EFF moet hoes ná hy joernaliste spioene noem

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Die EFF en sy woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, moet die verslaggewers Anton Harber en Thandeka Gqubule-Mbeki om verskoning vra omdat hulle die twee spioene genoem het. Hulle moet boonop skadevergoeding van R40 000 aan elkeen betaal.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het die beslissing van die Johannesburgse hooggeregshof verwelkom en sê hy beskou dit as gevaarlik en neerhalend om na verslaggewers as lede van Stratkom te verwys. Stratkom was ʼn berugte eenheid in die destydse veiligheidspolisie wat waninligting versprei het.

Harber en Gqubule-Mbeki het die EFF hof toe gesleep vir laster nadat die EFF die stelling sowat twee jaar gelede op sosiale media gemaak het. Dit is gedoen in reaksie op die publikasie van ʼn dokumentêr op Huffington Post waarin oorlede Winnie Madikizela-Mandela dié ongegronde bewerings gemaak het. Huffington Post het sedertdien om verskoning gevra daarvoor.

In haar uitspraak het regter Lebogang Modiba die EFF ook verbied om voortaan enige soortgelyke bewerings oor Harber en Gqubule-Mbeki te maak. Die regter het ook bevind die bewering was lasterlik en vals.

Modiba het die EFF en Ndlozi beveel om die stelling binne 24 uur nadat die uitspraak gelewer is van alle platforms te verwyder. Hulle moet ʼn verskoning op al hulle mediaplatforms plaas waarin hulle ook die steling terugtrek.

Dit is sedertdien gedoen.

Modiba het ook beveel dat daar geen toekomstige stelling gemaak mag word wat insinueer dat Harber en Gqubule-Mbeki met die apartheidsregering geheul het nie.

Harber en Gqubule-Mbeki het die uitspraak ‘n “oorwinning vir die waarheid” genoem.

Sanef het ʼn beroep op politieke partye en belangegroepe gedoen om hulle tot die persombudsman te wend, sou hulle te na gekom voel deur mediaverslaggewing, eerder as om aanvalle op sosiale media op verslaggewers van stapel te stuur.

Sanef het gesê dit veroorsaak ʼn giftige atmosfeer met samesweringsteorieë en haatdraendheid teenoor joernaliste en die media in die algemeen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

PJ ·

Kan nie verstaan nie. Noem mense spioene en word gestraf maar hulle is vry om haatspraak teen witmense te verkondig?

Lollie ·

Ja nee PJ dit gaan my verstand ook te bowe! Seker omdat 1 van hierdie joernaliste swart is en haatspraak is uitsluitlik net op wittes.

Christo ·

Wonder bo wonder het hulle die stelling teruggetrek, maar ek wonder of hulle die skadevergoeding gaan betaal.
Ek dink hulle gaan dit teenstaan……in ons land word geen hofbevel mos aanvaar nie.

Pieter ·

Nou verstaak en nie mooi nie. Die nuus praat v R40 000 nou se Maroela R400 000. So wat is nou die regte bedrag.

Megan Swart ·

Dagsê Pieter
Daar was ‘n fout in die Sanef-verklaring oor die uitspraak. Ons het die berig sedertdien gewysig en vra om verskoning vir die verwarring.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Feite ·

Aantygings waarvoor daar nie bewyse bestaan nie, word in die howe aanvaar as valse aantygings. Dit is egter nie te se dat dit nie die waarheid is nie, net omrede geen bewyse bestaan nie!

AfrikaanseKnaap ·

As boer, kan ek hulle hof toe vat vir seksueke teisteting vanweë die feit dat hulle hul volgelinge aanmoeding om my te soen?

Scalla ·

knapie, sorteer daai seksuele teistering saak sommer self uit deur die oortreders n helse perde klap te gee, ore moet sing.

Db ·

@ AfrikaanseKnaap. Pasop vir daardie soen want bek-en-klouseer is die land nou vol

Dries Moolman ·

Hopelik is daar nog van die VBS-buit oor om die boete te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.