Seun probeer sin maak van bejaardes se moorde

Die Bybel wat behoue gebly het (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Niks maak sin nie. Ek is volslae verward.”

Só vertel Alec Hefer (40) wie se bejaarde pa, Adam Hefer (87), en sy vriendin, Johanna Oosthuizen (84), op ’n kleinhoewe in die Bapsfontein-omgewing vermoor is. Hy het die kleinhoewe weer besoek om van hul wreedaardige moorde te probeer sin maak.

Die bejaardes se huis op die kleinhoewe in die Welbekend-omgewing lê nou gedeeltelik in puin nadat dit verlede Vrydag, die aand van hul moorde, aan die brand gesteek is. Omdat die huis amper heeltemal afgebrand het, is dit moeilik om al die legkaartstukkies van die moorde bymekaar te sit. Al die moontlike bewyse wat die polisie na die skuldiges kon lei, is saam met die huis en meubels tot as verbrand.

Die enigste item wat behoue gebly het, is die Bybel wat tussen die bejaardes se liggame gevind is. Van die skrifverse kan steeds deur die swart roet op die papier uitgemaak word. Dit terwyl die bejaardes se liggame onherkenbaar verbrand het.

Tas Hefer (87) en Duifie Oosthuizen (84) (Foto: Verskaf)

Dit is egter nie duidelik hoe die Bybel tussen die bejaardes se liggame beland het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Adam en Oosthuizen, beter bekend as oom Tas en tannie Duifie, Vrydag omstreeks 20:00 op die kleinhoewe oorrompel en vir ure lank gemartel is. Voorlopige ondersoek dui daarop dat hulle moontlik eers geskiet is voordat hul huis aan die brand gesteek is. Twee koeëldoppies is in die afgebrande huis gevind.

Oosthuizen se bra met ’n koeëlgat is ook in die puin gevind – wat daarop dui dat sy moontlik in die bors geskiet is. Dit is nog nie duidelik waar Adam geskiet is nie omdat hul liggame so erg verbrand het.

’n Bloedspoor wat van buite die huis na die slaapkamer loop, het aanvanklik vir die polisie ʼn aanduiding gegee van die gebeure wat hier afgespeel het tydens die laaste minute van die egpaar se lewe. Die bejaardes se liggame is in die slaapkamer oorkant mekaar gevind, die Bybel tussen hulle. Plasse bloed, hare en naels is ook langs die swembad gevind.

Alec vertel hoe geskok hy was toe hy van sy pa-hul se moorde uitgevind het (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Alec sê hy vermoed Johanna het buitekant langs die swembad in ʼn struweling met die aanvallers betrokke geraak. Hy vermoed dat sy pa moontlik op die rusbank in die sitkamer vermoor is.

“My pa het altyd op dié bank geslaap. Ek vermoed hulle het hom op die bank vermoor, want hy kon nie net opspring nie omdat hy al so verswak was,” vertel Alec. “Wat vir my vreemd was, is hoe net die bank in daardie kamer verbrand is, terwyl die res van die kamer en meubels slegs met roet bevlek is.”

Die rusbank waarop sy pa altyd geslaap het (Foto: Verskaf)

Llewellyn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, sê volgens die inligting tot hul beskikking het die aanvallers ’n verwarmer aangeskakel en materiaal – vermoedelik gordyne – op die verwarmer geplaas. Hulle het toe ook ’n gasbottel oopgemaak wat vermoedelik die brand veroorsaak het.

Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê ’n plaaslike veiligheidswag het die polisie Saterdag in die vroeë oggendure ontbied toe hulle patrollie gery en die brandende huis opgemerk het. Die brand was groot en brandbestryders is ontbied, waarna die paar se liggame gevind is.

Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem in verband met die moorde nie.

Alec hou sy pa se kierie vas wat hy kon red (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Alec sê hy probeer om sy eie afleidings oor die moorde te maak omdat niks met sekerheid bevestig kan word nie.

“Alles is onseker en deurmekaar.”

Dit is in hierdie stadium nie duidelik hoeveel verdagtes by die aanval betrokke was nie, wat gesteel was en hoe hulle toegang tot die huis gekry het nie.

Hierdie was die derde keer in ʼn paar maande se tyd wat dié paar op hul kleinhoewe geteiken is.

Verdagtes het in Desember die paar se huis betree en hulle van ’n vuurwapen, R9 000 se kontant, ’n selfoon en televisiestel beroof. Hulle het ten tyde van die rooftog geslaap en het ongedeerd daarvan afgekom. ʼn Paar weke voor dié rooftog het verdagtes ook die tweede huis op hul erf gevandaliseer. Die bejaardes se voormalige versorger, Cornelia Morisson, het vir sowat drie jaar in hierdie huis op die erf gewoon. Die huis is die afgelope ruk leeggestaan.

