EFF toon meeste groei in verkiesing

EFF-leier Julius Malema het in Seshego in Limpopo gestem. (Foto: Twitter via @EFFSouthAfrica)

Te midde van al die fokus op die groei van die Vryheidsfront Plus en die agteruitgang van die ANC en DA in die verkiesing is baie mense besig om die feit mis te kyk dat die meeste groei in verlede week se verkiesing deur die EFF behaal is.

Waar die VF Plus met ses setels gegroei het – van vier na tien, was dit die EFF wat verreweg die grootste toename in die hoeveelheid parlementsetels sal hê – van 25 na 44 setels.

Die EFF se grootste toename in stemme het gekom van KwaZulu-Natal – ʼn provinsie waar die party pateties gevaar het in 2014.

Veral die Durbanse townships Umlazi, KwaMashu, Inanda en Ntuzuma het die EFF ryklik beloon met nuwe kiesers. As EFF-bronne en strategiese beplanners geglo kan word, is dit veral jonger Zoeloe-kiesers wat teleurgesteld is in die partye met die grootste ondersteuning van Zoeloe kiesers, naamlik die ANC en die IVP. Dié partye het albei heelwat mense van gevorderde jare wat die verkiesbare posisies as kandidate vul, met min van hulle wat uittree en gevolglik relatief min geleenthede gun vir aspirerende jong politieke denkers om hul merk te maak en ‘n potensieel belowende loopbaan te bou.

Die EFF het hierdie moontlike ouderdomsgaping sowat twee jaar gelede raakgesien en vervaard begin organiseer onder die township-jeug (eerder as jong mense in stamgebiede) en op kampusse, sodat hulle tans alle studenterade in die provinsie beheer en in die proses goeie en talle studente-voetsoldate opgebou het.

Die party het in ʼn verstommende prestasie sy getal KwaZulu-Natalse stemme bykans vervyfdubbel, van 70 000 in 2014 na 349 000 vanjaar. Hoewel die party met 9,7% slegs die vierde grootste party in KwaZulu-Natal is, het hulle die grootste winste getoon.

Gegewe dat die IVP sowel as die DA netjiese groei in die provinsie getoon het, is dit duidelik dat die EFF sy stemme afgeneem het by die ANC.

Die EFF het in alle provinsies gegroei, maar vergelykenderwys veel minder in provinsies soos Noordwes en Limpopo, waar hulle reeds in 2014 en 2016 se verkiesings goed gevaar het en trouens reeds sedert 2014 die tweede grootste party en die amptelike opposisie in albei provinsiale wetgewers was.

Die verkiesingsuitslae is Saterdag (11 Maart 2019) amptelik deur die OVK by die uitslagsentrum in Pretoria aangekondig. (Foto: Twitter via @SAgovnews)

Dit het reeds vrae by politieke ontleders laat ontstaan dat die EFF se huidige beleid en ingesteldheid dalk mag beteken dat dié party ʼn plafon aan steun het in gebiede waar hy reeds gevestig is – dat die party dalk ná sy aanvanklike groei in 2014 en 2019 dit in sy huidige vorm moeilik mag vind om sy indrukwekkende groei vol te hou.

Die EFF is steeds die amptelike opposisie in Noordwes en Limpopo, hoewel die party se groei in sy hartland-gebiede soos Rustenburg en die res van die platinumgordel nie noemenswaardig was nie en vir die party tot relatiewe teleurstelling is.

Die EFF het wel heelwat gegroei en is dus nou die amptelike opposisie in ʼn bykomende provinsie, naamlik Mpumalanga, waar hy die DA net-net verby gesteek het te midde van die DA se verlies aan steun aan die VF+ en die party in blou se onvermoë om swart steun in die provinsie betekenisvol te laat toeneem, al was omtrent hul hele verkiesingsveldtog daarop afgestem.

Die Mpumalanga-uitslag is ʼn pluim in die hoed van die EFF se onderleier, Floyd Shivambu, wat die veldtog in daardie provinsie gelei het.

Die EFF se stemme in Mpumalanga het toegeneem van 83 000 in 2014 na 155 000 vanjaar, wat beteken sy aandeel in die provinsiale stem het weens ʼn laer algemene stempersentasie meer as verdubbel van 6,3% na 12,8%, en sy setels in die wetgewer van Mpumalanga het verdubbel van twee na vier.

Die ANC het 22 setels, die DA 3 en die VF+ 1.

Die EFF se Floyd Shivambu arriveer by die Moses Kotane Primary School in Roodepoort. (Foto: Twitter via @SAgovnews)

Gauteng bly die EFF se grootste bron van stemme wat werklike getalle betref, en die party het sterk groei in townships in veral Pretoria se Tshwane-metro en die Ekurhuleni-metro aan die Oos-Rand getoon.

