Duur bates gevries in omstrede blouligsaak

(Foto: Verskaf)

Die Batebeslagleggingseenheid (AFU) het die bates van beskuldiges wat met die omstrede blouligskandaal verbind word, gevries.

Die bates sluit in ten minste 19 onroerende eiendomme wat aan die beskuldigdes gekoppel is, asook ongeveer 115 voertuie, waaronder drie vragmotors.

Volgens Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die aangestelde kurator Vrydag saam met die balju van die hof, lede van die Valke en lede van die AFU na sekere woonadresse in Sandton, Pretoria, Boksburg, Springs en Sasolburg gegaan om ʼn voorlopige beperkingsbevel uit te voer. Dit volg ná ʼn aansoek deur die AFU.

“Die bevel is op 18 Augustus deur die hooggeregshof in Johannesburg toegestaan en identifiseer bates met ʼn waarde van R75 miljoen,” bevestig Seboka.

(Foto: Verskaf)

Ondersoeke duur voort om verdere bates op te spoor.

Maroela Media het vroeër berig die skandaal hou verband met die toekenning van ʼn bedrieglike multimiljoenrand-tender vir waarskuwingstoerusting vir die polisie.

Die beskuldigdes in die saak word daarvan aangekla dat hulle saamgewerk het om seker te maak ʼn kontrak word toegeken aan ʼn maatskappy wat aan Vimpie Manthatha, direkteur van die maatskappy Instrumentation for Traffic Law Enforcement, behoort. Volgens die kontrak sou 1 550 polisievoertuie teen oordrewe pryse met waarskuwingsligte toegerus word

Die beskuldiges staan tereg op aanklag van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery.

Die ander beskuldigdes sluit in Deliwe de Lange, adjunkpolisiehoof in Gauteng, brig.genl. Nombhuruza Lettie Napo, lt.genl. Ramahlapi Johannes Mokwena (afgetrede polisielid), brig. James Ramanjalum, kol. Thomas Dumas Marima, sers. Maetapese Joseph Mulaiwa en twee burgerlikes, Judy Rose en Samantha Andrews.

Tydens die verkrygingsproses het die beskuldigdes glo die mededingende aanbiedingsproses geminag en die SAPD sou R191 miljoen ten gunste van Manthatha se maatskappy moes oorbetaal in ruil vir voordele.

Indien die beskuldigdes wel skuldig bevind word, sal die AFU voortgaan met ʼn aansoek om die bates te konfiskeer, wat uiteindelik gemik is op die terugvordering van die gesteelde geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel ·

Vra ek jou hoe moet die Poliesman op Grondvlak sy werk eerlik doen?

Souterig ·

Mooi so, wag in spanning vir soortgelyke optrede teen die VBS bank skuldiges.

Wondermaarnet ·

Hulle eie mense lewe in armoede en hulle help nie. Goed so, vries als en veil dit op.

Pablo ·

Lekker ANC se stryd teen Apartheid. Alles gaan oor geld.Genade

duiweboer ·

Daar gaan niks van kom nie. Hy Se mos dat hy Ken mense in hoe plekke

Oosieoos ·

Almal pokisie groot koppe. Hoe kan ons, ons land se veiligheid aan hulle toevertrou. Hier moet nou vinnig a ommekeer kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.