Duisende kollege-sertifikate glo uitstaande

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Die departement van hoër onderwys is glo Nasionale Kwalifiserende Raamwerk (NKR)‑ en Sita-sertifikate aan duisende kollegestudente verskuldig, wat dit uiters moeilik maak vir dié studente om verdere studie‑ en werksgeleenthede na te streef.

Studente wat aan TVET-kolleges studeer, verwerf NKR-sertifikate op verskillende vlakke, waarvan N1 tot N4 gelykstaande is aan gr. 9 tot matriek. N5 tot N10 verteenwoordig verskeie nagraadse kwalifikasies.

Een van hierdie studente, wat verkies om anoniem te bly, wag al sedert September 2019 op sy bygewerkte N3-sertifikaat.

Die Pretoriase kollege waaraan dié student studeer, het hom op 4 November vanjaar ingelig dat hulle steeds nie dié sertifikaat van die departement ontvang het nie.

In ʼn e-pos wat die kollege aan die student gerig het, en wat Maroela Media gesien het, word aangevoer dat die departement reeds voor die Covid-19-pandemie met sowat 11 000 sertifikate agterstallig was.

Volgens die betrokke kollege is die probleem egter nou veel erger – glo weens die verskeie inperkingsvlakke en Covid-19-regulasies wat sedert die aanvang van die pandemie ingestel is.

Dit is nie duidelik hoe die kollege dié syfer bekom het nie. Die kollege kon die student ook nie van ʼn datum voorsien wanneer hy wel sy sertifikaat sal ontvang nie.

Maroela Media het vroeg die week reeds ʼn navraag aan die departement in dié verband gestuur, en hoewel hulle ontvangs erken het, is geen terugvoer ontvang nie.

Die student se pa, wie se naam ook op versoek nie gepubliseer word nie, sê hulle is keelvol vir die departement se “traak-my-nie-agtige houding en onbevoegdheid”.

Hy sê die oponthoud met die uitreik van sy seun se aangepaste N3-sertifikaat beïnvloed sy vermoë om sy loopbaan te bevorder.

“Sy N3-sertifikaat moet aangepas word om aan te dui dat hy Wiskunde op N3-vlak het. Sonder Wiskunde N3 kan hy hom nie verder kwalifiseer nie.

“Solidariteit bied tans die geleentheid om ʼn kwalifikasie vir ʼn bedradingslisensie te voltooi wat hy nie kan benut nie. ʼn Voorvereiste vir die kursus is ʼn volledige N3-sertifikaat met Ingenieurswiskunde, wat nie op sy verouderde sertifikaat verskyn nie.”

Andricus van der Westhuizen, DA-lid van die Wes-Kaapse wetgewer, sê die uitreik van sertifikate is “al vir baie jare ʼn geweldige probleem”.

Van der Westhuizen was tydens die vorige parlementêre termyn, wat in 2019 geëindig het, die adjunk-skaduminister vir hoër onderwys en opleiding in die Nasionale Vergadering en voorheen ʼn senior bestuurder by die Bolandse Kollege vir Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TBOO) in die Wes-Kaap.

Hy sê die agterstand met sertifikate word verder deur verskeie probleme met die departement se inligtingtegnologieagentskap (Sita) gekompliseer.

Sita, verduidelik Van der Westhuizen, verwerk studente se eksamenuitslae en gebruik ʼn algoritme wat bepaal of ʼn student vir ʼn sertifikaat kwalifiseer al dan nie. Sita moet ook die sertifikate druk en uitreik.

Van der Westhuizen sê probleme sluip dan onder meer in by studente wat die aflê van eksamens – om verskeie redes – oor meer as een eksamensiklus versprei.

Enige aanpassings as gevolg hiervan moet dan glo met die hand bywerk word aangesien Sita se stelsel nie daarvoor voorsiening maak nie.

“Sita het ook geweldige probleme met personeelomset, swak ouditresultate en die wisseling van bestuur.”

Benewens die NKR-sertifikate is daar glo ook lankal probleme met die uitreik van beroepsmatriekkwalifikasies – oftewel Sita-kwalifikasies.

“Die probleem was later so erg dat die departement besluit het om voortaan slegs vlak 4-sertifikate uit te reik, wat gelykstaande aan matriek is.”

Intussen, sê Van der Westhuizen, kan studente nie toelating tot verdere studies kry nie en ook nie vir werksgeleenthede aansoek doen nie.

“Kolleges word ook absoluut verbied om selfs ʼn stukkie papier in ʼn student se hand te stop wat sê: Volgens die uitslae wat die departement aan ons voorsien het, kwalifiseer hierdie student vir N3, N4, N5 en dies meer.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Baardman ·

Niks met inperkings te doen, dit is amptenare wat te sleg is om hulle werk te doen

Zombie ·

Moontlik is die eenvoudige proses om sertifikate uit te reik, doodeenvoudig te moelik vir die amptenare van die betrokke departement. Die Covid-19 pandemie sal heel moontlik vir die volgende paar geslagte as verskoning vir alles wat verkeerd loop, aangebied word.

Perdeby ·

Te sleg om te werk! Ek sien daar is ook net 2 nuwe berigte vir die Sondag jou net so saak!

Mariana ·

Hmmm so kry covid en lockdown weer die skuld, maar die probleem kom al van voor 2019 aan. 2003 moes my seun syne ontvang en tot hierdie dag was daar nog geen taal of tyding. By navraag het hy ook geen antwoorde gekry. So nee dis omdat mense nie opgewasse is vir hul poste nie. Net daar vir die vet salaris, geen werk nodig.

Mieke ·

Kan nie verstaan dat Covid mens se brein en vingers kan aantas nie! Die res van ons moes en kon almal van die huis af werk!

Nici ·

Mens sou dink dat onder hierdie omstandighede sal studente toegelaat word om ‘n beedigde verklaring af te le van hul vorige studies wat gebruik kan word om toelating vir verdere studie te verkry. As die student lieg is dit ‘n kriminele oortreding en hy sal waarskynlik nie deurkom as hy nie sy vorige studie afgele het nie. Dit help nie om te rigied te wees onder sulke onmoontlike omstadighede en nie die probleem te help oplos deur studente tegemoet te kom nie.

Jacobus ·

Kan Comrade Lesufi nie maar vir Orania en Soltech uitlos en na hierdie probleem buite sy kennisveld aanpak en teg laat geskied.

Nicolaas Hendrik ·

Ek glo hulle het verskillende probleme, want hulle is die probleem

Jannie ·

Hierdie probleem kom al vir jare maar word nie opgelos nie. Die probleem is al as krisis in 2015 beapreek. Nog steeds ñ oplossing gekry nie

Sarel ·

Niemand kry antwoord by die Minister nie.
Horkom volg die DA dit nie op nie…

Yvonne ·

Nou ja nog iets om by te voeg by die ANC se ‘ prestasies’……die lys is al so lank…..tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.