Een tree vir elke plaasaanval gegee

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

“Een plaasaanval is een te veel. Een plaasmoord is een te veel. Daarom sal TLU SA aanhou werk om boere veilig op hul plase te hou.”

Só sê die organisasie nadat hy binne 24 uur (Woensdag tot Donderdag) 6 065 virtuele treë gegee het – een tree vir elke plaasaanval wat sedert 1990 aangemeld is.

Die virtuele staptog was ’n reuse‑sukses, meen Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

Van Zyl kon nie Vrydag aan Maroela Media sê presies hoeveel mense aan die virtuele staptog deelgeneem het nie. “Ek het nog nie gaan optel nie, maar of dit nou duisende, tientalle of enkele was, die kwessie rakende plaasaanvalle en -moorde het ongelooflik baie blootstelling geniet.

“Ons is dankbaar vir elke persoon wat deelgeneem het aan die simboliese gebaar om hul solidariteit aan boere te betoon. Die boodskap is duidelik dat boere nie alleen staan in hul stryd om veilig op hul plase te bly nie.”

Sedert 1990 is 2 182 plaasmoorde aangemeld en meer as 6 000 plaasaanvalle. Die getal het sedert daar aan die simboliese staptog beplan is, weer gestyg. Die getal staan nou op 2 183 plaasmoorde en 6 070 plaasaanvalle.

Van Zyl sê dit is teen dié tyd duidelik dat Suid-Afrikaners nié op die regering kan staat maak nie. “Hulle het klaar gewys hulle het ons gefaal. Die onlangse misdaadstatistieke is tekenend daarvan.

“Dit is vir ons groot bron van kommer. Ons sit met ’n ideologie behepte regering wat nie in belang van die land funksioneer nie. Ons is vasgevang in die realiteit dat die staat nie sy verantwoordelik nakom nie. Daarom sal ons aanhou om druk op die staat te plaas.”

Van Zyl sê TLU SA sal met sy volgende vergadering weer planne begin maak om bewusmaking oor plaasaanvalle en -moorde te skep. “Ons sal in ons volgende vergadering weer vir mekaar sê: Wat kan nog ons nóg doen?

“Ons boodskap aan ons lede, boere van Suid-Afrika en inwoners van die land is dat ons as TLU SA nie sal ophou werk nie aan die taak om ons land se boere veilig en volhoubaar op hul grond te hou.”

Van Zyl sê voorts die vernaamste doelwit van die virtuele staptog was om genoeg aandag op die misdade te fokus sodat die regering gedwing word om meer as net leë woorde oor die erns van die situasie te spreek.

“Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdaad dieselfde aandag en optrede geniet as ander ernstige misdade.

“Ons besef dat geen veldtog of protesoptog op sy eie misdaad kan stop nie, maar dit is belangrik om só bewusmaking oor die probleem te skep, hier en internasionaal,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

Geldenhuys sê die organisasie gaan nou van die geleentheid gebruik maak om korrespondensie aan verskeie ambassades in die land te stuur om so ook weer die erns van die saak plaaslik sowel as in die buiteland te beklemtoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Herman L ·

Die ondersteuning wat boere kry is noodsaaklik en ook om die wereld daaroor in te lig. Boere kan egter nie net op hulleself en ondersteuningsdienste staatmaak om hulle te beskerm nie. Baie boere besef sekerlik dat dit net God is op wie hulle kan staatmaak vir beskerming. Hoe meer mense dit besef hoe beter sal dit met ons almal gaan.

Harley Davidson ·

Ongelukkig is die meerderheid “afrikaners ” al so bang en gebreinspoel dat hulle nie ‘n saak het met boere en hulle welstand op plase nie kyk na die Groblersdal en Jaco swart insident dan sien jy hoe word mense gekruisig maar plaas aanvallers dit is net ‘n probleem todat die berig klaar gelees is.

KatjieDeKat ·

Ag Asseblief. Jaco Swart en Corrie Pretorius verdien elke atoom en molekule van veragting. Of is dit maar okay om n gewelddadige aanrander van mense te wees, solank jou vel net wit is?

KatjieDeKat ·

Daar gaan binnekort nog vele wees. En wie moet ons bedank? Corrie. Corrie Pretorius.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.