Duisende rande se vee terug danksy private ondersoekers

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Private ondersoekers wat veediefstalsake in die Vrystaat ondersoek het in die afgelope vier maande groot sukses behaal deur duisende rand se gesteelde vee terug te vind. Die ondersoekers het boonop talle vermeende betrokkenes vasgetrek en voor die hof gebring.

Vrystaat Landbou (VL) het vroeër vanjaar in samewerking met die LGV-veiligheidsmaatskappy ʼn projek geloods wat boeregemeenskappe en die landbousektor bystaan in sake waarin vee gebuit is.

Die private ondersoekers is op verskeie dorpe geplaas om boere en die polisie met veediefstal-ondersoeke by te staan.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidkomitee, sê sedert die projek in Julie geloods is, is 241 skape en 98 beeste teruggevind nadat dit gesteel is. Die vee is gesamentlik sowat R1,5 miljoen werd.

In ses afsonderlike veediefstalsake is altesame 14 verdagtes in hegtenis geneem. Daar is verder op vier voertuie en ʼn sleepwa beslag gelê.

“Die inisiatief is begin omdat gevalle van veediefstal onaanvaarbare vlakke bereik het. Dit het duidelik geraak dat ʼn gemeenskapsinisiatief nodig gaan wees om te help om dinge om te keer,” sê hy.

Die private ondersoekers is tans van Steynsrus tot Sasolburg en van Viljoenskroon tot by Frankfort werksaam. VL is besig om die ondersoekers se reikwydte na ʼn verskeidenheid dorpe uit te brei, asook na gebiede langs die Lesotho-grens.

Volgens Le Roux is daar die afgelope drie maande heelwat inligting ingewin rakende die beweging en verskuiwing van vermoedelik gesteelde vee. Miljarde rande se vee word jaarliks gesteel en dikwels na afsetpunte in Gauteng geneem.

Die private ondersoekers het intussen hande geneem met speurders in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en werk nou saam om die werklas van polisiebeamptes te verminder.

Le Roux sê daar tans 24 navraagdossiere en 26 dossiere wat verband hou met veediefstalsindikate wat saam met speurders ondersoek word.

“VL het ook ʼn samewerkingsooreenkoms met National Crime Assist (NCA) aangegaan om veediefstal te stuit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carel ·

Wanneer ‘n boer moet “Self Doen” omdat jou polisie diens, nie belangstel om ‘n boer te help nie

tweeling ·

Korrek, en dit is nie noodwendig agv mannekrag tekort by die polisie nie hulle is net lui.

007 ·

Wat het van die veediefstal eenheid geword? Is hulle dalk self betrokke? Of braai hulle saam die diewe. Laat mens wonder.

Amelia ·

indien polisie alleen die saak moes ondersoek sou niks gebeur het nie en boere net skade ly dankie vir almal wat help om veediewe aan te keer

skurweberg ·

Die regering, behoort nou aanspreeklikheid vir die uitgawes van boere te aanvaar Die privaat ondersoekers werk seker nie verniet nie. Dagvaar die Spul soos die boere van Zim

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.