‘Egoli’-skepper Franz Marx oorlede

Franz Marx.

Franz Marx, skepper van Egoli en Agter elke man is Sondag in die ouderdom van 79 dood.

Volgens die fliekresensent en skrywer Leon van Nierop is Marx dood aan die nagevolge van Covid-19 wat hy vroeër opgedoen het. Sy seun, Franz, was by hom toe hy om 09:45 vanoggend oorlede is, het Van Nierop gesê.

Marx was die skepper van die eerste daaglikse sepie Egoli: Plek van goud, waarna televisiereekse soos Agter elke man en Skooldae gevolg het.

Marx was ook regisseur, boekskrywer en draaiboekskrywer. Hy het aanvanklik sy loopbaan as akteur in rolprente soos Jy is my liefling begin. “As akteur was hy dikwels bekend vir sy humor op stelle, en Franz het erken dat hy regisseurs dikwels op stelle dopgehou het oor wat hulle doen, maar ook wat hy nie moes doen nie,” het Van Nierop gesê.

Marx se debuut-spanningsroman, Spieëlbeeld, is einde 2017 bekend gestel.

Lizz Meiring het Marx as ʼn baanbreker beskryf. “Franz was ʼn man van ongelooflike visie, waagmoed en geniale talent. Hy was ʼn baie openhartige en eerlike man wat geweldig omgegee het vir ons ouer akteurs. Bowenal was Franz ʼn ongelooflike storiemaker.”

Volgens Van Nierop was Marx groter as die lewe self. “Sy persoonlikheid, die wyse waarop hy kritiek gelewer het, sy skrywerstalent, sy skeppingsvaardighede, wat hy alles in die buiteland van sepies geleer het, en die wyse waarop hy met jou (as skrywer) gewerk en hoe hy ingegryp het indien dinge op die Egoli-stel nie na wense verloop het nie, was merkwaardig.

“Wat ʼn verlies! Maar hiermee net eers ʼn erkenning aan Franz as die onbetwiste en hoogs gerespekteerde koning van sepies. Vele mense wat vandag nog sepies skryf, het by hom geleer. ʼn Grote is weg.”

Die sanger Steve Hofmeyr, wat die rol van Bruce Beyers in Agter elke man, vertolk het, het ook hulde aan Marx gebring. “Diep geskok oor die heengaan van my vriend en mentor, Franz Marx. Verskillende generasies sal verskillende bydraes van hom onthou. Hy het onder andere sepies na Afrika gebring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Blikke ·

Rus in vrede Franz Marx….jou afsterwe maak nog n hoofstuk toe…ek onthou hoe jy in Potch my grootouers se Buurman was….ek was dalk nog te klein maar ek gun jou die ewige lewe en welverdiende rus!!!

Barney ·

Nou kan die lokale kuns wêreld aanbeweeg. Daai ou het ń wurg hand rondom elke akteur se nek gehaad. Niemand kon draai sonder dat hy ingemeng het nie. Uiteindelik kan baie nuwe jong kunstenaars nou ook ń kans kry.

Wielspore ·

Franz Marx het was die eerste persoon in SA wat ‘n sepie uit sy hand op TV gesit het. Egoli is amper net so suksesvol soos die ontdekking van goud (Egoli-Plek van goud) in SA. Jare gelede was my ouers vasgenaal voor die TV om na Egoli te kyk, later is ek self getroud en my vrou en kinders het ook die geskiedenis herhaal (ja ek seker ook). Later was daar die Egoli skouspel, onder meer hier in Nelspruit, die mense het in hulle duisende opgedaag om die sterre te ontmoet.
Sterkte aan Franz se vriende en familie.

Boon ·

Afrikaans het ‘n pilaar verloor. ons ia baie armer. RIV Frans, jy het jou deel en meer gedoen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.