Dwaalkoeël eis 14-jarige op Bethelsdorp

(Argieffoto: pixabay)

Twee mense, onder wie ’n tienerseun, is Donderdag vroegaand op Bethelsdorp doodgeskiet.

Jong Kurtley Rossouw (14) is tydens dié skietery in Bloemendal dood nadat ’n dwaalkoeël hom getref het. Kurtley het buite die erf van sy ouerhuis gestaan toe hy in die rug getref is.

’n Derde jong man is tydens die voorval ernstig gewond terwyl ’n vierde weggehardloop het.

Die voorval is bendeverwant.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die polisie het omstreeks 18:15 op ’n skietery in Lawrence Erasmus-rylaan in Bloemendal gereageer. Twee mans het met polisiebeamptes se aankoms op die toneel op die grond gelê.

Justin Malgas (25) is verskeie kere geskiet en het reeds gesterf. Die tweede man (26) het nog gelewe. Hy het egter ’n skietwond aan sy kop en arm opgedoen en is na ’n hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Die derde man het in daardie stadium reeds gevlug.

’n Gewonde Kurtley is buite die erf aangetref en na ’n hospitaal gehaas. Hy het egter op pad daarheen beswyk.

Naidu sê Malgas het glo saam met twee mans in Lawrence Erasmus-rylaan geloop toe skote vanuit ’n silwer Renault op hulle gevuur is.

Die Oos-Kaapse polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek tans twee sake van moord en een van poging tot moord.

Enigiemand met inligting rakende die skietery word versoek om die polisie op Bethelsdorp by 041 404 3010 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Wapens moet so ontwerp word dat net die wettige eienaar dit kan gebruik, soos bv ‘n vingerafdruk op ‘n sneller dit sal baie onnodige skietvoorvalle voorkom.

Johan Tredoux ·

Die persoon wat die pistool skiet is verantwoordelik vir watookal hy wou getref het en ook, dit wat hy nie bedoel om te tref nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.