Duur Eskom-krag ‘SEB se skuld’ – navorsing

(Argieffoto)

Nadat Eskom sy teikens vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) bo alles anders geprioritiseer het, het kostedoeltreffendheid by die kragvoorsiener by die voordeur uitgeloop en sit gewone Suid-Afrikaners nou met peperduur en onbetroubare krag wat die land daagliks in duisternis dompel.

Die beheptheid met SEB beteken ook dat Suid-Afrikaners tans minstens 27% meer betaal vir krag as wat nodig is, dui die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in ʼn nuwe verslag oor die koste van swart bemagtiging op die energiesektor aan.

Theuns du Buisson, ʼn ekonomiese navorser by SNI, sê breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BBBEE) het nie net die deur vir staatskaping geopen nie, dit het ook die Suid-Afrikaanse steenkoolsektor tot so ʼn mate ontwrig dat slegs diegene wat swart én polities gekoppel is, enige kans het om in die bedryf te oorleef.

Benewens die steenkoolaankope wat Eskom by hoofsaaklik vyf groot maatskappye doen, word ʼn middelman weens SEB-beleid by verskeie ander stappe in die waardeketting ingewerk. Dit jaag die kragprys uiteindelik verder op, met ekstra rolspelers wat ekstra wins by kontrakte inbou.

Gewone Suid-Afrikaners betaal hiervoor.

“Dit geld die hele steenkoolverskaffingsketting asook alle ander verkryging wat Eskom doen. Voorbeelde sluit in die aankoop van besems, buisligte en melk teen buitensporige pryse, omdat Eskom se beleid aankope by algemene handelaars verbied,” sê Du Buisson.

Die navorsing wys ʼn reuseprysverhoging in krag het tussen 2011 en 2012 plaasgevind – en dit word steeds volgehou – nadat Eskom gekies het om “voorkeur aan transformasie eerder as prestasie” te gee. Die koste om krag te produseer het na dié besluit met 42% toegeneem en het nou gestabiliseer op vlakke wat naastenby 27% meer is as wat ander rolspelers in dieselfde omstandighede vir krag sou vra.

“Indien ons in ag neem dat ander, minder kwantifiseerbare uitgawes in die najaag van transformasie aangegaan word, kan ons veilig aanneem dat BBBEE die prys van krag veel verder opjaag, maar met nie minder nie as 27%.”

Eskom het verlede jaar ʼn verlies van R9,1 miljard gely en Du Buisson sê as die kragvoorsiener nie ʼn SEB-beleid toegepas het nie, sou Eskom ʼn wins kon toon. Sy SEB-beleid kos Eskom tussen R12 miljard en R14 miljard ekstra en dit is koste wat geen waarde tot enige element van die kragopwekkingsproses voeg nie.

Connie Mulder, hoof van SNI, sê die situasie is veroorsaak omdat Eskom se teiken nie net kragopwekking is nie, maar ook transformasie – en indien enigiets, het Eskom “net sy beurtkragteikens getref”.

“Geen moderne ekonomie kan sonder energie funksioneer nie. Ons het twee opsies: Ons kan energie skep, of ons kan ons ekonomie van ʼn moderne een na ʼn geïndustrialiseerde ekonomie verander.

“Ons moet baie bekommerd wees,” sê Mulder.

Residensieel is beurtkrag vir die meeste mense ongerieflik, maar in die breër ekonomiese prentjie beteken dit Suid-Afrika word ook al hoe meer “onbelêbaar”. Die krag is elders in Afrika dalk ook af, sê Mulder, maar daar kry maatskappye wat beleggings doen ʼn veel beter opbrengs.

“Die krisis is die grootste eksistensiële gevaar vir ons ekonomie en geen stappe is gedoen om dit op te los nie.”

Aansoek om afwyking van vereistes

Solidariteit het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, nou skriftelik gevra om aansoek te doen vir kwytskelding van sekere bepalings in die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging, wat veronderstel is om transformasie tot gevolg te hê.

Die wetgewing maak wel voorsiening dat die minister van handel en nywerheid kwytskelding van sekere bepalings kan gee, of ʼn afwyking daarvan kan toelaat.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê in die brief Eskom se droewige finansiële situasie regverdig ʼn aansoek om kwytskelding of afwyking. SNI se verslag oor die koste wat swart ekonomiese bemagtigingskriteria by die koste van kragvoorsiening voeg, is as stawende dokument aangeheg.

