Durbanville-gesin betrap inbreker helder oordag in huis

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Die polisie in Durbanville in die Wes-Kaap ondersoek ʼn saak van huisbraak nadat ʼn 29-jarige man Dinsdag helder oordag by ʼn gesin se huis in Valmarypark ingebreek en glo geld by hul tienerdogter geëis het.

Die man het die diefwering van een van die kamervensters verwyder om toegang tot die huis te verkry, waar hy ʼn skootrekenaar gevat het voordat hy die tiener se kamer binnegegaan het.

Haar pa was ook ten tyde van die voorval tuis.

Volgens AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het ʼn onderonsie gevolglik tussen die man en die inbreker ontstaan.

“Die klaer het die verdagte oorrompel en aan beamptes van die Durbanville-polisie uitgelewer. Die 29-jarige man is in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas.”

Tommy Robinson, kontrolekamerbestuurder by die sekerheidsmaatskappy, Halt Security, wat ook na die toneel ontbied is, sê inbrake soos dié het in die afgelope tyd effens in die Valmarypark-, Sonstraal- en Eversdal-omgewing toegeneem. Hy meen dit is egter meestal “individuele kansvatters” en nie ʼn geval van georganiseerde misdaad nie.

Robinson sê dieselfde verdagte wat Dinsdag by hul kliënt se huis in Valmarypark ingebreek het, het vermoedelik Maandagaand ook by ʼn ander huis in die Sonstraal-gebied ingebreek.

“Sy foto is die vorige aand op sosiale media gedeel as die verdagte wat by ʼn ander huis ingebreek het. Die polisie het hom glo tydelik aangehou, maar weer laat gaan. Die volgende dag is hy in ons kliënt se huis betrap. Hy het nog dieselfde klere aangehad as op die foto wat die vorige aand geneem is.”

Robinson sê die voorval was inderdaad traumaties vir die gesin, maar gelukkig is almal ongedeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jacobus ·

So raak die kriminele nou al brawer as gevolg van n sisteem wat meer beskerming bied aan kriminele?
Doodluiters diefwering afbreek? Ek wonder ook maar net

Cherokee ·

Ag tog.. wonder dan ook maar net as dit jou goed laat voel.

Catherina ·

Kyk na nuwe ontwikkeling langs El Shaddai skool…….. Baie meer van hierdie soort misdade gaan nog plaasvind. Niemand voel meer veilig naby hierdie behuisingsprojek nie. . …

Delia ·

En wat sou SAPS gesê het as hy die tiener verkrag het en haar pa doodgemaak het

Cherokee ·

‘n Skootrekenaar kan nie lekker smaak nie. En dit is hard!

Jannie van Niekerk ·

“Tydelik aangehou en laat gaan.” Duidelik is daar ANC en EFF polisielede in daardie polisiestasie se diens want hulle is mos misdaad goedgesind. Tien teen een is hy alweer op vrye voet.

Onnie ·

Daar het jy dit! Miskien moet iemand vir hom Dai Ou Mti Hoed se adres gee, dan kan hy vmiddag as hy weer vrygelaat word sommer daar gaan inbreek.

Hayntjie ·

ʼn Misdadiger, met klinkklare bewyse dat hy ʼn misdaad gepleeg het, is laat gaan om binne 24 uur weer ʼn misdaad te pleeg. Iewers maak iets nie sin nie.

Dup ·

Met SA se misdaadsyfers is dit duidelik dat die kriminele geensins deur die polisie afgeskrik word nie.Deesdae hardloop die polisie vir die kriminele weg en nie andersom nie.Geen persoon is meer veilig nie want die skelms doen basies net wat hulle wil.

Anel ·

As hulle hom die eerste keer laat loop het, loop hy sekerlik nou weer vry rond, oppad na sy volgense misdaad!!! Onthou, dis werk om ‘n verklaring te skryf, om die verdagte in die selle in te boek, sy eiendom neer te skryf, sy vingerafdrukke te vat ens, ens,ens!!!

Rudolf ·

“Die polisie het hom glo tydelik aangehou, maar weer laat gaan.” Mooi man.

Eden ·

Ou Bheki het nou nie presies gesê hoeveel huisbrake plaasgebind het nie, maar 6000 en iets is in die laaste 3 maande vermoor. Ek verwonder my altyd hoekom een misdaad soos hierdie in ‘n berig uitgesoek en voorgehou word? So asof dit nie elke dag 500x gebeur nie.

Blikkies ·

En sommer net so weer vrygelaat vir huisbraak om net ‘n ander een te gaan pleeg. Wonder of hy weer uit is op straat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.