Duisende ouers, onderwysers registreer vir Bela-beraad

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Deur Heléne Leonard

’n Golf van teenstand bou op teen die omstrede voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) met ongeveer 3 000 registrasies wat teen Vrydag reeds aangemeld het vir die Bela-beraad van die Solidariteit Onderwysernetwerk.

Dié netwerk bied hierdie geleentheid Maandagaand in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), AfriForum en Fedsas aan.

Die konsepwetgewing is vroeër reeds deur die Nasionale Vergadering aanvaar en word nog deur die Nasionale Raad van Provinsies verwerk.

Die doel van die Bela-beraad is om die beoogde wetgewing en die impak daarvan op die onderwysstelsel, kinders, ouers en skole te bespreek. Dit vind op Maandag 26 Februarie om 18:00 by Solidariteit se hoofkantoor, asook aanlyn, plaas.

Die sprekers by die geleentheid is dr. Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit), adv. Albert Lamey, Alana Bailey (hoof van kultuursake by AfriForum) en dr. Jaco Deacon, (uitvoerende hoof van Fedsas).

Gaste én kykers van die uitsending sal na ʼn indiepte gesprek oor die voorgestelde Bela-wetgewing kan uitsien waarin die verwagte impak en vernaamste gevare van die voorgestelde wetswysigings uiteengesit word. Die sprekers sal dan in samewerking met ouers, onderwysers, skoolhoofde en ander partye werkbare oplossings probeer vind om die bedreiging wat die wetgewing vir Afrikaanse onderwys inhou, teë te werk.

Besprekingspunte op die beraad sluit in:

  • die omvang, impak en gevare van die Bela-wetsontwerp;
  • hoe die Bela-wetsontwerp beheerliggame kan raak; en
  • strategiese beplanning vir die beheerliggaamverkiesing van 2024 in die lig van die Bela-wetsontwerp.

Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, sê daar bestaan ernstige kommer dat die Bela-wetsontwerp ʼn groot bedreiging vir spesifiek Afrikaanse skole, maar ook vir moedertaalonderrig in die geheel, inhou.

“Die skole kan hulle reg om hul eie taalbeleid te bepaal, verloor en drastiese verandering aan die skool se toelatingsbeleid word ook moontlik. Die Bela-wetsontwerp word volgens ons ʼn poging van die regering om, met die steun van die EFF, openbare skole deur dié wetswysigings te kaap,” sê Botha.

Solidariteit staan vas by sy voorneme om teen die Bela-wetsontwerp op te tree en is bereid om die saak in die hof te beveg sodra die president dit goedkeur.

Ouers en onderwysers word genooi en aangemoedig om die beraad by te woon om sodoende bemagtig te word om die toekoms van hulle kinders uit die hande van die staat te hou.

Die beraad word aanlyn uitgesaai vir diegene wat dit graag aanlyn wil volg.

Klik hier om te registreer en aanlyn by die beraad in te skakel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.