Duitsers moet opdok ná reptielsmokkel

‘n Gordelakkedis. (Foto: ANA via die CapeNature webtuiste / http://www.capenature.co.za)

Twee Duitse burgers wat Donderdag in die streekshof op Upington skuldig bevind is aan die smokkel met bedreigde reptiele, is opgeskorte vonnisse van tien en 11 jaar elk opgelê, of ʼn boete van R175 000.

Hulle is egter weer op soortgelyke klagte in hegtenis geneem kort nadat hulle uit die Noord-Kaapse hof gestap het en sal binnekort in die landdroshof in Kempton Park aan die Oos-Rand verskyn.

Die vonnisse wat deur die Upington-streekshof opgelê is, kom nadat die Duitsers ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Die hof het ook beveel dat Daniel Lodhe en Marco Drescher elk onderskeidelik R350 000 en R100 000 ten bate van natuurbewaring moet betaal. Dit is benewens die boete van R175 000.

Lodhe en Drescher is op vier aanklagte van die onwettige besit en handel van bedreigde spesies skuldig bevind en gevonnis, en ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.

Luidens ʼn verklaring deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake is die twee verlede jaar naby Askam in die Noord-Kaap in hegtenis geneem ná ʼn multidissiplinêre geheime reptieloperasie wat die departement in samewerking met die Groen Skerpioene en die Valke uitgevoer het. Die omgewingsmisdaadsentrum, die polisie, SANParke, omgewingsmisdaadinspekteurs, die Noord-Kaapse departement van omgewingsake en die private sektor was ook by die operasie betrokke.

Lodhe en Drescher is op heterdaad betrap terwyl hulle reptiele – insluitend bedreigde en beskermde gordelakkedisse en skilpaaie – gevang het met die doel om dié reptiele uit Suid-Afrika te smokkel. Alle skilpaaie word deur die Konvensie oor die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora gelys, wat internasionale handel met hierdie spesies reguleer.

Ingevolge die pleitooreenkoms is albei mans skuldig bevind op al vier aanklagte met Lohde en Drescher wat onderskeidelik tot 11 jaar en tien jaar gevangenisstraf gevonnis is, of ʼn boete van R175 000 elk.

Die vonnisse is in geheel vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle in dié tyd nie weer aan die oortreding van die Noord-Kaapse Natuurbewaringswet skuldig bevind word nie, asook sekere afdelings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

Lohde is verder beveel om R350 000 in die departement van bosbou, visserye en omgewingsake se rekening te betaal en Drescher R100 000. Die geld sal glo aangewend word vir die “behoorlike uitvoering van die omgewingsbestuursinspektoraat se afdwingingspligte om die onwettige handel in vetplante in Suid-Afrika te takel”, veral in die Noord-Kaap.

Die mans is egter kort ná die hofverrigtinge weer in hegtenis geneem. Dit volg ná voortgesette ondersoeke en soortgelyke aanklagte wat verband hou met ʼn saak in Gauteng. Nog inhegtenisnemings word in verband met dié saak verwag.

“Die samewerking deur alle lede van die multidissiplinêre span moet geloof word. Sonder die toewyding van die Groen Skerpioene, lede van veiligheidsinstansies, die Nasionale Vervolgingsgesag, provinsiale amptenare en die private sektor, sal ons nie die oorlog teen natuurmisdaad kan wen nie,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Burgermeester ·

Ek hoop hulle arresteer en beboet die klomp Sjinese wat ons viswaters en ons ivoor plunder. Of word hulle maar toegelaat om te maak soos hulle wil omdat hulle vriende is met Cyril?

Bernard ·

Sluit albei van hulle toe, buitelanders of te not, en gooi die sleutels vêr weg.

Hendrik ·

Soos sake vandag bestaan tweifel ek of daai gelde ooit vir die regte doel aangewend sal worf.

Kokerboom ·

Pragtig. Swaarste strawwe vir ALLE rowers/diewe/ verwoesters van ons pragtige natuurlewe. Dit maak my kwaad verby

Groen-oog ·

Waar word daai gelde wat vir natuurvewaring moet gaan inbetaal? En gaan dit vir die regte bedreigde spesie?

Leana ·

Gooi hulle uit die land en moenie dat hulle weer in SA kom nie.

Anel ·

Laat hulle die geld betaal en deporteer hulle. Hulle is mos Duitse burgers. Stuur hulle terug waar hulle vandaan kom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.