Eers sirkus, toe dieretuin; nou kry Charley nuwe tuiste

Prosesse is reeds van stapel gestuur om Charley te hervestig. (Foto: Sanbi)

ʼn Voormalige sirkusolifant wat die afgelope 22 jaar in die Pretoriase dieretuin gehou is, kan nou uitsien na aftrede nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) aangekondig het dat hy op soek is na ʼn geskikte wildreservaat waar die olifant hervestig kan word.

Die 42-jarige Charley het ʼn tuiste by die dieretuin gevind nadat hy tevore langer as 20 jaar aan ʼn sirkusomgewing blootgestel was.

Weens sy gevorderde ouderdom is daar dus besluit om Charley opnuut te hervestig.

“Die aftrede kan Charley ook geleentheid gee om ʼn maat te kry, aangesien sy maat Landa reeds in 2019 dood is,” sê Sanbi in ʼn verklaring.

Omvattende toetse wat onlangs op Charley gedoen is, wys dat hoewel hy oud is, hy nog gesond is. Hy is onderwerp aan onder meer hematologiese en bloedchemie-ontledings, ʼn metaboliese-analise, ʼn tand- en oogondersoek, sowel as TB-toetse.

Sanbi is reeds besig om “ʼn geskikte aftree-opsie” vir Charley te soek en het gevra vir ondersteuning uit die bedryf om die welstand van die olifant te verseker.

“Die vereiste voorvrystellingsprotokolle soos sielkundige en gedragsevaluerings word reeds gefasiliteer. Die datum vir Charley se amptelike aftrede sal bekend gemaak word sodra al die nodige prosesse afgehandel is.”

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, het die besluit verwelkom.

Bryant sê die DA vra al geruime tyd dat Charley hervestig word en die party het Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, vroeër vanjaar gevra om in te gryp om vir die olifant ʼn nuwe tuiste te vind.

“Ons is bemoedig om te hoor dat stappe nou gedoen word om ʼn geskikte toevlugsoord vir die olifant te kry,” sê Bryant.

“Ons wil die minister bedank dat sy die DA se oproepe en Charley se welstand noukeurig in ag geneem het. Dit is noodsaaklik dat die minister nou soortgelyke gevalle elders in die land pak, onder andere ʼn geval waar drie olifante tans in die Johannesburgse dieretuin gehou word.”

ʼn Aansoek is in Junie by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om drie olifante, bekend as Lammie, Mopane en Ramadiba, uit die Johannesburgse dieretuin na ʼn beskermingsfasiliteit te hervestig.

Die organisasie Animal Law Reform South Africa (ALRSA), die Environmental Conservation Organization Foundation (EMS) en die tradisionele leier van die Khoi, Chief Stephen Fritz – wat deur die firma Cullinan & Associates verteenwoordig word – voer aan dat die olifante tans aangehou word in ʼn omgewing wat nie aan hul basiese behoeftes voldoen nie.

Hulle vra in die baanbrekersaak dat die olifante “vrygelaat word om die res van hul lewe in ʼn natuurlike omgewing uit te leef waar die toestande in ooreenstemming is met die ingebore behoeftes en aard van olifante”.

Olifantkenners het reeds beëdigde verklarings ingedien wat lui dat die betrokke olifante in nood verkeer omdat die omstandighede waaronder hulle gehou word, nie aan hul “fundamentele fisieke, geestelike en emosionele behoeftes” voldoen nie.

Die olifante bly by die dieretuin terwyl die saak voortduur.

Die drie olifante Lammie, Mopane en Ramadiba in November 2021. (Foto: EMS Foundation)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Ek sou kon plek verskaf maar dink nie ‘n olifant is ‘n woonsteldier.

Hasie ·

Dit is uiters goeie nuus .GEEN dier Moet agter tralies gehou word vir die doel om mense te vermaak nie.

Caroline ·

Best news coming from South Africa well done and stay big majestic Charley

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.