Met die aanvanklike invloei van Gautengse uitslae Woensdagaand en Donderdagoggend was daar trouens groot opgewondenheid onder die EFF-leierskap dat hulle in samewerking met opposisiepartye die ANC sou kon onttroon in Gauteng – wat ʼn heeltemal ander gevoel aan die uiteindelike verkiesingsuitslae sou gee.

Die EFF-leierskap het trouens op daardie stadium in ʼn belangwekkende wending sterk seine aan die DA-leierskap gestuur dat hulle onder geen omstandighede met die ANC sou saamwerk nie en bereid was om die soort samewerking wat hulle met partye soos die DA, VF Plus, IVP en UDM in Johannesburg en Tshwane het, uitgebrei kon word tot die Gautengse provinsiale regering.

Eweneens was die EFF se groei en die onvermoë van die ander opposisiepartye om op noemenswaardige skaal steun van die ANC weg te trek in die townships – sowel as pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid onder sommige opposisiekiesers van veral die DA in Gauteng – net-net genoeg om die ANC ʼn volstrekte meerderheid van 50,1% te gee – die party se swakste vertoning nog in die land se ekonomiese kern.

Uiteindelik het die ANC in Gauteng teruggesak van 53,6% in 2014 na 50,1% vanjaar. Die DA kon nie hierop kapitaliseer nie en het self teruggesak van 30,8% vyf jaar gelede na 27,5% vanjaar. Die EFF het skerp gegroei van 10,3% na 14,7%, maar sy potensiële vennote teen die ANC se groei was nie genoegsaam nie – die IVP het toegeneem van 0,8% na 0,9% en die VF Plus wat sterk groei van 0,8% na 3,6% van die provinsiale stem in Gauteng getoon het.

Die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria was Woensdagaand ʼn bynes van bedrywighede terwyl stemme getel word. (Foto: ANA)

Die EFF het ten spyte van sy sterk groei steeds in baie min stemdistrikte landswyd die meeste stemme getrek. Hoewel hulle op baie plekke tweede was, het hulle dus nog nie ʼn hartland waar hulle ʼn werklik reusagtige en dominante reservoir stemme kan opbou nie.

Een provinsie waar die EFF maar bly sukkel, is die Wes-Kaap. In die DA se hartland het die EFF nie ʼn sterk verkiesingsveldtog gevoer nie, en in baie dorpe – asook groot dele van Kaapstad – was daar geen EFF-plakkate te sien nie.

Min van die party se leiers was gereeld in die Wes-Kaap te sien, met die enkele uitsondering van een groot saamtrek in die brandarm Kaapse township Philippi.

Die EFF het dus beskeie groei in die Wes-Kaap getoon – van 45 000 stemme (2%) in 2014 na 83 000 stemme (4%) vanjaar. Hierin is hulle aangehelp daardeur dat die ANC vanjaar sy Wes-Kaapse veldtog grootliks op bruin en by name Moslem-kiesers gefokus het, wat die speelveld onder Xhosasprekende Wes-Kapenaars oopgelaat het vir gevolglike groei deur die EFF en in ʼn mindere mate die DA.

Op die keper beskou het die EFF se toename tot 11% van die nasionale kiesersteun beteken dat die party ‘n baie goeie, hoewel oneweredige uitslag gehad het – maar nie die algehele kragtoer om hulle tot by 15% steun te neem waarop hulle gehoop het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Pieter du plessis ·

Die rede hiervoor is die lae vlak van opvoeding en ledigheid wat heers in Suid afrika, son of the soil raak enige nonsens kwyt en hulle glo hom .Dit is jammer hy kon nie n provinsie wen nie want na al sy beloftes sou sy ondersteuners hom gebrand het.

Heinrich ·

Ek stem saam Pieter. Die kommunistiese grondslag hulle beleid sal baie meer byval vind by die ongeskoolde en werklose mense wat nie die inligting intelligent kan verwerk nie; hulle sal nie kan insien dat die beloftes van ‘n staat wat vir almal sorg wat nie kan of wil werk nie nie haalbaar is nie. Daar is soveel voorbeelde wêreldwyd van hierdie benadering wat lande gebreek het; maar vir die ongeskooldes wat honger gaan slaap is ‘n werk deur die staat geborg (maak nie saak of jy intellektueel in staat is om dit te doen of nie) ‘n soete belofte om voor te stem.

Ellisras ·

Die EFF is ‘n party met ‘n fondament van HAAT. Hulle haat Indiërs, Blankes, Kleurlinge. Hulle haat die ANC. Daar is niks opbouend aan die EFF nie, hulle is net teen alles.

