Duur, skaars diesel pootjie Tiger Brands

Tiger Brands het heelwat in alternatiewe opwekking belê om beurtkrag vry te spring, maar dit kom teen ‘n prys. (Foto: Tiger Brands)

Die vervaardigingsreus Tiger Brands sê dit kos hom vier keer meer om kragopwekkers te gebruik om produksie aan die gang te hou as wat dit hom sou kos om van Eskom-krag gebruik te maak.

Die maatskappy vervaardig bekende produkte soos Oros, Jelly Tots, All Gold-tamatiesous, Purity, Albany-brood, Tastic-rys, Mrs. H.S. Balls-blatjang, en Black Cat-grondboontjiebotter.

Die maatskappy het Maandag in ʼn handelsverklaring gesê die uitwerking van beurtkrag is grootliks teengewerk deur die beduidende belegging wat die maatskappy vantevore al in kragopwekkingskapasiteit gemaak het. Gevolglik was daar weens beurtkrag minimale ontwrigting aan die verskaffingsketting – maar dit kom teen ʼn prys.

“Die gebruik van opwekkers kos nagenoeg vier keer meer as die bestaande Eskom-tarief. Onder hierdie omstandighede sal die voortsetting van sakebedrywighede afhang van die deurlopende verskaffing van diesel.”

Boonop is daar toenemende kommer oor ʼn bestendige voorraad diesel om die kragopwekkers aan die gang te hou.

“Die uitwerking van langdurige kragonderbrekings op voorraad word fyn dopgehou,” lui die handelsverklaring.

Die maatskappy moes vroeër sekere babapoeierprodukte herroep en sê dit het hom tussen R20 miljoen en R25 miljoen gekos. Die koste beloop hoofsaaklik die geraakte voorraad wat afgeskryf moes word en die logistieke koste verbonde aan die herroeping.

Sekere geblikte groenteprodukte is ook herroep, terwyl maatskaplike onrus in die laaste helfte van verlede jaar ook ʼn uitwerking op die maatskappy se prestasie gehad het. Versekeringseise van R157 miljoen vir die terugroep van die blikkies en die skade weens die onluste is reeds uitbetaal.

Tiger Brands waarsku ook dat hoë vlakke van inflasie na verwagting tot in die volgende boekjaar gaan voortduur. Die maatskappy sê dit gaan vereis dat hy aanpasbaar is en prys- en volumebestuur sal moet doen terwyl verbruikers onder al hoe meer druk is.

Die maatskappy se produkte het van April tot einde Augustus 15% duurder geword in vergelyking met die ses maande wat op 31 Maart geëindig het. Volgens Tiger Brands het hy egter goeie vordering gemaak om pryse aan te pas om die ongelooflike druk op kommoditeite, bestanddele, verpakking en logistiek in ag te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

domheks ·

Son krag kos geld om op te sit, maar daarna lag jy al die pad – SONDER ESKOM!

VaalDonkie ·

Dit werk min of meer dieselfde as Eskom uit per maand, maar sonder onderbrekings.

vuurvliegie ·

Stem saam as die weer saamspeel. As dit reenerig of bewolk is vir ‘n paar dae is jy heeltemal sonder krag. Dan skreeu jy op jouself en nie Eskom nie.

George ·

Jy moet net seker maak oor jou batterye, ons het twee, drie maande gelede ingesit, en batterye hou gemaklik 6 dae

Antie Sarie ·

Jy verstaan duidelik nie waterwerke en riolering nie. En sonder eskom gaan die aflewerings voertuie nie kan petrol kry nie.

Mariana ·

Maak nie saak hoe ons daarna kyk nie, op die einde van die dag is dit steeds die verbruiker wat moet opdok….in alle opsigte.

Hennie ·

Dis ‘n vaste koste en hou nie noodwendig verband met produksie nie. Hulle kan dit in die langer termyn verhaal deur produksie.

Nie Verbaas ·

Eskom, ons gee werklik nie n duit om oor hoe duur kragopwekkers is om te loop nie. Al julle huidige probleme is as gevolg van die patetiese ANC se beleid en tekort aan onderhoud. Daar is te veel werknemers terwyl onbevoegdheid, sabotasie en korrupsie steeds hoë gety vier. Kla by Ramaphosa, Gordhan en Mantashe.

Watsenaam ·

Of stuur die onbevoegtes terug na hul tuislande. Daar hoef jy net te betoog oor “service delivery

Martie Smartie ·

Dis rerig nie moeilik om sonder Tiger Brands se produkte klaar te kom nie. Nie net stoot hulle dadelik pryse op om winsmarges hoog t ehou nie, hulle besluit om nie winsmarges te verlaag nie. Die maatskappy was ook in die verlede aangekla vir prysvasstelling en samespanning. Soek gerus aanlyn. Verbruikers moet dink of hulle maatskappye soos die wil ondersteun in moeilike tye. Ek stel voor vermy hulle produkte.

marius ·

Die gevolge van patete wat veronderstel is om te regeer . Dis die waarheid .

Jakkie ·

Tiger Foods skiet homself ook in die voet. Die R340 miljoen boete oor die prysvasstelling van brood en die R500 miljoen verlies weens listirilose uitbraak sou n verskil aan hul balansstaat gemaak het. Die onbeholpenheid met die verkoop van hul inmaak aanleg op Ashton dui op swak bestuur deur topbestuur. Alhoewel beurtkrag n rol speel kan die maatskappy nie beurtkrag blameer vir prysvastelling ens nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.