Duisende steun petisie om Swart swaarder te straf

Die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart. (Foto: Verskaf)

ʼn Petisie wat ʼn beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) doen om die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart se “power” vonnis teen te staan, was Donderdag reeds deur meer as 20 000 mense onderteken.

Die petisie is deur Alexa Jooste begin, wie se suster, Charlene October, ’n jaar gelede in haar huis in Elim in die Wes-Kaap vermoor is. October se eksman, Ashley, staan saam met Tashwill van der Rheede onder meer op aanklagte van sameswering tot moord, sameswering om moord en roof te pleeg en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede tereg.

Jooste het Donderdag aan Maroela Media gesê dat sy Nicoleen, Swart se vervreemde vrou, as gelukkig ag omdat sy uit haar omstandighede kon ontsnap. Sy wens dat haar suster dit ook kon doen en dat sy destyds dieselfde waagmoed en dapperheid as Nicoleen gehad het.

Swart is onlangs ʼn boete van R20 000 deur die streekhof in Pretoria-Noord opgelê, asook drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is nadat hy aan die aanranding op Nicoleen skuldig bevind is. Van die aanrandings op Nicoleen is ook op video vasgevang. Die ligte boete wat Swart opgelê is, het skerp kritiek en woede uit verskeie oorde ontlok. Swart het intussen skoonveld verdwyn en dit is na sowat drie weke steeds onduidelik waar hy hom bevind.

Die petisie vra nou dat Swart se vonnis verswaar word.

Te min gedoen om geweld teen vroue te bekamp

Jooste sê daar word glad nie genoeg gedoen om geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika te hanteer of te bekamp nie.

“Daar word nie opgetree teen die mense wat wel aangegee of aangekla word nie. Indien daar wel opgetree word, word hierdie oortreders oor die vingers getik met ʼn ligte vonnis of boete wat hulle kan afbetaal – soos in Jaco Swart se geval.”

“Jy as vrou sit met die emosionele en fisieke letsels. Jy as vrou moet die stukke optel en aangaan met jou lewe. Hoe? Niemand gee om nie, want solank die owerhede sê hulle staan vir vroue- en kinderregte, lyk dit asof hulle dit nie hoef te bewys nie.”

Jooste sê sy is ʼn doodgewone burger wat diep seergemaak en geraak is deur wat met haar suster gebeur het. Hoewel sy Nicoleen nog nooit ontmoet het nie, voel sy tog asof sy haar ken omdat Nicoleen soveel slagoffers van geslagsgebaseerde geweld verteenwoordig.

Nicoleen Swart (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Nicoleen het Donderdag aan Maroela Media gesê sy is bewus van die petisie en dat sy nooit verwag het om soveel ondersteuning van die publiek te kry nie.

Sy sê dat nie net haar familie en vriende nie, maar ook soveel vreemde mense agter haar staan. Nicoleen meen dié mense wil nie net geregtigheid vir haar hê nie, maar vir alle ander slagoffers wat hulle in dieselfde situasie bevind. Sy meen daar is soveel mense wat omgee en dat daar wel ʼn uitweg uit dié situasies is.

“Dit bewys dat ons as slagoffers moet begin praat. Sodra jy as slagoffer praat, is jy ʼn oorwinnaar. Ek wens ook dat ek geweet het wat ek vandag weet, dan sou ek vroeër gepraat het.”

Lee-Anne Germanos, senior veldtogbeampte by Change.org waar die petisie teen Swart gedryf word, sê petisies verteenwoordig die kollektiewe stem van Suid-Afrikaners. Sy sê ook dat petisies burgers se grondwetlike reg is en iets is wat nie genoeg benut word nie.

“Die doel van Alexa se petisie is om die NVG te laat weet dat Suid-Afrikaners geen verdraagsaamheid teenoor geslagsgebaseerde geweld het nie, en dat hulle ʼn gepaste vonnis vir Jaco Swart soek.

“Daarom eis hulle dat die NVG teen Swart se vonnis appelleer.”

 Swart steeds skoonveld

Maroela Media het vroeër berig dat Swart sowat drie weke gelede skoonveld verdwyn het kort nadat hy glo self aangerand is, maar te bang was om ʼn klag in te dien. Hy het glo ná die voorval weggekruip en daar was ook berigte dat hy oor selfdood praat.

Charlene October is verlede jaar vermoor. Haar eksman staan tereg op haar moord. (Foto: Facebook)

Sy prokureur, Enoch Nethanani, sê hy op 20 Junie laas van sy kliënt gehoor en dat hy sy laaste weeklikse betaling vir Nethanani se regsdienste op 30 Junie gemaak het.

Nethanani het opnuut aan Maroela Media bevestig dat hy glad weet waar Swart hom bevind nie en geen kontak met hom het nie. Hy sê voorts dat hy Swart ook nie meer verteenwoordig nie aangesien hy geen verdere “instruksie of betaling van Swart ontvang het nie”.

Nethanani het vroeër gesê dat Swart veronderstel is om aan die einde van elke maand onderhoud te betaal.

Nicoleen het Donderdag gesê dat sy niks van Swart se verdwyning weet nie, maar wel bevestig dat sy nog geen betaling vir onderhoud ontvang het nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Swart word nou gejag soos ‘n dier hoekom word die plaasaanvallers wat vroue en kinders verkrag en erg aanrand nie met dieselfde passie gejag nie of het swart nou ‘n uitlaat klep geword om van opgehoopte frustrasie ontslae te raak.

Chillipit ·

Nee, die is nou n simpel reaksie. Ek glo as verdagte plaasmoordenaars se gesigte so versprei was op sosiale media, met adresse en nommers, soos in die man se geval, sou daar baie minder van hulle nog vry rondgeloop het. Die publiek se reaksie sou diesefde gewees het, dalk nog erger…

KatjieDeKat ·

Ek sien jy kom altyd op vir Jaco..probeer altyd die aandag van hierdie spesifieke man weglok..Interressant.

domheks ·

Weereens bewys dat die regering iets se, maar as dit by dade kom is daar net mooi NIKS!
Ons regstelsel is ‘n groot grap!

Adri ·

‘n Narsis soos hy sal nie selfdood pleeg nie. Hy sal wel op ñ stadium weer opkom vir asem uit sy gaatjie, hetsy of hy honger word of sy hande jeuk om ñ volgende vrou af te stof. Lafaard.

Koos 100 ·

Nee, los hom vry. Hy lewe in vrees nes sy vrou moes leef.

Johan ·

Wat! Dis ongelooflik! Hy moet vir poging tot moord sit, aanranding met die doel om ernstig te beseer! Wat was die klag.

Miena ·

1-2-3 Blok myself!!!
of is dit liewer n geval van
1 – 2: they are coming for you,
3 – 4 : better lock your door…

ES ·

Lekker, nou verontagsaam hy nog ‘n hofbevel ook (omdat hy nie onderhoud betaal nie) en daarvoor kan hy tjoekie toe gaan sodra hulle hom vind.

Praat van pluk ‘n lat vir jou eie….

yahneh ·

Die deur is wawyd oop maar hy is in die tronk. Lewenslank. Deur gevolge van dade. Na al die publisiteit sal hy nooit weer ‘n vry man wees nie. Kan nie aan ‘n erger straf dink nie. Ons almal maak keuses, sy keuses het hom gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.