Eerste dag van ANC-konferensie traag, chaoties

President Cyril Ramaphosa (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Die eerste dag van die ANC se 55ste leiersverkiesingskonferensie het op ʼn trae noot afgeskop met die program wat sewe ure laat begin het.

Prosedurele uitdagings

Pule Mabe, ANC woordvoerder, het verduidelik hoe die vertraging niks met interne politiek te doen het nie, maar eerder weens registrasieprobleme. Die oomblik wat dié registrasieprobleme uit die weg geruim is, het die dag se program net ná 15:00 ʼn aanvang geneem.

Die eerste belangrike agendapunt was president Cyril Ramaphosa wat die party se politieke verslag voorgelê het – ʼn belangrike dokument wat die vordering en stand van die party weergee sedert hul vorige leierskonferensie.

ʼn Volgende prosedurele struikelblok het egter opgeduik in die vorm van die KwaZulu-Natalse afvaardiging wat herhaaldelik Ramaphosa se toespraak probeer ontwrig het. Die ontwrigting het ʼn hoogtepunt bereik toe oudpresident Jacob Zuma laat opgedaag het tydens Ramaphosa se spreekbeurt.

Dié provinsie se afvaardiging is die enigste van die nege waarin Ramaphosa power steun vir sy presidensiële nominasie ontvang het en waar sy teenstander dr. Zweli Mkhize groot steun geniet.

Gwede Mantashe, ANC-nasionale voorsitter, het die ontwrigters gou deur sekuriteit laat verwyder met die res van die toespraak wat relatief onverhinderd kon voortgaan.

Ramaphosa het aan die begin van sy toespraak groot klem gelê op die respek wat die afgevaardigdes vir die verloop sowel as inhoud van die konferensie moet toon. Diegene wat partygriewe het, moet dit op ʼn ordelike wyse opper en debatteer.

Belangrike kwessies uitgelig

Die politieke verslag het talle punte van party-introspeksie uitgelig. Ramaphosa het klem daarop geplaas dat die ANC tans in ʼn swak posisie is en dringend hernuwing en vereniging benodig. Dit is veral om die party intern te belyn met stigtingsideale asook ekstern te belyn met hul ondersteuners.

Daar is uitgelig hoe die ANC met die oog op die 2024- nasionale verkiesing dringend moet herbelyn en herverbind met hul kieserskorps en steunbasis ten einde suksesvolle partyvoortbestaan te verseker. Die party het groot kommer uitgespreek oor hulle skynbaar dalende steun soos in die afgelope munisipale verkiesing en tussenverkiesings bespeur is.

Oudpresident Jacob Zuma, wat na bewering terminaal siek is, by die ANC se 55ste verkiesingskonferensie (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

Ramaphosa het beklemtoon hoe die ANC daarop moet fokus om die lewensgehalte en vooruitsigte van burgers te verbeter. Dit veral gegewe die voortslepende negatiewe ekonomiese gevolge wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het.

Hoewel Ramaphosa partyhernuwing en -introspeksie vooropgestel is, het talle geykte ANC-beleidskwessies egter in sy toespraak na vore gekom.

Ramaphosa het herhaaldelike klem gelê op die gaping wat steeds tussen die rykes en die armes voortbestaan – veral wat betref toegang tot water, elektrisiteit, behuising, grond, onderwys, ekonomiese welvarendheid, en bateopgaring. ʼn Gaping wat volgens Ramaphosa steeds grootliks weens die nalatenskap van apartheid en kolonialisme bestaan.

Beleidskwessies soos die nasionale gesondheidsversekering (NGV), nasionalisering van die Reserwebank, die stigting van ʼn staatsbank, versnelling van onteiening sonder vergoeding (OSV) asook die verdieping en versnelling van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het veral die kollig geniet.

Met fase 6-beurtkrag wat tans heers, is ʼn groot deel van Ramaphosa se toespraak ook toegewy aan Eskom se probleme sowel as die vooruitsigte van herstel. Die problematiese aard van staatskaping asook die disfunksionaliteit van die kragreus is uitgelig. Groot toejuiging is van die gehoor ontvang toe Ramaphosa genoem het hoe Eskom egter in staatsbesit gaan en moet bly.

Die belangrike partykwessie van geslagsgebaseerde geweld is ook geopper. Volgens Ramaphosa is dit ʼn probleem wat nie geduld behoort te word nie. Vrouens moet eerder gerespekteer word en toenemend in leierskapsposisies aangestel word.

President Cyril Ramaphosa lewer die ANC se politieke verslag tydens die party se 55ste verkiesingskonferensie by Nasrec nadat die dag se program sewe ure laat begin het (Foto: LUCA SOLA / AFP)

So ook het hy klem gelê op die feit dat partykorrupsie uitgeroei moet word deur die Zondo-kommissie se bevindinge deur te voer. Hierdie is veral ʼn belangrike stap daarin om die ANC as party te laat herleef en herstel tot vorige glorie. Dit is volgens Ramaphosa juis hierdie korrupsiereinigingsproses wat verdeeldheid onder ANC-leierskap veroorsaak het.

Ramaphosa het gevolglik lank stilgestaan by die leierskapsprobleme en -verdeeldheid wat in die ANC heers. Dit is volgens hom bemoedigend hoe die verdeeldheid en konflik dikwels op laer vlakke afwesig is en eerder op topleierskapsvlak woed – die party benodig dus dringende leierskapsvereniging en -herlewing.

Ramaphosa het verder genoem dat afgevaardigdes tydens die konferensie kaderontplooiingsbeleid moet debatteer en moontlik heroorweeg. Dit spesifiek omdat dié beleid misbruik word deur korrupte amptenare tot hul eie voordeel.

Ramaphosa het ook geraak aan talle buitelandse kwessies soos die Rusland-Oekraïene-konflik wat opgelos moet word, Suid-Afrika se betrokkenheid by die oplos van etniese konflik in Etiopië, die voortslepende Israel-Palestina-konflik asook die problematiese aard van die tandelose VN-Veiligheidsraad waarop Afrika geen verteenwoordiging geniet nie.

Vooruitsigte vir dag twee

Na afloop van president Ramaphosa se politieke verslag is die vergadering om 19:00 verdaag. Die KwaZulu-Natalse afvaardiging het daarna agtergebly om te koukus.

Talle ander agendapunte is weens die sewe uur lange vertraging uitgestel na die volgende dag se program. Dit sluit in die vloer wat geopen word vir bykomende nominasies vir die posisies van president, nasionale voorsitter, sekretaris-generaal en tesourier-generaal.

Die tweede dag se gebeure is geskeduleer om 09:00 te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.