Eerste winterryp vir die Vrystaat

Die eerste wintteryp in die Vrystaat. (Foto: Magriet Roux Wehrmeyer/ReenvalSA/Twitter)

Die eerste ryp vir die winter het vanoggend in Bothaville in die Vrystaat geval, terwyl dele van die gebied tot -3 °C gedaal het.

Dít terwyl twee opeenvolgende kouefronte na verwagting sekere dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap oor die naweek gaan tref.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal koue en winderige toestande Donderdag oor die Wes-Kaap inbeweeg met die moontlikheid van reën.

Die kouefront sal Donderdagoggend die suidelike, westelike en oostelike dele van die Wes-Kaap tref, terwyl die suidelike dele van die Noord-Kaap en die westelike dele van die Oos-Kaap in die middag koeler sal word.

Wayne Venter, ʼn weervoorspeller by die weerdiens, sê sterk noordwestelike wind van 50 tot 70 km/h kan oor die suidelike hoogliggende gebiede van die Noord-Kaap verwag word, asook die Wes-Kaap en Oos-Kaapse binneland.

Soortgelyke toestande word aan die Wes-Kaapse kus verwag.

ʼn Tweede kouefront sal na verwagting Vrydag reën en ligte sneeuval in die Wes-Kaap tot gevolg hê.

Koue weerstoestande sal ook in die sentrale dele van die land voorkom, met maksimum temperature van 15 °C. Dié toestande sal na verwagting KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng teen Saterdag en Sondag bereik.

“Kleinveeboere word aangeraai om hul vee in skuilings te hou, aangesien die koue, nat en winderige weer baie lae temperature tot gevolg sal hê,” sê Kate Turner van die weerdiens.

Temperature sal Saterdagoggend aansienlik daal oor die sentrale, westelike en suidelike binneland, met ʼn kans vir ryp in sekere gebiede.

“Skepe aan die kus in die omgewing van Oos-Londen moet ook versigtig wees, aangesien branders van 4,5 tot 6 m hoog kan voorkom. Skepe kan navigasieprobleme ondervind en mense word aangemoedig om waaksaam te wees met bedrywighede aan kusgebiede.”

Die weerdiens het die volgende waarskuwings uitgereik:

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir reën is vir Donderdag en Vrydag uitgereik. Dit kan tot kitsoorstromings in die Kaapse Metropool, westelike dele van die Kaapse Wynlande en die westelike dele van die Overberg lei.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir stormsterk wind is uitgereik vir die suidelike hoogliggende gebiede van die Noord-Kaap, die Sentraal-Karoo en Klein-Karoo. Sterk wind sal na verwagting van Woensdag langs die kusgebiede tussen Lambertsbaai en Kaap Agulhas voorkom. Dit sal Donderdag na Plettenbergbaai uitbrei en sal na verwagting tot Vrydag duur.

Die weerdiens waarsku dat hoë deinings Donderdag tot Vrydag navigasieprobleme tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai tot gevolg kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Dìt is waarom ek die Wes-Transvaal veruil het vir Natal. Genoeg gehad van koue tone, oorpunte en neuspunt wat brand van die koue. Vanmôre met ‘n vriend gesels in Pretoria, en hy sê die minimum is 4° daar. Dit is waarom ek ook nie verstaan wat mense in die Kaap gaan soek nie. Dit is waarom kortbroek en T-hemp steeds die ding doen in Durbs.

Karina ·

So warm as wat dit in die Vrystaat kan word, so koud word dit daar. Ons het altyd gesë daar is net ‘n sifdraad tussen jou en die hel in die somer, en tussen jou en antartika in die winter. Ten minste weet jy daar dit is koud of warm, nie oos in PE waar ons sommer 4 seisoene ‘n dag beleef nie. Jy beplan ‘n braai dan draai die weer jou jou braai is daarmee heen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.