Durban-gyselaarsdrama: Verdagte het ‘pensioengeld’ geëis

Die polisie en nooddienste is omstreeks 14:30 na die toneel ontbied (Foto: Verskaf)

Die man wat Donderdagmiddag ’n werknemer in die pensioenfondskantoor in die Durbanse middestad gyselaar gehou het, het glo pensioengeld geëis.

Volgens kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, is die man ʼn afgetrede oud-veiligheidsbeampte wat sy pensioengeld – van die afgelope drie jaar wat hy glo nie ontvang het nie – geëis het.

“Die man het omstreeks 14:20 die pensioenfondskantoor op die 13de verdieping van die Salmon Grove-kantoorgebou in Anton Lembedestraat ingegaan en ʼn bestuurder sowat twee ure lank gyselaar gehou. Hy was gewapen,” sê Mbele.

“Sy vuurwapen was sigbaar, maar hy het dit nooit gebruik nie. Hy het net mondelinge dreigemente gemaak.”

Maroela Media het vroeër berig die man is kort na 16:00 in hegtenis geneem. Dit volg nadat die polisie met hom onderhandel het.

Die polisie en nooddienste is omstreeks 14:30 na die toneel ontbied. Die polisie se spesiale taakmag en plofstofeenheid is sowat ʼn uur later ook ontbied.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med wat op die toneel was, sê geen sterftes of beserings is aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek’t geweet dit gaan oor geld. Net jammer mens moet tot uiterste optrede gaan vir jou eie geld magtag!

Yvonne ·

Honger (veral terwyl die vet katte floreer) maak mense desperaat! Hierdie arme man se breekpunt het 3 jaar geneem. Net jammer hy het iemand anders se lewe daardeur in gevaar gestel.

N ·

3 jaar nie sy geld ontvang nie. Hys n baie geduldige man, verbaas hy het dit nie na 1 jaar gedoen nie. Hulle sê mos ‘pasop vir die woede van n geduldige man’.

ES ·

Hierdie kon vermy geword het as hulle net vir die man sy pensioengeld betaal het. Waarvan het hy gelewe die afgelope 3 jaar?

marius ·

Wie het hom gedryf tot raserny ? Hou ook op om te se mense moet aanklop vir hulp , want daar is geen ! Patetiese hool .

SjN ·

Afrika tyd, hoekom dinge vinnig afhandel, more is nog n dag, behoort binne 3 maande afgehandel te wees as diit reg gedoen word.

Di ·

Presies wat ek in die vorige berig gemeld het. Mense raak desperaat want daar is net geen dienslewering in verskeie instansies nie. Help ook nie om te gaan kla of die persoon wat nie sy werk doen, te gaan verkla nie.

Heinrich ·

Daar is te veel voorbeelde van hoe sleg dienslewering deesdae gaan in verskeie sektore, enige normale mens voel geïrriteerd en verontwaardig in sulke gevalle. Kan hom glad nie verkwalik nie.

johann ·

Is dit dieselfde voorval waar berig is dat daar plofbare toestelle om sy middel gebind was ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.