Egpaar op plaas buite Bapsfontein aangeval

‘n Bloedspoor op die toneel. (Foto: Verskaf)

’n Egpaar is Donderdag in die vroeë oggendure op hul plaas in die omgewing van Bapsfontein in Gauteng aangeval. Die man is tydens die aanval met ’n panga oor die kop geslaan terwyl sy vrou vasgebind en seksueel aangerand is.

Dié aanval is die tweede van sy soort op die egpaar binne twee jaar en volg maande ná die moord op Adam Hefer (87) en Johanna Oosthuizen (84) in die omgewing van Bapsfontein.

Llewellyn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, het vanoggend aan Maroela Media gesê die man het omstreeks 01:30 buite gesit na musiek en luister toe drie aanvallers hom oorval en met ’n panga oor die kop geslaan het.

Sy vrou was in daardie stadium in die huis en het ’n geraas gehoor. Sy het aanvanklik vermoed dat haar man ’n aksiefliek kyk en wou hom aansê om die klank sagter te stel toe sy haar teen die drie aanvallers vasloop.

Die aanvallers het die vrou terug in die huis gedwing, vasgebind en die huis geplunder.

Die vrou se hande ná sy vasgebind is. Foto: Verskaf)

Die vrou is glo deur een van die aanvallers seksueel aangerand.

Die boosdoeners het daarna ’n sak oor haar kop getrek en die vrou, saam met skape en verskeie ander items wat hulle gebuit het, in die egpaar se bakkie gedwing.

Haar man is alleen en bebloed by die huis agtergelaat en het later sy bewussyn verloor.

Die aanvallers het met die vrou na ’n informele skuiling in die omgewing gery waar hulle die gesteelde items en skape gelaat het. Die aanvallers het die vrou terug na die plaas geneem en beveel om self huis toe te ry.

Die aanvallers het te voet gevlug.

Volgens Hemmens het die man in dié stadium weer sy bewussyn herwin en na die plaaswerkers se huis gegaan om hulp te ontbied. Die plaaslike buurtwag was in dié stadium reeds ontbied en het dadelik ’n soektog na die aanvallers van stapel gestuur.

Die gesteelde skape is in ‘n skuiling gevind. (Foto: Verskaf)

Die gesteelde skape en items is tydens ’n soektog by die skuiling gevind. Een verdagte is daar in hegtenis geneem terwyl daar nog na sy twee makkers gesoek word.

Die man is intussen in ’n private hospitaal in Pretoria opgeneem. Die vrou sal na verwagting ook later vandag mediese sorg ontvang terwyl AfriForum reeds in die proses is om traumaberading aan die egpaar te verskaf.

Hemmens sê die omgewing van Bapsfontein word geteister deur uiters gewelddadige voorvalle van misdaad.

Maroela Media het vroeër berig Hefer en Oosthuizen, beter bekend as oom Tas en tannie Duifie, is in Februarie eers ure lank op hul kleinhoewe gemartel, voordat hulle geskiet is en hul huis aan die brand gesteek is. Albei het onherkenbaar verbrand.

Maroela Media het vanoggend ’n navraag aan die polisie gestuur rakende die jongste aanval en wag op terugvoer.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Die oom en tannie was by hulle eie huis gewees toe hulle aangeval is!

Jakes ·

Sukkel ietwat om die kloutjie by die oor te kry. N man wat 01h30 in die oggend buite sit en TV kyk?

Deon ·

Baie traumaties, alle sterkte aan die slagoffers… Dit lyk vir my asof die boosdoeners gevang wou word, en dit maak geen sin

isabelle ·

nerens veilig nie in jou eie erf nie nie agter tralies nie nie by jou werk nie altyd paraat wees en geen rus DIS SUID AFRIKA :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.