Egpaar in hegtenis ná jong pa se dood

Connlan Hibbert is op 27 Februarie dood in ’n kamer by die Kliplokaal-gastehuis in Kraaifontein aangetref. (Foto: Facebook)

Die eienaars van die Kliplokaal-gastehuis in Klipheuwel naby Kraaifontein, is verlede week in verband met die dood van ’n jong pa by dié Wes-Kaapse gastehuis in hegtenis geneem.

Mario (42) en Louise (39) Gerber het Donderdag op aanklag van moord in die landdroshof in Blue Downs verskyn nadat Connlan Hibbert (27), ’n jong pa van Kaapstad, op 27 Februarie dood in ’n kamer by die gastehuis aangetref is. Die Gerbers is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê Hibbert was na bewering die dag voor sy dood in ʼn onderonsie by die gastehuis betrokke. Dit is nie duidelik waaroor die geskil gegaan het nie.

“ʼn Dossier vir ʼn geregtelike doodsondersoek is aanvanklik geregistreer. ʼn Nadoodse ondersoek het egter die moontlikheid van vuilspel onthul waarna die dossier na moord verander is.”

Traut sê die ondersoek duur steeds voort.

ʼn Facebook-blad, Justice for Connlan, is sedert die voorval begin. Menige mense het hulle skok en ongeloof oor sy dood sowel as die inhegtenisneming van die Gerber-egpaar uitgespreek.

Mario en Louise Gerber is in verband met Connlan Hibbert se dood in hegtenis geneem. (Foto: Facebook)

Hibbert, die pa van ʼn jong seun, word op dié Facebook-blad as ʼn “pragtige siel” beskryf wat ontydig dood is.

“Ek verstaan die skok en ongeloof. Ek het persoonlik van albei die beskuldigdes gehou. Soveel so dat ek die gastehuis vir my 60ste verjaardagpartytjie bespreek en vooruit betaal het. Ons kan eenvoudig nie bespiegel wat gebeur het nie. Al wat ons vir seker weet, is dat ons kosbare Connlan sy lewe verloor het,” het die administrateur van die blad in ʼn inskrywing gesê.

“My hart gaan uit na Connlan se familie en veral sy seun wat nou sonder ʼn pappa moet grootword. Geregtigheid sal seëvier. Maar nie een van ons was daar om te weet presies wat gebeur het nie, en om te bespiegel maak dinge nie beter nie. Ek wil ook net sê ons moet onthou dat Mario en Louise ook twee kinders het wat nou gaan swaar trek,” het ʼn ander gebruiker geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Genis ·

1000 rand borgtog vir Moord? Lees ek reg, of het my bril op gewasem van skok?

Perdeby ·

Vermoedelik vuilspel……… Hulle kyk na baie aspekte voor hulle borg gee….. adres, werksplek, paspoort

Johannes_64 ·

Borgtog is nie deel van die straf nie, dit word bepaal deur aspekte soos, vaste adres, werk, vlug risiko ens. Al wanneer borg bedrag baie hoog sal wees is as daar ‘n politieke spel gespeel word of die risiko is hoog.

E ·

Jan publiek is op groot risiko dat hierdie mense dieslefde aan een van ons kan doen. Of moet ons maar net vermy vermy vermy speel?

Retha ·

ek is net so geskok! mens se lewe is niks meer werd in hierdie land nie!

Pieter9 ·

Bose wereld!… Doodstraf sal werk… moet nie die sogenaamnde studies glo wat die ‘teendeel’ probeer bewys nie.

Perdeby ·

Is hulle al skuldig bevind dat jy sommer se doodstraf?????

Johann ·

So dis wat die “regs stelsel” ‘n lewe werd ag…R1000 elk vir borg?

Louisepretorius ·

Dit is swak behandeling van die eienaars. Gaste Kom eerste

Richardt ·

Daar is ‘n vermoede dat daar vuilspel kon wees…
Dit is nie ‘n feit nie en moet bewys word in ‘n hof …
Daar is dus nog nie ‘n moord bewys nie…
Daar is dus nog nie ‘n moord gepleeg nie…
Daar is dus nog nie ‘n moordenaar of moordenaars nie…
En as dit ‘n moord was, is daar nog geen bewys van wie dit gepleeg het nie…
Miskien tyd om te leer hoe die reg werk en hoe ‘n beskuldigde nie noodwendig reeds skuldig is nie…
Met al die liegstories wat deesdae die reël is ipv die uitsondering, sou ek wag vir bewyse sonder ‘n sweem van twyfel, voordat ek iemand veroordeel…
En julle?

Richardt ·

Net vir die vermaaklikheidswaarde daarvan, sou ek dit waardeer as die “afkeur-gesiggie” sy/haar hogere denke motiveer, deur relevante kritiek te lewer op die inset wat sy/haar weersin verwek het…

RB ·

Richardt, ek reken ‘n groot rede tot ontsteltenis is die totale lukraak wyse waarop borgtog bepaal en toegestaan word.
Kan die rede moontlik ‘n gebrek aan riglyne wees?
Of is dit eenvoudig geen agting vir die reg of dalk gebrek aan kennis van die reg en bietjie insig?