Alec het die oggend na sy pa-hul se aanval ’n oproep van Morisson ontvang. Hy was besig om vis te vang.

“Cornelia het my net gebel en gesê en moet dadelik kleinhoewe toe kom. Sy het net gesê my pa is dood en hier is baie polisie. Ek het dadelik besef wat aangaan. Ek het gevries en heeltemal verlam gevoel.

“Toe ek daar aankom was die toneel nog vars. Die reuk van bloed het my oorweldig. Ek het nog van my pa-hul se oorskot tussen die as opgetel. Die brand was geblus, maar dit het nog in die puin gesmeul. Die mure was vuurwarm.”

Wally, ’n ouerige Jack Russell-reun, is wees gelaat ná sy eienaars op ‘n kleinhoewe vermoor is. (Foto: Verskaf)

Buiten die Bybel kon Alec sy pa se kierie, waarsonder hy nie kon loop nie, en ’n skaapvelletjie wat oor sy rusbank geplaas was, red.

Die bejaardes se ouerige Jack Russel-reun, Wally, is ook wees gelaat na hul moorde. Hy was in die sorg van die skaaphondwelsynsorganisasie Border Collie Rescue, geplaas, maar het Donderdag ’n nuwe huis gekry. Dié vierpotige is nou gelukkig by sy nuwe eienaars in Kemptonpark.

“Wally het na die aanval in die huis ingekom en reguit slaapkamer toe gehardloop. Daar het hy toe op my pa-hul se liggame afgekom. Hy was erg getraumatiseerd en ek moes twee ure lank spook om hom te kalmeer.”

Alec vertel hulle het na dié kleinhoewe getrek toe hy vyf jaar oud was. Sy pa het 35 jaar lank op die kleinhoewe gewoon en by die Bapsfontein Roller-meule gewerk totdat hy 80 jaar oud was.

Die verwarmer wat die oorsaak van die brand was (Foto: Verskaf)

Johanna en Adam was jare gelede in ’n verhouding waarna hul paadjies geskei het. Hulle het jare later mekaar weer gevind en die liefde het sedertdien geblom. Hulle het die laaste jare saam op die kleinhoewe gebly.

Alec vertel sy pa kon na sy aftrede nie stilsit nie en het altyd ’n nuwe projek gevind waarmee hy homself besig gehou het.

“Alhoewel hy al swak was, sou jy hom douvoordag buite in die tuin kry, besig om die stoep te vee of ’n takie te verrig. Hy was ook ’n ou hardekwas en niemand moes vir hom voorskryf wat om te doen nie.”

Adam was die laaste paar jare baie verswak en kon nie meer dinge vir homself doen nie. Hy was ook omtrent heeltemal doof en kon ook nie meer mooi sien nie.

“Tannie Duifie was nog op en wakker en het die huishouding aan die gang gehou.”

Alec beskryf sy pa en Oosthuizen as liefdevolle mense met goeie harte.

“My pa het nie ’n enkele vyand gehad nie. Hy was die goedheid self en het positiwiteit op sy gesig uitgestraal. Hy sou sy laaste R10 vir iemand in nood gee.”

’n Roudiens vir die bejaardes is Donderdagoggend by die NG Kerk Welbekend gehou.

“Ek is nog so in skok oor alles. Ek het nie eers by my pa-hul se roudiens gehuil nie. Ek soek net antwoorde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alet ·

Ek hoop die polisie is net so ywerig om hierdie saak te ondersoek soos wat hulle is om die leeuboer te ondersoek.

Blomme ·

Wat is aan gebeur in hierdie eens pragtige land van ons? Sommige mense het voorwaar die instink van ń wrede dier.. Verdien hulle om aanspraak te maak op menseregte? Onskadelike bejaardes so te vermoor.. Sjoe!

Danie ·

Net ‘n regstelling asb.
Ammunisie is ‘n ronte of patroon.
En wanneer ‘n ronte afgevuur is bly ‘n doppie of ‘n punt oor.

Sune van Heerden ·

Dagsê Danie
Dankie dat jy ons hierop gewys het – dit was inderdaad ‘n fout.
Die artikel is gewysig
Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Andre ·

Hierdie is nie ʼn gewone plaas aanval nie. Hierdie is ʼn persoonlike aanval. As jy kyk na die inligting wat beskikbaar is, net die bybel sê vir my dit is gestage. Geen gewone plaas aanval sal ʼn bybel neem en tussen hulle sit. Sê maar net

Leeuwyfie ·

Die gedeelte wat mens nog kan lees kom uit Jeremia 27 en 28. Dis regtig ‘n bose land waarin ons woon. Sterkte aan die familie. Dis vreeslik hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.