
Outa, Cosatu, ANC en ander organisasies betoog teen e-tol by die Uniegebou in Pretoria (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency/ANA)
Motoriste moenie hul asem ophou vir die afskaffing van e-tol in Gauteng nie. Dit blyk uit ʼn antwoord deur Gautengse premier David Makhura Dinsdag in die Gautengse wetgewer.
Tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie het Makhura aangedui die Gautengse ANC se finale posisie oor die e-tolkwessie is dat Sanral-skuld terugbetaal moet word.
Dit volg nadat adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en leier in die Gautengse wetgewer, die premier gekonfronteer het omdat die ANC voor die 2019-verkiesing dit telkemale duidelik gestel het dat hulle heeltemal teen e-tol gekant is. Die ANC het selfs verlede jaar na die Uniegebou gemarsjeer in teenkanting teen e-tol en die nasionale ANC-regering.
“Dit blyk nou die Gautengse ANC het tydens onderhandelinge met die nasionale ANC-regering ingestem dat sommige padgebruikers, veral groot ondernemings, steeds e-tol moet betaal,” sê Alberts.
“Die VF Plus beskou die posisie as skandalig aangesien die Gautengse ANC nog altyd aangedui het dat hulle heeltemal teen e-tol gekant is.”
Maroela Media het Maandag berig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) slegs R687,7 miljoen van die e-tolskuld vir die 2018-’19-boekjaar kon invorder, vergeleke met die vorige jaar se R1,87 miljard. Daarom sê die DA die stelsel het misluk.
Alberts het dit ook aan die premier gestel dat indien die ANC in Gauteng ernstig is om e-tol af te skaf, hulle ʼn formele dispuut met die nasionale regering moet verklaar kragtens die Raamwerkwet op Interregeringsverhoudinge en die remedies daarin vervat, uitput. Sou die remedies sonder welslae uitgeput word, moet die provinsiale ANC-regering die nasionale regering voor die hof daag.
“Die premier se reaksie was bloot dat daar geen dispuut bestaan tussen die provinsiale en nasionale regerings oor e-tol nie, wat die vermoede versterk dat premier Makhura en sy ANC-span gekapituleer het,” sê Alberts.
Hy sê die VF Plus vind dit uiters kommerwekkend dat groot ondernemings klaarblyklik op die altaar geoffer word om e-tol te bly betaal, terwyl maatskappye reeds hoog belas word. “Hierdie sogenaamde oplossing sal vir seker lei tot meer werksverliese namate ondernemings die e-tolkoste probeer absorbeer,” sê Alberts.
“Dis duidelik dat die ANC nie vertrou kan word wat die e-tolkwessie betref nie. Die VF Plus sal voortgaan met die stryd om e-tol heeltemal af te skaf,” sê Alberts.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
VF julle moet onthou die verkiesing is verby, dus vir due volgende byna 4 jaar kan die ANC die dom kieser weer verniel.
Watter gedeelte van e-tol werk nie verstaan makhura nie
Sanral skuld terug betaal moet word? Het die motoriste daardie skuld aangegaan?
Kon jy in 25 jaar al ooit ‘n ANC se word vertrou???? Klomp liegbekke!
Hoop hierdie groot maatskappye is die taxi bedryf ingesluit