Eerste renosterwesies word ouers

Die agtjarige renosterkoei, Wyntir, het Sondag om 02:25 geboorte gegee aan ʼn gesonde renosterkoei (Foto: Verskaf)

Die Care for Wild Rhino-beskermingsfasiliteit in Mpumalanga het die afgelope naweek geskiedenis gemaak met die geboorte van die wêreld se eerste witrenosterkalf – wie se ouers albei wees gelaat is weens stropery.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat weesrenosters gered en gerehabiliteer is en natuurlik – sonder enige menslike inmengery – geboorte gee aan ʼn renosterkalf.

Die agtjarige renosterkoei, Wyntir, het Sondag om 02:25 geboorte gegee aan ʼn gesonde renosterkoei. Die renosterbul en pa, Storm, is ook ʼn renosterwesie.

Petronel Nieuwoudt, stigter van die Care for Wild Rhino-beskermingsfasiliteit – wat ʼn veilige hawe vir renosterwesies bied –  sê die geboorte van die renosterkalf was ʼn emosionele oomblik.

“Dit was ʼn lang reis. Die renosterwesies kom by ons aan wanneer hulle slegs ʼn paar dae tot ʼn paar maande oud is. Dit neem ongeveer sewe tot nege jaar vir só ʼn renoster om dan seksueel volwasse te word,” sê Nieuwoudt.

Nieuwoudt sê Wyntir was twee maande oud en het 107 kg geweeg toe sy uit Kingfisherspruit in die Krugerwildtuin gered is nadat stropers haar ma gestroop het.

“Wyntir was alleen en weerloos. Sy is deur hiënas aangeval wat haar ore afgeruk en erge wonde veroorsaak het. Wyntir se naam is ʼn suiwer weerspieëling van die swaarkry wat sy verduur het en haar stryd om oorlewing.

“Storm, die trotse pa, is net meer as tien jaar gelede in die Limpopo-omgewing wees gelaat. Stropers het sy hele gesin wreed uitgewis en hom as ʼn vier weke oue kalf gelos om te sterf.”

Wyntir en Storm is albei gered en na Care for Wild geneem vir rehabilitasie. Hulle het sorg en rehabilitasie ondergaan voordat hulle die vrylatingsprogram betree het. Alle renosters wat weer in ʼn natuurlike ekosisteem vrygelaat word, word steeds deurgaans beskerm en gemonitor.

“Wyntir en Storm het die renosters geword wat hulle altyd veronderstel was om te wees en het pas die toekoms van hul spesie verseker. Ek kyk na dié twee renosters en ek sien hul hele reis. Elke oomblik van stryd, elke uur van moeite, elke opoffering en elke mens wat alles gegee het om hulle te red.

“Care for Wild se visie is om die toekoms van die spesie te verseker deur die aanteling van swart- en witrenosters – wat deur gemeenskappe beskerm word. Hierdie renosterkalf is ʼn simbool van die lewe en lig wat moontlik is. Sy bied hoop vir die spesie en vir die mensdom. Renosters behoort aan die wêreld en dit is ons almal se verantwoordelikheid om hulle te red.”

Wyntir en Storm is twee van meer as 100 renosterwesies wat deur Care for Wild gered is sedert dié bewaringsprojek in 2011 begin het.

“Die renosterspesie is na raming minder as tien jaar weg van uitwissing en Suid-Afrika is in die middel van die renosterstropingsoorlog. Die Krugerwildtuin het sedert 2011 ʼn afname van 75% in witrenosterbevolkings gesien.”

In 2014 het SANParke kragte saamgesnoer met Care for Wild en ʼn memorandum van samewerking geskep om hierdie erfenis en die toekoms van die spesie te beskerm deur die redding en beskerming van die spesie.

Maroela Media het vroeër berig altesaam 451 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Die meerderheid hiervan (327) is in staatsbeheerde reservate gestroop, waarvan 209 in die Krugerwildtuin plaasgevind het. Dit is wel ʼn afname teenoor die 247 renosters wat in 2020 in die wildtuin gestroop is en ʼn afname van 24% teenoor die getal stropings in 2019.

Daar was egter ʼn toename in stropingsvoorvalle op private eiendom, waar 124 renosters verlede jaar gestroop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Wonderlike nuus maar ai, ek sou wou hê dit moet ampers ‘n geheim bly. Stropers weet van alles en orals. Hoop die goedjies word mooi groot en bly lewe tot hul stokhoringoud is.

Agge nee ·

‘n Ware wonderwerk. ‘n Renosterkoei gee geboorte aan ‘n gesonde Renosterkoei. Ek hoop iemand het dit verfilm, want my buurman se Renosters gee almal geboorte aan kalfies, of ‘n versie of ‘n bulletjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.