Hier is gou voorbeelde wat jy kan vergelyk:
1. Hierdie 2 wat moontlik verdink kan word van moord borg van R1000 elk. Nog geen bewyse.
2. Van der Merwe egpaar moontlik verdink van ‘n moordlys borg van R5000 elk. Nog geen bewyse.
3. Simpson van Dundee na màànde borg van R10000 met geen bewyse van moord. Video lyk wel na selfverdediging

piet ·

Jy kan nie die die borgbedrag van een persoon met ‘n ander vergelyk nie want elke persoon se persoonlike omstandighede is verskillend en elke saak se omstandighede verskil, ens. Dit sou byvoorbeeld sinneloos wees om borgtog van R100 000 vir ‘n boemelaar toe te staan maar in dieselfde omstandighede mag dit dalk die bedrag wees vir ‘n ryk persoon.

Richardt ·

RB, Daar is niks fout met wat jy sê nie.
Let egter op dat ons ou volkie weier om hul oë op te slaan en die pienk olifant teen die plafon te sien…
Jou voorbeeld bewys dat daar vesrkillende reëls vir verskillende mense is en ook verskillende afskrikkingsmetodiek vir diegene wat teen die amptelike narratief staan of optree.

Richardt ·

1. Die 2 bogenoemde verdagtes en hul beweerde slagoffer, van die selfde groep en geen politieke verband sigbaar nie,
2. Die Van der Merwes ook blykbaar met beweerde potensiële slagoffers uit dieselfde groep, maar hulle beveg die amptelike Covid narratief. Dus politieke vyande?
3. Simpson van Dundee het homself sonder twyfel beskerm teen potensiële dodelike aanvallers. Maar hy is van die verkeerde groep en sy beweerde slagoffer van die uitverkore groep. Daarom word hy ‘geref’ van alle kante af, ten spyte van sy hoë ouderdom en die video bewyse dat hy onskuldig is.
Kyk nou hoe kerm die goeie volksgenote omdat iemand die pienk olifant teen die plafon bespreek het!

james ·

“nie nodig om te leer hoe die reg werk nie” die reg werk so…. alle onnatuurlike sterftes is onderhewig aan ‘n nadoodse geregtelike ondersoek. Dit is wel bekend dat ons die Romeins, Hollandse regstelsel het en dus onskuldig is totdat jy bo redelike twyfel deur ‘n hof skuldig bevind word. Dit is algemene praktyk dat SAPD ‘n dossier open en moet ‘n klagte formuleer word, DUS moes daar bewysse wees dat ‘n klagte van “moord” geopen is anders sou dit strafbare manslag gewees het. Hierdie bewysse kan wees die bevinding van nadoodse ondersoek, konkrete bewysse of getuienis. Daar moet ook in gedagte gehou word dat “moord” met voorbedagte rade gepleeg word.

Jedi Knight ·

Wel……ek is bly ek is nie Mario Gerber nie. Klink asof die ou mooi sal moet verduidelik hoekom daar n dooie gas in sy gastehuis is.

Porseleintjie ·

Vermoede lees ek. Dus nog nie skuldig bevind nie maar ons lesers het al die doodstraf uitgedeel?? En mense, almal wat nou al reeds op hierdie gravy trein spring, onthou tog net dat dit dieselfde regstelsel is wat ons boere faal. Kan dit dalk wees dat dit nou ‘n vermoede is omdat dit blankes is? Wag en kyk voordat jy jou vinger uitsteek.

piet ·

Nee, dis ‘n vermoede omdat die nadoodse ondersoek gewys het daar is iets nie lekkers nie. Niks met wit, swart geel of pienk te doen nie.

Pannies ·

Dit sou gehelp het as die berig onthul het wat die oorsaak van dood was en hoekom daar vuilspel vermoed word.

piet ·

Hierdie is vir my ‘n vreemde storie. Hoekom sou gastehuis-eienaars een van hul eie gaste vermoor? Dalk het iemand se kop uitgehaak toe daar rusie gemaak is…..

Roebs ·

R1000 moes eerder R100 000 gewees het. Dis tyd dat ons regwette herskryf word en swaarder strawwe aangebring word. Moord gee borgtog.

Mariaan ·

Mense het net GEEN beheer meer oor hul woede nie…wat het van dalk n klap geword…nee ..sommer moord! Swak voorbeeld vir jul kinders…en nou?? Wat is nou eintlk bereik behalwe verdriet!! Mag ons hieruit leer…leef sag…leef met geduld!!

Nico ·

Vra maar net? is hierdie moord saak behoorlik ondersoek, kyk, hoe word moordsaak hierdie ondresoek, daar is altyd ‘n bespiegeling aan sulk e sake gekoppel, kry die regte mense om sulke sake te ondersoek, die ondersoek beamptes moet hulle werk behoorlik doen en nie staan op vermoedens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.