Die evangelis Angus Buchan het Saterdag ʼn kragtige boodskap gelewer tydens sy It’s Time-biddag in Kaapstad waar duisende mense saamgekom het om vir onder meer reën te bid.
Buchan het net voor 12:00 met ʼn helikopter by die Swartklip-sportterrein in Mitchells Plain aangekom.
“Ek wil nie tyd mors nie, want dit is ʼn baie belangrike historiese oomblik dié. God het vir my ʼn boodskap gegee: Mitchells Plain gaan die blom van Kaapstad wees en mense sal van oorsee af kom om te sien wat God in Mitchells Plain gedoen het. Dit is die begin van die herlewing,” het Buchan aan die skare gesê.
“Die Afrika-kontinent is een van lig en sal die laaste staande wees as Jesus kom. Ek wil die mense van Mitchells Plain vertel dat die kettingreaksie van slagoffer wees verby is.”
Hy het gesê mense moenie net kritiek teenoor die regering lewer oor die stand van sake nie. “Die probleem is juis binne die kerk, aangesien kerke te trots en arrogant is.”
Verskeie beweerde bendelede het op die verhoog geklim waar Buchan vir hulle gebid het. Hy het byna aan elkeen van hulle ʼn kledingstuk wat hy gedra het as geskenk gegee en vir elkeen ʼn spesiale boodskap oorgedra.
“God het wonderlike dinge vandag hier gedoen. Ons is verheug dat die pastoor hierheen gekom het en vir die boodskap wat hy oorgedra het,” het een van die toeskouers gesê. “Dit is wat ons nodig gehad en voor gewag het. En toe die pastoor begin praat het, het dit begin reën … dit is hoe goed God is.”
Mangosuthu Buthelezi, Inkatha Freedom-partyleier, asook hoofregter Mogoeng Mogoeng het ook die geleentheid bygewoon.
“Ek sien God se hand hier waar ek vandag is. Ek bid altyd en het nooit genoeg wysheid tensy dit van God kom nie. Op 1 Julie 2001 het ek my lewe aan God oorgegee en geweet my lewe sal nooit weer dieselfde wees nie,” het Mogoeng gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
125 Kommentare
Ek HOU hierdie berig vir die dag wat Mogoeng Mogoeng uitspraak lewer dat plaasonteienings sonder vergoeding heeltemal grondwetlik is en geen menseregte skend nie.
Ek wonder ook wat soek Buthelezi by die biddag. Toe hy minister van binnelandse sake was is pornografie in SA gewettig. En dis dan nou juis die een ding waarteen die organiseerders van die biddag is.
Prys die Here dit is wonderlik!
Ek sal glo dat Mongoeng sy lewe aan God gegee het maar dan moet hy ook regverdig wees omtrent regsuitsprake spesifiek die doodskis geval.
Die saad is in vrugbare grond gesaai…. dankbaar
En wat is soooo wonderlik aan die klere wat hy dra.. Wat gaan dit vir die mense doen… Angus.. Gee asb ook datums waarop god vir jou gese het hierdie voorspellings gaan waar word… Ongelukkig maak die God wat ek in glo nie wilde voorspellings sonder om presies te se wanneer dit gaan waar word nie… Ons wag in spanning om jou voorspellings te sien realiseer… Anders is jy maar net NOG n valse profeet…