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Groei soos julle wil …die ANC tel nog steeds die stemme….
.
.

KrokodilBotha ·

Solank die VF+ sterker word. DA is afdraande van nou af. Groete van die Wes Kaap.

Jimmy ·

Dan word die Wes-Kaap weer ANC wêreld. Lekker man lekker Dink net hoe gaan die hospitale en skole verbeter.

Stebastiaan ·

Dit is wat gebeur as jy vir “almal” , gratis krag, water, grond ens belowe. Maar die vraag bly staan sal jy dit kan doen. En hoe gaan die ekonomie lyk met sulke bisarre regering????

Vra net ·

Wanneer gaan die grondseun nou die res van sy boetes aan Solidariteit betaal? Ek weet net van die eerste betaling.

HPV ·

Die eff se sukses kan toegeskryf word aan die media se bemarking en ondersteuning, selfs toe dit ‘n klein nikseggende partytjie was het malema deur sy opswepende uitsprake uitstekende media blootstelling gekry. Sou die media, die eff steeds vir slegte of goeie redes, dieselfde dekking of blootstelling gee word hy verseker die volgende president.

Jacques le Roux ·

Ek kon dit geensins beter gestel het nie…wens so hy het n provinsie gewen!

Chris Ws ·

My brein se vir my van 4 tot 10 setels is persentasie gewys baie groter groei as van 25 na 44 setels.Die VF+ se 150% groei is beslis meer as EFF se 76% groei.Graad 2 rekeningkunde!
Dat die ANC en DA heelwat stemme verloor het is insiggewend.Beide VF+ en EFF het by hulle stemme gevat.Dis net jammer te veel blankes weet nog nie die DA is die ANC lite nie!

Gerhard ·

Daar word met woorde gespeel sodat dit klink of die EFF beter groei al weet almal groei word gemeet persentasiepunte.

Cherokee ·

Wanneer in ag geneem word die bron waaruit die EFF stemme geput het, vergeleke met die die VF+ wat uit die wit bron wat in ‘n minus groei is plus ‘n moontlike klein hoeveelheid bruin bevolking stemme, is die EFF se groei nie so indrukwekkend soos met die eerste oogopslag nie. Wanneer ‘n gewigopteller wat 90 ks weeg, 90 kilos bo sy kop uitstoot, maak dit meer indruk as wanneer ‘n 120 kilo kragman 110 kilos lig.

Jimmy ·

Bruines wat saam met regses stem vir wit politici? Jy maak seker ‘n grap. Sal regses die VF+ steun indien Peter Marais leier word? Reg, ek dink nie so nie.

kolla ·

Hoeveel ekstra stemme het VF+ gekry in vergelyking met EFF?

JohanL ·

Ek is nou nie ‘n politieke kenner nie – erken dit ruiterlik. Lees maar alles en probeer op hoogte bly. Maar ek wonder in hoe ‘n mate het die EFF ‘n plafon geslaan? In die huidige klimaat van ANC wat nie hul beloftes gestand hou nie, korrupsie, leuens, anti-wit narratief het ek gedink (en was bang) die “toestand” was perfek vir die EFF om baie stemme te trek (goed hoofsaaklik uit swart geledere). Alhoewel hulle gegroei het, het hulle nie by hul mikpunt van 15% uitgekom nie. Sal hulle ooit by 15% uitkom?

Ek glo die pad vorentoe wat Ramaphosa (en die ANC) gaan loop, gaan seker ‘n rol speel in hoe ‘n mate die ANC (swart) stemme gaan terugvat vanaf EFF en dus ‘n impak gaan he op EFF se groei.

Net soos die DA ‘n plafon getref het, wonder ek oor die EFF. Dalk het hulle (gelukkig) ook ‘n plafon getref.

Dit los egter nie die land se probleem van ‘n korrupte, magbehepte ANC op nie. Tyd dat daar ‘n nuwe politieke party op die horison verskyn of tyd dat die ANC skeur?

ALTA ·

Aangesien een van die EFF “grootkoppe” dubbelstemming aanmoedig, wonder ek oor die “prestasie” van die EFF. Wie het almal 2 of meer keer gestem? Ek sien rooi!!!!

Gerhard ·

Die EFF het geen plafon nie, anders as die DA wat dit reeds bereik het. Dit is omrede dit iets vir iemand probeer wees anders as die DA wat eintlik niks vir niemand is nie.

Andre ·

Die VF se persentasiegroei pla net die DA ondersteuners ,dis nogal oplettend dat die ANC en EFF ondersteuners dit aanvaar.Wat sal die rede wees vir hierdie verskynsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.