Solidariteit benadruk in die brief ook sy verbintenis tot ʼn nie-rassige en nie-seksistiese samelewing en sê wanneer finansiële probleme soos nou ondervind word, behoort daar stappe gedoen te word om los te kom van statutêre verpligtinge wat ʼn onvolhoubare finansiële situasie vererger.

“Dit is veral so omdat die gemiddelde burger opdok vir die koste-implikasies van Eskom se voortgesette toepassing van BBBEE-bepalings.”

Hermann skryf ook dat hoë kragpryse, wat spruit uit die toepassing van BBBEE-beginsels, in die pad staan van breedgebaseerde en effektiewe deelname van swart mense aan die ekonomie.

“In lig van bogenoemde versoek Solidariteit Eskom om ingevolge art.10(2)(a) by die minister aansoek te doen om kwytskelding en/of om af te wyk van die Kode oor Goeie Bestuurspraktyk wat vir Eskom geld, omdat die benarde finansiële toestand só ʼn aansoek regverdig.”

Eskom het nog geen aanduiding gegee oor of hy wel gaan aansoek doen om kwytskelding nie.

Mulder meen egter in die lig van die bevindings in die SNI-verslag en die huidige kragkrisis waarin die land hom bevind, word Eskom genoodsaak om die stap te doen.

De Ruyter se antwoord op die brief sal die pad vorentoe uitstippel en indien daar besluit word om nie so ʼn aansoek om kwytskelding in te dien nie, word regstappe nie uitgesluit nie. Indien Eskom boonop aanvoer dat hy eerder meer sal betaal om minder betroubare krag te lewer, is dit ʼn argument wat hy aan Suid-Afrikaners sal moet verduidelik.

“Jy kan nie ter wille van net ʼn handvol mense die land se ligte afsit nie. Eskom moet nou sy eie risiko’s afbestuur,” sê Du Buisson.

Eskom besef oënskynlik uiteindelik die omvang van die kragkrisis en openbare druk op die kragvoorsiener om sy huis in orde te kry, laai toenemend op. Mulder sê die SNI wag op Eskom se klinkklare antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jack ·

Ons weet dit al lankal.Om duisende kaders se salaris te betaal kos baie geld en hulle maak aanspraak op verhogings ens.Die feit dat hulle onnodig is en geen funksie dien by Eskom is nie is van geen belang by Eskom nie.Die hele Eskom is een groot bal van verlies wat nie reggedokter kan word sonder om drastiese stappe te neem nie.SEB moet eerste gaan maar soos gesien is dit top prioriteit by ESKOM.

Martie ·

Die hele land (regering en besighede) se beheptheid met SEB het gemaak dat die land se ekonomie in die asblik is.

Yvonne ·

Die ANC regering wurg hierdie land dood…..kom hulle dit dan nie agter nie…blind van die ernstige siekte…..korrupsie

André ·

Wat ek nie verstaan is hoekom die meerderheid teen 7.8% van die bevolking beskerm moet word? Ons het ‘n groot skaarste van bevoegde werkers (alle rasse) in amper elke industrie. Die ANC is in beheer van onderwys en opvoeding. Hoe kan so baie mense sonder werk sit en terselfde tyd so baie poste oop bly? Niemand kan meer sê hulle kon nie ‘n kans kry om hulleself te verbeter nie. In teen deel, vir die meerderheid is daar meer geleenthede om te groei maar nogsteed is die regering bang vir die 7.8%?

Andre ·

Ons weet dit nou al lankal. Maar wat gaan daaraan gedoen word?

Henry ·

Vir eskom wil ek sè. As jy nie jou inkomste kan vergroot nie moet jy jou uitgewes minder maak. Ondersoek jou uitgawes en kyk waar jy kan bespaar. Begin by aankope. Koop goedere waar dit die goedkoopste is.

Miena ·

André de Ruyter moet dan maar begin sny by die aankope van melk, besems by n “Sole Service Provider” wat op die boeke is en maar sy persoonlike drywer stuur of die store se mense stuur om melk en besems en swartsakke by plaaslike winkels te gaan aankoop. Ons is n groot bekende steenkool mynhuis en ons doen ons aankope by Makro. NIks fout met die kwaliteit nie PLUS ons spaar baie geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.