Een aangekeer in saak van vermoorde ingenieur

Thys van Niekerk

ʼn Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Thys van Niekerk (64), ʼn gewilde siviele ingenieur van Cradock in die Oos-Kaap.

Maroela Media het vroeër berig Van Niekerk se liggaam is op 30 Augustus vol meswonde aangetref. Hy het alleen in die huis op die plaas Uitkyk gewoon terwyl hy as inwonende ingenieur, verbonde aan die maatskappy SNA Civil and Structural Engineers, aan ’n padherbouprojek op die R390-roete tussen Cradock en Hofmeyr gewerk het. Hy sou vir die duur van die projek (sowat drie jaar) in dié huis gebly het. Dit sou Van Niekerk se laaste groot padbouprojek gewees het. Hy sou daarna amptelik as ingenieur afgetree het.

Ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig een persoon is in verband met die moord in hegtenis geneem.

“Die polisie verwelkom die oorweldigende ondersteuning van die gemeenskap en ander bedrywe, veral die media, wie se pogings gehelp het om ʼn 28-jarige op ʼn plaas buite Hofmeyr in hegtenis te neem,” sê Nkohli.

Die polisie het Vrydag om 10:30 inligting opgevolg oor waar die man hom bevind. Hy is opgespoor en aangekeer.

Hy sal Maandag in die Cradock-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Die polisie in Cradock was vroeër op soek na Andrew Kroukamp (28), wat moontlik antwoorde oor die moord kan hê.

Van Niekerk se roudiens vind Saterdag om 12:00 in die Church Unlimited in Mbombela, Mpumalanga, plaas.

Van Niekerk het alleen in dié huis op die plaas Uitkyk gewoon (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.