerset-Oos deurgebring. Vyf van hierdie skrywers, onder wie Kirby van der Merwe, verskyn op vanjaar se kortlyste, twee aan die resensiekant.

Die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar word toegeken vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke.

Deborah Steinmair het die fiksiekategorie gewen met “Antjie plunder met twee nuwe bundels: Die Vorstin van Vers laat ons binneste ruk deur die sublieme” wat handel oor Plunder en Vetplantfeetjies deur Antjie Krog. Dit is die tweede keer dat Steinmair ʼn resensieprys wen. In die niefiksiekategorie het Theodore Rossouw met die louere weggestap vir “Twee lewens deur Elise Bishop, ʼn resensie”.

  • Inligting oor deelname aan die pryse vir 2024 word binnekort bekendgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.