Een uit vyf deur lang-Covid geraak

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Een uit elke vyf mense wat die koronavirus opdoen, ontwikkel minstens een simptoom van lang-Covid. Dit is volgens een van die mees omvattende navorsingstudies wat hieroor gedoen is en Donderdag in die joernaal The Lancet gepubliseer is.

Dieselfde tendens is egter ook in ʼn mindere mate onder mense aangemeld wat nooit positief vir die virus getoets het nie. Studieleiers sê dit kan ʼn aanduiding wees dat ander gesondheidsfaktore ter sprake is.

Die studie het meer as 76 400 volwassenes in Nederland gevra om ʼn aanlyn vraelys in te vul, wat 23 algemene simptome van lang-Covid bevat het.

Elkeen van hierdie deelnemers het die vraelys 24 keer tussen Maart 2020 en Augustus 2021 ingevul. Gedurende dié tyd het 4 200 van hulle (5,5%) Covid-19 opgedoen.

Altesaam een uit elke vyf (21%) van dié wat positief getoets het, het tussen drie en vyf maande later ʼn nuwe of erger simptoom van Covid-19 aangemeld. Nagenoeg 9% van die groep wat nié positief getoets het vir Covid-19 nie, het egter dieselfde simptome maande later ervaar.

Die simptome wat aangeteken is, sluit in borspyn, asemnood, spierpyne, verlies aan smaak en reuksintuie en algemene moegheid.

Aranka Ballering van die Nederlandse Universiteit van Groningen en een van die studieleiers, sê simptome van lang-Covid by pasiënte wat nié die virus opgedoen het nie, kan toegeskryf word aan van die indirekte gevolge van die pandemie. “Dit sluit in spanning, wat veroorsaak is weens die inperkings en onsekerheid wat deur die pandemie meegebring is.”

Studieleiers noem egter die studie het net gekyk na die langtermynuitwerking van die eerste en tweede Covid-variante en dat al die langtermynsimptome, onder meer angstigheid en depressie, nie ondersoek is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine ·

Iemand wat ek ken het long covid opgedoen nadat hy die vaccine gekry het, terwyl hy covid gehad het. Dis nou meer as ‘n jaar wat hy sukkel en nie gesond word nie.

Swerwer ·

Ons boesem vriend is ‘n jaar na hy Covid gekad het oorlede aan “Covid related syndrome”. ‘n Jaar wat dit nog in sy liggaam geskuil het en sy organe toe ingegee het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.