Duisende beelde, gedenkplate, monumente geplunder

Die skade aan die standbeeld van Louis Botha voor die parlement in Kaapstad. (Foto: Verskaf) 

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) wil in 2023 verhoed dat nóg erfenisskatte tot niet gaan nadat duisende beelde, gedenkplate, monumente en gedenkwaardighede oor die hele land heen die afgelope paar jaar deur vandale geplunder of verwoes is.

Die FAK het in November vanjaar, tydens ’n besoek aan Bloemfontein, die skokkende toestand van verskeie gedenkwaardighede, soos die ou Presidensie en Hofmannplein, waargeneem en besluit dat dié haglike omstandighede móét verander.

Talle beelde, waaronder die Sand du Plessis-beeld voor die Sand du Plessis-teater, die Hertzog-beeld voor die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) en die lourierkrans op die standbeeld van pres. Brand is in Bloemfontein gesteel.

Die WW1-senotaaf van Hoffmannplein (Bloemfontein) ontbreek danksy vandale 12 plate. (Foto: Verskaf)

By die WW1-senotaaf van Hoffmanplein word ook steeds 12 plate vermis. Die laaste ses moes verwyder en by Tempe in veilige bewaring geplaas word.

Die Brand-begraafplaas is ook beskadig. Vandale het verskeie stene gebreek en gemeenskapslede moes self opdok om dit te herstel en gereeld in stand te hou.

Die hartseer waarheid is dat die toestand van historiese skatte nie net in die Vrystaat só lyk nie, maar oor die hele land heen word al hoe meer gevalle van beskadigde gedenkwaardighede aangemeld, sê die FAK.

In Kaapstad is die standbeeld van Louis Botha voor die parlement in Maart vanjaar weer deur vandale geteiken toe dié beeld rooi geverf en sy een hak verwyder is.

Die graf van die bekende skrywer Alba Bouwer in Riversdal is in Januarie deur vandale beskadig.

Die FAK het in Mei 2022 rebellegrafte in die Kaap skoongemaak en herstel. (Foto: Verskaf)

Die rebellegrafte waaronder dié van Cornelius Vermaas – ’n Kaapse rebel wat tereggestel is omdat hy ’n Kakie-uniform gedra het – het óók vroeër vanjaar in Uitenhage deurgeloop onder vandale.

Die FAK moes elke keer ingryp en reël dat dit herstel óf in veilige bewaring geplaas word.

Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, vertel dat die agteruitgang in dié provinsie nie net aan vandalisme toegeskryf kan word nie, maar ook aan ’n tekort aan hulp en finansiering van die regering. “Dit blyk dat erfenisterreine, museums en gedenkwaardighede wat in privaat besit is en privaat bestuur word, steeds sukkel met klein begrotings; in sommige gevalle selfs net R10 000 per jaar.

Die Bethlehem-museum funksioneer met ’n R0-begroting en moet gereeld geldinsamelings hou, terwyl die Vegkop-erfenisterrein, Riemland-museum, Sarel Cilliers-museum op Doornkloof en Bethulie Pellissier-huis elk met ’n begroting van minder as R20 000 per jaar bestuur moet word.

Geen instandhoudingswerk is die afgelope drie jaar aan die Voortrekkermonument in Winburg gedoen nie en die museum is al verskeie kere gestroop. Die Polisiemuseum in Ventersburg staan ook vervalle.

Die FAK wil nou in 2023 hul netwerke nog meer uitbrei en gemeenskappe landwyd help om die erfenisskatte in hul dorpe te bewaar.

“Maak ons hande sterker en sluit aan by een van ons kultuurnetwerke of stig ’n nuwe netwerk in jou omgewing.”

Maak kontak met Barry Müller ([email protected]) vir meer inligting in die noordelike provinsie, Jan-Danie Malan ([email protected]) vir inligting in die Vrystaat en Elizma Smith ([email protected]) vir inligting oor die Kaapprovinsies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.