Effense verligting vir motoriste aangekondig

Argieffoto (Foto; andreas160578/Pixabay)

Enoch Godongwana, die minister van finansies, het Donderdagmiddag ʼn effense verligting vir motoriste aangekondig.

Hy het ʼn tydelike opskorting in die algemene brandstofheffing vir twee maande aangekondig.

Hy sê dit is deel van die regering se ingrypings om verbruikers te beskerm teen rekordhoë brandstofpryse.

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag versoek dat die brandstofheffing vir minstens ses maande opgeskort moet word. Lede van die parlement het aanbevelings van verskeie organisasies in die bedryf oorweeg.

Godongwana het gesê die rekordhoë brandstofpryse word toegeskryf aan die verhoogde olieprys weens die konflik tussen Rusland en Oekraïne.

“Omvattende gesprekke is gehou tussen die nasionale tesourie en die departement van minerale hulpbronne en energie om korttermyn verligting vir verbruikers te verseker en brandstofpryse oor die medium termyn te verlaag.”

Daar is ooreengekom op ʼn “twee fase”-benadering, wat begin met ʼn onmiddellike ingryping vir die volgende twee maande en ʼn rits maatreëls om pryse te verlaag wanneer die tydelike maatreëls ná twee maande verstryk.

Godongwana het voorgestel dat die algemene brandstofheffing tydelik met R1,50 per liter verminder word vanaf Woensdag 6 April 2022 tot Dinsdag 31 Mei 2022. Dit beteken die algemene brandstofheffing vir petrol daal van R3,85 per liter tot R2,35 per liter.

Die algemene brandstofheffing vir diesel daal van R3,70 per liter tot R2,20 per liter vir twee maande.

Dié bedrae sluit ander heffings soos die Padongelukkefondsheffing en die koolstofheffing uit.

Na raming sal die gedeeltelike vermindering in die brandstofheffing beteken dat die regering belastinginkomste van sowat R6 miljard verbeur vir die twee maande periode.

Die minister van minerale hulpbronne en energie het voorgestel dat die inkomste wat verbeur word, ingesamel word deur die verkope van ru-olie reserwes wat die Strategiese Brandstoffonds (ʼn filiaal van die Sentrale Energiefonds) hou. Die verkope moet minstens R6 miljard inbring.

Tydens die tweede fase, vanaf 1 Junie 2022, word ʼn vermindering in die basiese brandstofprys van 3c per liter voorgestel, in lyn met aanbevelings van ʼn hersiening deur die departement van minerale hulpbronne; asook die opskorting van die DSML-heffing van 10c per liter op 95-oktaan ongelode petrol wat in die binneland verkoop word; en die instelling van ʼn boperk op 93-oktaan petrol, ná ʼn vorige voorstel deur die departement. Dit beteken handelaars sal brandstof kan verkoop teen ʼn goedkoper prys as die gereguleerde prys. Die opskorting van die praktyk deur die departement om riglyne oor dieselpryse te publiseer om groter mededinging aan te moedig, word ook voorgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lourens CFG ·

Ai, kon hulle nie vroër gesê het nie?
Ons het gister ons laaste paar randjies bymekaar geskraap en diesel en gas opgevul vir die moontlike R3/L wat beplan was, en gereken dat ons nie naby die vulstasie gaan kan kom oor die naweek nie.
Eish.
Ag wat, nou té laat.

Wakkerslaper ·

Ag asse-flippen-blief! Regtig? Net soos die terroriste staat waarin ons moet leef… ‘n absolute grap!

Jaco ·

As SA so min of meer kant kies vir Rusland in die Rusland-Oekraïne konflik, dan kan SA mos aanhou om goedkoper olie direk van Rusland af in te voer. Waarom is ons petrol ook veel duurder as ons regering dan pro-Rusland is? Iets maak regtig nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.