Duur, gevaarlik om vuurwapens vir vernietiging te vervoer

Argieffoto van die vernietiging van vuurwapens (Julie 2022) (Foto verskaf deur SAPD)

Die SAPD het in ʼn skrywe bevestig dat dit duur en gevaarlik is om vuurwapens na Pretoria te vervoer vir vernietiging. Dit volg vier maande ná die Demokratiese Alliansie versoek het dat ʼn toegewyde perseel vir die Wes-Kaap op ʼn nasionale vlak geëskaleer moet word.

“Ondanks dié risiko’s het die nasionale regering nog geen poging aangewend om ʼn gedesentraliseerde vernietigingsperseel in die Wes-Kaap op te rig nie,” sê Gillion Bosman, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap. “Dit is ʼn klap in die gesig vir die families wat geliefdes aan sinnelose skietvoorvalle afgestaan het weens die hoë voorkoms van onwettige vuurwapens.”

Die SAPD het in die reaksie daarop gewys dat daar nie enige risiko-vrye smeltfasiliteite tans in die provinsie beskikbaar is waar dié vuurwapens vernietig kan word nie. In die verlede is twee fasiliteite gebruik: Arcelor Mittal is nie meer beskikbaar nie ná die aanleg sy bedrywighede in Saldanha gesluit het; en Cape Town Iron and Steel Works (Cisco) is nog bedrywig, maar word tans nie aanbeveel nie weens veiligheidsrisiko’s.

“Ek sal gevolglik ʼn parlementêre vraag indien om te bepaal watter veiligheidsrisiko’s by Cisco bestaan en wat gedoen moet word om dit ʼn lewensvatbare ligging te maak vir die vernietiging van vuurwapens,” voeg Bosman by. “Ek sal ook direk met Cisco kontak maak om te bepaal of hulle in ʼn posisie is om dié verantwoordelikheid te aanvaar.”

Bosman sê dit is nou, meer as ooit tevore, belangrik om maniere te vind om dit ʼn realiteit te maak. “Selfs die SAPD sê dat ʼn gedesentraliseerde proses ʼn kleiner risiko sal hê en meer kostedoeltreffend sal wees. Dit beteken dat die SAPD erken dat hy self ʼn hindernis is vir hervorming wat nodig is om onwettige vuurwapens van ons strate te verwyder. Dit is tyd dat hierdie mandate in ʼn ernstige lig beskou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

007 ·

Die Polisie kan nie eers hul eie wapens veilig hou nie. Dis ‘n hopelose saak die.

Janee ·

Natuurlik kan dit gevaarlik wees!! Als kan sommer so tussen neus en ore verdwyn??

Harley Davidson ·

Dit verdwyn gewoonlik uit die polisie stasie se kluis uit .

Swerwer ·

Stem 100%, praat van ondervinding. Ons land is ‘n groot sirkus. Die Narre word nou net vervelig. Tien teen 1 gaan hul die klomp wapens onder die grond begrawe en ‘n heerlike wapenopslagplek skep vir die wat belangstel, Alles is hierdie land is moontlik

Magda ·

Hulle weet ni ho ni, en Dan Kan jy hulle ni vertrou ni. Net nog n verskoning as Di goed “weg raak” om Di skuld op iets of iemand Anders te Pak, behalwe hulle onbevoegdheid self.

SjN ·

Dit is seker hoekom dit wegraak en verkoop word, maak nog n paar rand op die transaksie, hopelose spul kaders.

Harley Davidson ·

Die Wes Kaap moet afstig van die piesang Republiek dan sal die Wes Kaap ‘n eerste wêreld land word in Afrika.

Nico ·

Nou gaan hierdie vuurwapens in die verkeerde hand beland, die polisie sal ook hierby betrokke wees.

Swerwer ·

So dit is dan nou maar sommer beter om dit vir die ANC kader uit te deel dat hul verder kan moor en roof.

Frank John ·

Hulle jan dit by ‘n skroot metaal plek met ‘n hydraulic press beskadig sodat dit nie herstel kan word nie en dan as scrap metal aan ‘n smelter te verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.